Saam met al die vraagstukke en kwessies wat tans op die kerk se tafel is, is daar twee dieper vrae wat nie verbygegaan kan word nie: Watter rol behoort die Bybel nog in ons lewe te speel en net so belangrik, hoe moet ons die Bybel in 2012 lees en verstaan?
Terwyl daar natuurlik mense is wat komplekse vraagstukke sonder die Bybel hanteer, kan die kerk dit moeilik doen. Binne die gereformeerde tradisie, waarvan ek deel is, leer ons dat ons lewe op vier belangrike “fondamente” rus. Jy sou kon sê dat dit ons geestelike DNS vorm. Dit is die Skrif, genade, geloof en Christus. Gooi jy een weg is jy soos `n motor wat sluk-sluk loop omdat een silinder die gees gegee het.
En dis hier waar die probleem ontstaan. Kan ons nog die Bybel in die moderne era glo? `n Vriend van my sê dat hy die Bybel twee keer deurgelees het en toe opgehou het om dit te lees. Daar was net te veel goed wat vir hom nie sin gemaak het nie.
Kom ek gee nog `n eenvoudige voorbeeld. In Deuteronomium lees ons binne die bestek van `n paar hoofstukke: Vroue wat mansklere dra en omgekeerd word deur die Here verafsku (Deut. 22:5), opstandige, ongehoorsame kinders moet met klippe doodgegooi word (Deut: 21:20) en jy mag nie volstruisvleis eet nie! (Deut. 14:15) As laasgenoemde waar is, het die boere van Oudtshoorn groot moeilikheid. Hoe dan nou gemaak?
Erkende teoloë stem saam dat jy nie haastig met die Bybel kan omgaan nie. Maar wat beteken dit konkreet? Kom ek deel `n paar beginsels.
Eerstens moet jy die Bybel behoorlik ken. Na veertig jaar van omgang met die Bybel ontdek ek steeds “nuwe” tekste, dimensies en boodskappe. My oupa-grootjie kon vir jou hoofstukke uit die Bybel opsê. Een ding weet ek. Hy het die Bybel geken.
Afgesien daarvan dat jy taalkundig (vertalingsgewys) noukeurig met die teks moet omgaan, moet jy die teks tweedens ook in konteks lees. Elke teks is verpak in `n bepaalde literêre genre, het `n sosiale- en historiese agtergrond, maar staan ook in verband met ander tekste en moet so gelees word. Die Bybel ontsluit so homself.
Derdens is daar die beginsel van kontinuïteit en diskontinuïteit. Sommige tekste en temas kom slegs eenmaal in die Bybel voor. Ander temas kom slegs in die Ou- of Nuwe Testament voor en ander kom herhaaldelik en deurlopend voor.
Vierdens kan jy die Skrif net ten volle verstaan, wanneer jou denke en God se denke in ’n intieme verhouding en onder leiding van die Gees, in harmonie met mekaar is. Dit bly immers God se Woord. (1Kor.2:14-15)
Vyfdens behoort gelowiges na mekaar te luister. Dit was die moeilikheid met Apartheid. Ons wou nie na stemme van mede-gelowiges regoor die wêreld luister nie. Wysheid word in die breë gemeenskap van gelowiges gevind. Nie in jou eie klein hoekie nie.
Wanneer jy hierdie beginsels begin toepas, gaan daar nuwe wêrelde oop. Lekker lees aan die steeds mees gelese boek op aarde.
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
5 Kommnetaar vir Kan ons nog die Bybel glo? | 5 Responses to Kan ons nog die Bybel glo?
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
Kan ons nog die Bybel glo?
Ek dink die woord “nog” is nie van toepassing nie.
Die geskiedenis van die Bybel, as ‘n saamvattende boek, geskryf deur mense, (66 boeke, sommige van hulle op verskillende tye deur verskillende skrywers, oor ‘n tydperk van ongeveer 1000 jaar), boeke gekies deur mense (Council of Nicaea) en die oneindige vertalings (vertaling is nie die regte woord nie, ek verwys na “scribes” wat die text oorgeskryf het), werp ‘n baie swak lig op die oorsprong, vir my…maar dit is net my persoonlike opinie.
Michelle
“Vierdens kan jy die Skrif net ten volle verstaan, wanneer jou denke en God se denke in ’n intieme verhouding en onder leiding van die Gees, in harmonie met mekaar is. Dit bly immers God se Woord. (1Kor.2:14-15)”
Is dit dus korrek om af te lei dat niemand in die NG Kerk, met enkele uitsonderings soos Beyers Naudé, destyds met die kerk se regverdiging van Apartheid in so ‘n intieme verhouding tot God gestaan het nie? Vir dekades?
Baie dankie hiervoor.
Dr. Hanekom, my motor loop op 5 silinders. Jou 4 en liefde. Behalwe die boek Jesaja in die ou Testament lees ek meestal die nuwe testament ,want ek glo God het met die koms van Christus met ons n nuwe verbond gesluit. Hierdie verbond is geskryf vir jaar een tot aan die einde van die wereld. Ons kan ons ouers se kennis van die Bybel admireer maar kan ons al hulle dade en die manier hoe hulle,hulle kennis uitgeleef het met trots verkondig. My oorlede broer Ds. Dries Viljoen het in die apartheidsjare baie sinodesittings bygewoon. Hy was ook oortuig dat die Heilige Gees daar teenwoordig was. Bestaan die Heilige Gees net van 2012. Apartheid bestaan in Suid-Afrika vir baie jare voor 1948. Soos met alles wat verkeerd gaan word dit altyd op die wit Afrikaners gepak. My oortuigde gemoed se vir my dat God apartheid gebruik het as n groot plan vir die toekoms van ons land. Kom ons los die Bybel soos hy oorpronklik was en werk aan die Afikaanse taal. By vanoggend se preek het ons ds. gese Afrikaans is n baie arm taal. Alle soorte liefde is net een woord ” liefde”. Dit is vir baie mans moeilik om vir n an derman te se ek is lief vir jou. Dink net as jy vir n ander vrou se jy is lief vir haar en jou vrou hoor jou. Die Grieke het vir elke liefde n ander woord. Broeder liefde , liefde vir jou vrou , ouers of kinders ,het almal hulle eie woord. Jy kan dit vrylik gebruik sonder om verkeerd verstaan te word.
Dr. Hanekom ek het nie die vraag wat u gevra het geantwoord soos u verwag het nie. Ek vra nederig onverskoning. Wat ek nie kan verstaan nie is dat wanneer mense n probleem met die Bybel het, hulle altyd hulle probleme uit die ou testament gaan haal. In die ou testament se tyd het die mense onder wette geleef , vir hulle voort bestaan en beskerming , het God hulle sekere goed verbied met wette. Moenie sekere diere wat toe as onrein beskou was se vleis eet nie. Toe van Christus se tyd af het die mens met varke se siektes bekend geraak later het slagpale gekom. Nou is GOD se .kos wat hy alles geskape het alles eetbaar met danksegging.Die voortrekkers het met ou gewere een skoot op n slag kon skiet. Vandag skiet hulle met masjien gewere ens. Die postmoderne christen wil nie eens die nuwe testament wat 2012 jaar oud is glo nie.Dit terwyl dit deur appostels wat daar was en van getuig geskryf is. .Die Nuwe Testament is die nuwe verbond tussen God en sy volk. Die Bybel soos hy geskryf is sal tot die einde van krag bly. Om die Bybel te probeer verander om die mense se sondes te pas sal niks help nie.Om die Bybel te verander kom neer op geloofs korrupsie. U se ons moet die Bybel reg lees en kyk in watter kondeks sekere dele geskryf is. Wat doen die regering ,kerke en selfs mans met GELASIERS 3vers 28. ”Daar is nie meer Jood of Griek nie ,of man of vou nie. Enige blinde persoon weet dit is net dat daar geen aanneming van die persoon by GOD is om die ewige lewe te erf nie.In die lewens konteks bly man ,man en vrou ,vrou soos en waarvoor God hulle geskape het. Daar is baie mans wat verwagtend lyk in ons land , maar dit nooit sal wees nie. Toe wat doen die mens. God trek mos die mans voor so ons sal die saak regstel. Opheffing van die vrou. Gelyke regte by werkplekke en hulle moet die regering insypel. Daar is nie eens genoeg werk vir mans in ons land nie, wat nog vir vrouens en mans. Vrouens kos die staat miljoene elke jaar vir verlof en voordele om babas te gaan kry. Jesaja 2 vers 12 ”.Die drywers van my volk is kinders, en vrouens heers oor hulle.” Ek weet Jesaja is in die ou testament , maar hy het baie voorpellings gemaak wat honderde jare later waar gekom het .Al wat ek wil se is God laat nie toe dat hy of sy woord bespot word nie