Woorde en hulle wonderbare werkinge – sê wie?

Woorde is tog wonderbaar. Taal, praat, luister, hoor, gesels, lees – watter wonderbare gawes. Taal is die huis van die syn, sou die denker Heidegger sê, lank vóór 20ste eeuse filosowe regtig sou begin insien, bedink en verwoord hóé belangrik taal eintlik is. Dis ons toegang tot die realiteit, was sy punt. Ons leer die lewe, die wêreld, mekaar kén deur taal.

Daarná sou ander dit veel grondiger uitspel – dié wonderbare werking van woorde. In vaktaal gesê was daar ’n linguïstiese wending. Denkers sou wégdraai van die illusie dat ons eie identiteit êrens in onsself gegee is sónder ander rondom ons. In stede sou hulle toenemend draai ná ’n nuwe besef van die rol van taal. Al meer begryp dat ons mens-wees sosiáál gevorm word, sáám met ander, en dit deur die táál wat ons van kleins af aanleer, sogenaamd aan moedersknie, ván ander en sáám met ander. Niemand praat privaat-tale nie, taal is altyd gedéél, dit kommunikeer, dis mens-wees in verhoudinge. Deur die woorde wat ons deel, deel ons ook maniere van kyk, van sien, beskryf, beoordeel. Kortom, “ek“ is onlosmaaklik verweef met “ons“ – en dit deur taal.

Ook sosioloë sou dit al hoe beter begryp – hoewel nie sonder sukkel nie. Een van die groot name was Norbert Elias. Hy studeer eers filosofie en skryf sy proefskrif juis oor “die individu,“ maar kry dan stry met sy studieleier, as hy beweer dat die filosofiese tradisie (na Kant) wat so in die individu glo mens-wees diep misverstaan. Wie die “ek“ wil begryp, beter by die “ons“ begin, om dit so te stel. Hy slaan daarom oor na sosiologie en bestudeer jare lank súlke temas – hoe sosiale gebruike ons vorm; hoe buitestanders groepe beleef; hoe eensaam mense sterf vandag; hoe akademiese hiërargieë sommige uitsluit; hoe ons insig groei as ons eers betrókke raak.

Hy is wyd bekend vir ’n drie-reël haikoe, saam met ander gedigte gepubliseer as “Op reis na Tanger,“ sodat altyd aanvaar is dis geskryf tydens sy reise in Noord-Afrika. “Hoe vreemd is hierdie mense//hoe vreemd is ek//hoe vreemd is ons.“ Pas ontdek iemand dit kom al jare tevore uit sy “Kantaantekeninge by ’n inleidende lesing in sosiologie.“ Wat sin maak, want dit wás die motief agter al sy werk. En dis tog ook rég dat ’n mens dieselfde verwondering oor en oor mag belewe, veral dié een? Vroeg al, en jare later opnuut wéér in Marokko? Trouens, dalk dikwels tussen-in ook? Hoe vreemd is mense tog, elk op hul eie manier? En hoe vreemd is ék – wat moet mense tog sien wat na my kyk, wat moet hulle tog van mý dink? Ja, hoe vreemd is ons álmal?

Nie dat ons geleerdes benodig om ons dié dinge te leer nie. Hoeveel onse op jou pond?, sou ons ma dikwels vra – en presies dít bedoel. Wie sluit ons in en wie nié? Wie tel ons bý en vir wie gee ons nié om nie? Dis ’n vraag met ’n angel‚ waarskuwend, opvoedend, ’n regte má-vraag, móéder-taal op die allerbeste, wat leer om nie uit te sluit nie, maar ín. Want dís die wonder van woorde, dit kán van ekke onse maak. – DJS

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>