Iets wat my telkens ietwat verbaas wanneer ek die werk van godsdienskritici soos Richard Dawkins en Daniel Dennet lees, is die ywer waarmee hulle die stelling verdedig dat “ook ateïste moreel kan wees”. Dit verbaas my, aangesien ek, as Christen, nog nooit daaraan getwyfel het (of aan enige rede kan dink om te twyfel) dat ateïste, of enige ander groep mense, morele oortuigings kan huldig of moreel kan optree nie. Daar is seker Christene wat dit betwyfel – wat dink die enigste rede wat ’n mens kan hê om die goeie te doen, is vrees vir God se straf – maar sulke Christene verstaan nie die evangelie nie. Verdien so ’n ondeurdagte posisie regtig die oormatige aandag wat ateïstiese skrywers daaraan bestee?
Daar is egter nog iets wat my van hierdie skrywers se aanpak verbaas: Hoewel ek saamstem dat “ook ateïste moreel kan wees”, vind ek die argument wat hulle ter verdediging van hierdie standpunt aanvoer ongeldig. Hierdie argument loop min of meer só: Die feit dat mense moreel is – dat hulle sekere dade, karaktereienskappe en stande van sake as goed of sleg, reg of verkeerd, verplig, verbode of toelaatbaar beoordeel – is nie ’n onverklaarbare misterie nie, maar iets wat heel gemaklik deur die wetenskap, en met name Darwinisties, verklaar kan word. So ’n verklaring vir die verskynsel moraliteit kom, eenvoudig gestel, daarop neer dat morele gesindhede en gedrag op die een of ander manier ’n oorlewing- en voortplantingsvoordeel inhou, wat dan beteken dat dit deur natuurlike seleksie geleidelik al hoe sterker inslag in die menslike spesie gevind het.
Die probleem met hierdie soort argument is nie dat dit as ’n verklaring van die verskynsel moraliteit misluk nie. Sover ek kan uitmaak, slaag dit heel goed. En al sou daar dimensies van moraliteit wees wat nog nie langs hierdie weg verklaar kan word nie, dan sou dit nie daaruit volg dat ’n mens na die een of ander bowêreldse verklaring moet gryp nie. Daar is baie dinge wat die wetenskap eers nie kon verklaar nie, maar later wel verklaar kon kry, en dit is ’n steeds voortgaande proses. Daarom voel ek my nie tuis in sekere Christene, soos Francis Collins, die hoof van die Amerikaanse menslikegenoom-projek, se argumente dat ’n verskynsel soos moraliteit nie ten volle biologies verklaar kan word nie. Selfs al sou hulle gelyk hê, sou dit nie noodwendig ’n “oorwinning” vir geloof wees nie.
Die probleem met ’n Darwinistiese bewys dat “ook ateïste moreel kan wees”, is dat, hoewel dit ’n verklaring vir moraliteit verskaf, daar geen réde uit volg hoekom ’n mens sou kies om moreel goed te probeer leef nie. Om ’n sekere soort gedrag te verklaar is iets ander as om ’n rede te gee hoekom sulke gedrag nastrewingswaardig is.
Dink maar aan bygeloof, byvoorbeeld die oortuiging dat astrologiese voorspellings betroubaar is: ’n Mens kan hierdie bygeloof op allerlei maniere verklaar – onder meer ook Darwinisties, met verwysing na hoe die verskynsel van bygeloof in die spesie homo sapiens ontwikkel het – maar geld dit dan as ’n rede om astrologie ernstig op te neem? Wat van geweldsmisdaad: sou ons ’n kriminologiese, sosiologiese of genetiese verklaring daarvan as ’n argument ter aanmoediging van misdadige gedrag beskou? Sekerlik nie!
Wat Dawkins, Dennet en kie moet aantoon (as hulle regtig energie daaraan wil bestee om iets vanselfsprekends te bewys), is nie dat moraliteit (of godsdiens of wetenskap of tennis) verklaar kan word nie, maar dat daar goeie redes is om moreel goed te probeer leef – ook vir mense wat nie glo in ’n God wat morele eise stel nie. Daar is sulke redes. Darwinistiese verklarings is nie een daarvan nie.
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Kerkbode verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment