“Lees jy die Bybel letterlik?” vra iemand my onlangs weer. Niemand kan op dié vraag “Ja” antwoord nie.
Selfs die fundamentalistiese Bybellesers verstaan tog nie Jesus se gelykenisse as feitelike weergawes van historiese gebeure nie? (Om te vra wanneer en waar die verlore seun geleef het, is om die verhaal mis te verstaan.) Wanneer God ons rots genoem word, lei ons nie daaruit af dat God uit minerale saamgestel is nie. Of, soos die filosoof Ludwig Wittgenstein verduidelik het: as ons van God se oog lees, dink ons nie aan wenkbroue nie.
Daar is ook letterlike gedeeltes in die Bybel – tekste waarin woorde op die gewone manier gebruik word. Dat Dawid koning was, of Salomo die tempel laat bou het, word deur die Bybelskrywers letterlik bedoel. Dis anders as om Jesus Koning te noem, of na die gelowiges as God se tempel te verwys.
Dan is daar die omstrede gevalle: Is Jona letterlik deur ’n groot vis ingesluk of het dié verhaal ’n simboliese betekenis? Was daar regtig iemand soos arme ou Job of moet ons die boek Job as ’n soort novelle oor menswees voor God lees? Was Maria biologies ’n maagd toe sy Jesus verwag het, of wil dié verhaal in ’n mitologiese toonaard iets oor Jesus se Goddelike oorsprong sê? Bedoel Jesus, wanneer Hy sê: “Dit is my liggaam … ”, dat die brood letterlik in sy lyf verander, of wil dit sê dat die opgestane Christus deur sy Gees by die gelowiges is wanneer hulle die brood tot sy gedagtenis deel?
Wanneer daar meningsverskil oor sulke Bybeltekste is, gaan dit nie altyd oor of dié tekste geglo kan word nie, maar dikwels oor wat die skrywers daarmee bedoel het. Die vraag is dan nie óf ons die teks moet glo nie, maar wát dit is waarop die teks aanspraak maak. Wie daarop aandring dat hierdie tekste by voorbaat letterlik verstaan moet word, sal ook Jesus se gelykenisse as historiese verslae moet lees en aanvaar dat God ooghare het. Die vraag of ’n Bybelgedeelte letterlik verstaan moet word, is ’n verstaansvraag, nie ’n geloofsvraag nie.
Nie net fundamentaliste vergeet soms dié onderskeid nie. Baie “liberale” Christene wat sukkel om te glo wat sekere tekste beweer, soek ’n uitweg deur sonder goeie gronde aan te voer dat dié tekste nooit letterlik bedoel was nie. ’n Voorbeeld is die getuienis oor die leë graf ná Jesus se opstanding. Dat mense daaraan twyfel, verras nie, maar dit beteken nie die evangeliste het dit nie letterlik bedóél nie.
Die einste “liberales” maak ook soms die teenoorgestelde “fundamentalistiese” fout: om figuurlike tekste letterlik te lees. Ek is byvoorbeeld glad nie so seker dat, soos dikwels beweer word, die ou Israeliete hul voorstelling van die doderyk “daaronder” en God se woonplek “daarbo” letterlik opgeneem het nie. Die letterlike lees berus dalk op blote aannames oor die naïwiteit van antieke samelewings.
Om iets figuurlik of metafories te noem is nie om die waarheid daarvan te bevraagteken nie. Dat God ons rots is, bly waar, al word “rots” figuurlik bedoel. Net so is ’n letterlik bedoelde teks nie noodwendig waar nie. Baie letterlike bewerings – soos die pre-Copernicaanse oortuiging dat die son om die aarde draai – is vals. Die vraag oor of ’n Bybelteks geglo kan word, kom eers ter sprake nádat vasgestel is of dit letterlik of figuurlik bedoel is.
Daar is nog verdere, moeiliker vrae – soos wat dit presies beteken om die Bybel te “glo”. En die teoloog Karl Barth se onthutsende retoriese vraag: “Wat is die belydenis van die gesag van die Skrif as sodanig anders as ’n leë uitroep van ‘Here! Here!’?”
Die artikel het oorspronklik in Die Kerkbode verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment