Dis ontstellend, toe ek dié woorde lees. Die eerste wat mense deesdae wil weet is wat ons dóén – en ons antwoord op dié vraag bepaal watter reaksie, ontvangs, respek ons gaan ontvang, of nié. Só skryf Alain de Botton in Status Anxiety.
Dis pas ná ’n gesprek met ’n kennis van lank tevore, aangenaam, vol integriteit, knap, twee magister-grade, kampioen sportman in sy jong jare, maar tans werkloos – en weerloos. Net vóór dié gesprek kom daar ’n epos van ’n kollega en vriend, aangenaam, vol integriteit, knap, doktorsgraad, diep spore in die gemeenskap getrap, maar tans werkloos – en weerloos. Hy voel geweeg en te lig bevind, volgens sy gedempte, gevoelvolle beskrywing.
Dit was nie altyd só nie, sê De Botton. Dis juis die gees van ons tyd. Tipies van ons wêreld. Van hoe ons deesdae na mekaar kyk, hoe ons respek toeken en weerhou, kwaliteit beoordeel, waarde takseer, mens-wees wéég.
Vroeër sou mense vra wie ons ís. Van watter Cloetes en Vissers nou eintlik? Wie ons mense is? Vanwaar ons stam, uit welke kontrei? Dié soort vra en kyk was óók nie onskuldig nie. Daar was plek en tyd – vroeër – toe mense geweeg en te lig bevind is vanweë afkoms, blyplek, voorsate. Of op dié gronde gerespekteer is, hoog geag, met waardigheid bejeën, ongeag wat hulle sou aanvang, of nie.
Dis juis om wég te kom van só ’n wêreld, waar jy al met geboorte tot adel of gepeupel, heil of onheil, vóórbestem was, dat óns moderne tyd so moeisaam ontwikkel het. Pynlik, stryd ná stryd, sou óns wêreld groei, een van gelýkheid. Waar dit nie meer tel watter kant van die spoor jy gebore is nie, net waar jy wérk, en wat jy daar dóén. Deesdae vra ons nie langer kinders se vriende se vanne nie, stel nie meer belang wie hul ouers is nie, wil net weet wat hulle dóén, of wat hulle beplán om te gaan doen.
Dis juis sy verhaal. En dis góéd dat ons wêreld só gegroei het. Dis tog waarvan Martin Luther King Jr sou droom? Dat mense nie langer beoordeel word aan hul velkleur, aan faktore wat g’n een kan verander nie. En tóg? Sy droom was tog ook nie dat ons gemeet sal word aan wat ons verdien en wat ons besit nie, maar aan ons karákter? Aan wie ons ís, ongeag afkoms óf werk?
Met dié is ons vandag vyf-voudig afhanklik, sê De Botton, van faktore buite ons beheer, en dáárom so vol sorge. Afhanklik van ons eie talente, of nié. Van geluk en noodlot, wat vir ons kanse gaan bied, of nié. Van werkgewers se houvas en mag. Van werksomgewings se lotgevalle, want enigeen mag oornag bedreig word. Van globale ekonomiese wisselvallighede.
Daarom voel vele so gou broos en weerloos, te lig bevind. Ons waarde sélf voel bedreig. Wat herinner aan Luther (van wie King sy naam kry) se onderskeid tussen persoon en werk. Ons is méér as ons dóén, sê hy – soos wat lewe méér is as voedsel en klere. Dog om dít te bly bely is nie speletjies in ’n wêreld wat ly aan status anxiety nie. - DJS
Hierdie artikel het oorspronklik in Saterdag se Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment