Gebeur wonderwerke nog?

Anton Rupert het by `n geleentheid gesê dat “hy wat nie in wonderwerke glo nie, nie `n realis is nie.” Maar wat sou hy met  “wonderwerke” bedoel het?

Vir jare reeds word  daar debatte gevoer oor die vraag of wonderwerke werklik plaasvind. Aan die een kant was daar byvoorbeeld  die wetenskaps-filosoof David Hume wat gesê het dat `n wonderwerk die verbreking van `n natuurwet veronderstel en dit nie kan nie.  Sal God die wette wat hy self daar gestel het verbreek? Hume se  beginsel van statistiese verifikasie het veronderstel dat, indien daar genoeg bewyse vir `n “wonderwerk” gevind kan word, dit slegs die formulering van `n nuwe natuurwet tot gevolg sou hê.

Aan die ander kant was daar diegene wat beweer het dat nuwe ontdekkings in die mikro-fisika daarop dui dat dinge nie heeltemal so rigied voorspelbaar is soos sommige dit wil hê nie. Die werk van  De Broglie, Driac en ander (golfmeganika),  Heisenberg (kwantummeganika) Max Planck (kwantum-teorie) en Einstein se relatiwiteitsteorie word dan aangehaal.

Kom ons by konkrete gevalle soos geloofsgenesing, is bevind dat psigosomatiese siektes  (siektes wat in ons kop ontstaan)  baie meer voorkom as wat ons besef. Daar  is bevind dat  ons denke `n veel groter invloed op ons liggaam het as wat ons ooit besef.  “Geloof” kan dus ook `n ongelowige help om gesond te word.

Tog is dit nie al nie. Ek is skepties oor genesingsdienste, maar daar is ook gevalle waaroor medici gewoon kopkrap. So dink ek byvoorbeeld aan Eileen Vigus. `n Fetus wat 7 weke reeds in haar dood was voor dit ontdek is, het  `n massiewe sepsis in haar liggaam veroorsaak, met oneindige komplikasies. 25 operasies en 12 jaar in `n rolstoel later, het sy een aand by `n genesingsdiens opgestaan.  Personeel van die destydse J.G. Strydom hospitaal beskou dit as` n absolute wonderwerk. Daar is meer voorbeelde.

Maar onthou tog, Jesus  het telkens vir sy volgelinge gesê dat hul sy wondertekens moet stil hou, omdat selfs wondertekens alleen nie die ongelowige sal oortuig nie.

Ek glo in die wonder van die rede en die wetenskap, maar ek glo ook in God wat `n ondeurgrondelike bo-natuurlike dimensie aan ons voorhou. Hier  is nie alles redelik verklaarbaar nie.

Ek glo egter ook dat daar meer wonders om ons gebeur as wat ons raaksien en erken. Ons politieke oorgang in 1994, terwyl Rwanda gebrand het, was `n wonder.  Dade van versoening wat elke dag gebeur, is `n wonder. As ek sien hoe dinge in my lewe soms heel “toevallig” saamval en gebeur, groter as wat ek kon dink, beplan of bid, dan weet ek dit was `n wonder. Die skepping om my sien ek as  `n wonder.

Ja,  as ek opkyk en herinner word dat daar meer sterre aan die hemel is as al die sandkorrels op ons  strande, dan weet ek, ek leef en dink in `n baie klein wêreldjie. Wonderwerke vind nie op aanvraag plaas nie, maar moenie te verras wees as daar dinge gebeur wat ons nie altyd kan verklaar nie.

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn as deel van die Godsdiens Aktueel-reeks.

 

avatar

Oor | About Braam Hanekom

Dr Hanekom is moderator van die sinode van die NGK van Wes-en-Suid-Kaapland.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>