Waar sal die morele leiers tog vandaan kom?

Waar kom waardes eintlik vandaan, ons geestelike, morele, lewenswaardes? Hoe groei dit in ons, tot ons hulle self beliggaam? In dié dae van pleidooie vir meer morele leierskap maak dié vrae saak. Vanwaar sal sulke etiese sienings en commitments kom? Daar is g’n maklike resep nie. Mense verskil al eeue hieroor. Die denker Alasdair MacIntyre beskryf drie sulke antwoorde in sy Three Rival Versions of Moral Enquiry, lesings in Skotland, gehou volgens die testament van die bekende Lord Gifford. Laat in die 19e eeu, ten tye van sy dood, verskyn naamlik drie geskrifte wat dié onderskeie sieninge mooi illustreer. Erg oor-vereenvoudig lui MacIntyre se storie só.

Die eerste is die 9e uitgawe van die Encyclopaedia Brittanica. Die ideaal agter dié projek was om die nuutste stand van wetenskaplike kennis publiek te maak. Daar agter, sê hy, skuil ideale van vooruitgang en van vordering in ons kennis, óók van moraliteit. Dís ook die ideale van Gifford se testament en van dié jaarlikse lesings. Die 9e uitgawe se bydraes laat dit blyk. Hulle glo die destydse stand van sedelike oortuigings in hul Skotse samelewing is dié ware, wat ongelukkig nog nie oraloor, ook by minder beskaafde kulture, geld nie, dog wel eendag dáár ook sal deurbreek. Mense sou dit die tipies moderne houding kon noem, die selfvertroue dat wat óns dink, glo en sê eintlik deur almal aanvaar behoort te word (en eendag ook sál, as mense net wou leer om self te dink – soos óns).

Die tweede is Nietzsche se siniese Zur Genealogie der Moral, waarin hy alle sieninge van reg en verkeerd ontmasker as bloot dít wat bevoorregtes wil hê om hul belange te dien. Daarmee moker dié filosoof-met-’n-hamer enige idee van morele waardes sélf aan stukke. Ons beter lewe ánder kant goed en boos, waar níks saak maak nie, net eiebelang en wat jy self wíl en kán. Hier agter skuil die agterdog dat álle moraliteit ontbloot word as self-belang, as ons net eers sien wie dié waardes so graag wil bevorder hê. Sommige sou dié houding dalk postmodern wou noem, die gees dat almal self kan wil en besluit, hoewel nie álmal so ver sou gaan as Nietszche nie (ten minste nie met wat hulle sê nie).

Die derde is die ensikliek Aeterni Patris van Pous Leo XIII. Dié verdedig die belang van tradisie in die vorming van wie ons is en wat ons doen. Só ’n siening beklemtoon die plek van gemeenskap, rolmodel en voorbeeld. Erken die stempel wat praktyke, dissiplines en opvoeding op ons laat. Onderstreep die nut van herinnering, lojaliteit en behóórt. Bedink temas soos karakter, integriteit en trou. Streef klassieke deugde na, soos onderskeiding, regverdigheid, moed en matigheid.

Dus, vanwaar kom ons waardes eintlik – eie insig, eie belang, eie vorming? Één ding is seker. Vanaf dié week is die Encyclopaedia Brittanica aanlyn. Wonderlik, dat dié bron van kennis nou só toeganklik is. Maar ons beter nie hoop dat enigeen nou net oor moraliteit kan léés en dan vanself sommer meer moreel gaan wéés nie. Sake werk nie só nie. - DJS

 

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>