Woorde en hul wonderbare werking – vir wie?

Woorde se werkinge is wonderbaar. Hulle kan innooi, plek gee, verwelkom, vreemdes tot vriende maak, van ekke onse. Om te leer “ons” sê kan ’n vorm van lief-hê wees, om nie langer van “julle” en “hulle” te praat nie, maar ander in te sluit, kan gestaltes wees van naasteliefde.

Maar daar is ook ’n ánder soort “ons” – een wat insluk, stil maak, minag. Almal ken tog dié ervaring? Waar grappe vertel word asof jy ook ’n insider is, óók veronderstel om te lag. Waar snedig oor ander geskinder word asof jy óók deel wil vorm van dié soort beswadder. Waar jy geassosieer word met optrede waarvan jy onthuts voel ons is nie almal so nie. Waar namens jou gedink, gepraat, besluit, gehandel word – en jy net moet inval, want dis tog hoe “ons” maak. Ja, “ons” kan ook uitsluit, juis deur hóé ons insluit.

Ons kleinste, pas skool toe, gaan met vriende na hul gemeente se kinder-kamp. Ná die naweek vra tannies die kleintjies uit oor hoe dit was. Ons spruit se antwoord laat ons vriende nóu nog lag. Dit was destyds die opskrif van die kerkblad se berig. Volgende keer wil hy graag sy eie kamertjie hê, was ál reaksie. ’n Mens kon net raai wat agter dié stuk eerlikheid skuil. Dog wat ook al, iets aan die “ons” was te veel vir sy “ek.” Iets aan die groepsgees het sý gees verstik.

Dit bly my herinner aan Virginia Woolf se “A Room of one’s Own,” wat open met die insident toe sy by Cambridge se Trinity College manuskripte van Milton wou raadpleeg, maar gestuit is deur ’n gawe, ouerige bibliotekaris, omdat vroue ongelukkig nie toegelaat word sonder aanbevelings óf begeleiding nie. Dáárop ontmasker sy die establishment van manlike “onse” wat namens almal toelaat of nié. Wat vroue kort, só eindig sy, is ’n kamer van hul eie.

Laas week onthou ek dit twéé maal. Eers vertel ’n kollega aan studente van háár ervaringe (op pad na ’n kamer van haar eie, vlak bó ons biblioteek). Toe sy in matriek kies vir teologie het haar kerkverband nog nie vroue toegelaat as leraars nie. Sy sou g’n vrou as dosent ken nie, eers láter, nagraads, oorsee. Het nooit na ’n vrou op ’n kansel kon luister voor sy sélf daar sou staan nie. Oral waar sy sou preek was sý die eerste ooit. Party klasmaats sou praat asof sy nie daar is nie, óf broeders óf niks. Van die dosente sou die klas nooit anders as “menere” aanspreek nie, ongeag versoeke. Later sou vergeefse aansoeke by gemeentes soms terugkom met “jammer, meneer.”

Tóé word dié rubriek op pad na die pers gekorrigeer en “hoe vreemd is mense tog, elk op hul eie manier?” word “elk op sy eie manier.” Ironies, want die stuk handel juis oor taal as huis van die syn, waardeur ons leer kyk en dink. Dis wel korrék, want in ons moedertaal bly ’n mens mos ’n hy. En dit maak ook nie saak nie, vroue is tog altyd ingesluit? Al sê “ons” ook “hy”? Maar ék onthou weer die storie van ’n klein seuntjie op ’n kamp en wonder of ons weet wat ons aan ander doen met ons onse. Ons vanselfsprekendhede. Ons reëls. Ons taal. En of ons omgee? - DJS

Kliek hier vir Dirkie se vorige skrywe oor woorde. (Hierdie rubriek het oorspronklik in Die Burger verskyn)

 

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>