Kollega Clint le Bruyns vra onlangs aan ’n groep studente: Sal teoloë gemis word as hulle nié aan openbare gesprekke (byvoorbeeld oor politiek en ekonomie ) deelneem nie?
’n Mens sou dié vraag kan ontwyk deur te antwoord: dit hang af watter teoloë! Maar dit sou die dieperliggende vraag onbeantwoord laat: Het die kerk iets oor openbare kwessies te sê waarvan nie-kerklikes kennis moet neem? Kan Christene iets waardevols tot openbare debatte bydra?
’n Nog dieperliggender vraag: Hoekom sou die vraag of die kerk iets vir die samelewing te sê het, gestel word? Is die kerk nie deel van die samelewing nie? Het sy nie net soveel reg soos ander organisasies – byvoorbeeld vakbonde of professionele liggame – om aan die gesprek deel te neem nie?
Sommiges antwoord: Ja, Christene mag en moet aan die openbare lewe deelneem, maar nie ás Christene nie; vanuit hul geloofsvertrekpunte kan hulle niks sinvols bydra nie, want baie gespreksgenote deel nie daardie vertrekpunte nie. Simplisties gestel: “Die Bybel sê …” geld slegs as goeie argument vir mense wat gesag aan die Bybel toeken.
Dit roep ’n nóg fundamenteler vraag op: Is daar enige argumente of vertrekpunte hoegenaamd wat deur almal aanvaar word? Gestel Christene, Moslems en andere sou hul geloofsoortuigings by die deur los wanneer hulle aan ’n gesprek oor, byvoorbeeld, die ekonomie deelneem. Sou alle gespreksgenote dan eensklaps saamstem oor wat op ekonomiese gebied gedoen moet word?
Ekonome verskil met mekaar. Die rede is nie net dat hulle oor feite verskil nie, maar dat hulle verskillende teoretiese raamwerke gebruik om die feite te vertolk. Die keuse vir een raamwerk bo ’n ander berus weer op filosofiese, lewensbeskoulike aannames oor die werklikheid as sodanig. Daarby kom normatiewe aannames: dis nie net hóé ons ekonomiese ideale kan realiseer nie, maar ook watter ideale nastrewenswaardig is. Soos CS Lewis skryf: “This will preserve society” impliseer nie “Do this” sonder die premisse “Society ought to be preserved” nie.
Ekonome (en ander deskundiges) se argumente berus ook op partikuliere vertrekpunte – ook “religieuse” vertekpunte oor wat uiteindelik werklik en waardevol is – wat nie deur almal aanvaar word nie. Dat dit ook geloofsgemeenskappe geld, kan dus nie as rede dien hoekom hulle nie vanuit húl vertrekpunte ook sinvol tot openbare gesprekke kan bydra nie.
Bowendien kan die kerk (hopelik) uit ervaring praat, want as alternatiewe gemeenskap lééf die kerk reeds ’n alternatiewe ekonomie, ’n ander manier om middele en hulpbronne onderling te verdeel – gestempel deur die “Goddelike ekonomie”, ’n ekonomie van oorvloed, gee, deel en sorg waarin nie meriete nie, maar genade, koningkraai. Die bestaan van so ’n gemeenskap (vir sover dit bestaan) lewer getuienis, dien as bewys, dat (soos die alterglobaliseringsbeweging se slagspreuk lui) “’n ander wêreld moontlik” is, al word die mantra TINA (“There is no alternative”) ook hoeveel keer deur sekere deskundiges herhaal.
Deel van die kerk se openbare bydrae kan wees om geloof in TINA, asook absolutistiese aansprake deur politieke, finansiële en ander magte, te ontmasker, die religieuse aard daarvan te ontbloot en – al klink dit paradoksaal –te eis dat regerings, ondernemings, kultuurpolitiek en so meer “sekulêr”, wêrelds, bly en nie God speel nie.
En as die kerk foute maak, soos so dikwels gebeur? Die kerk sál foute maak – verkeerd oordeel, ontleed, raad gee, handel – maar ook dit geld nie net die kerk nie. Ook verdedigers van “suiwer” feitelike en wetenskaplike standpunte maak (soms gruwelike) foute. Daarteen is gelowiges nie gevrywaar nie, maar dis geen rede om nie te probeer om ’n openbare bydrae te lewer nie. En die manier waarop Christene optree wanneer hulle gefouteer het – deur skuldbelydenis, berou, ommekeer – kan self ’n waardevolle openbare getuienis wees.
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Kerkbode verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment