Dosente glimlag dikwels oor dié storie. Glo by Oxford gebeur. In die eindeksamen was daar net één vraag, sonder keuse. Is hierdie ’n goeie vraag?, was die vraag. Dit vat ’n bietjie nadink, dog dis nie so dom soos dit mag lyk nie. Dit hang immers af van wat ’n mens wil toets. Wat die dosent wou vasstel. Watter soort studente hulle die gemeenskap wou instuur.
Seker, min van ons sou gerus slaap as – sê maar – dokters, aptekers en ingenieurs hul kwalifikasies kon verwerf deur net dié vraag te beantwoord. Ons sal altyd bly wonder of hulle darem ook iets weet van pyne, pille en paaie. Maar as regsgeleerdes, politici en ekonome weer nié die vraag ordentlik kon antwoord nie, sou ’n mens tog óók bedenkinge koester, of hoe?
Trouens, selfs van vindingryke neuroloë en kernfisici sou ’n mens tog óók verwag om kreatief op dié vraag te kon reageer. Hulle kon bloot sê nee, dis nié goed nie, want dit gun my g’n kans om die nuutste teorieë in die veld oor dít en uit te lê nie – en dan hul allerbeste vakkennis uitstal.
Maar – sê maar – opvoedkundiges, filosowe en etici behoort tog dié vraag soetkoek te vind. Hulle kan tog sê dat g’n vraag in sigself goed (of sleg) kan wees nie, omdat goed altyd afhang van goed waarvóór? Met die oog op wát? En agter dié vraestel skuil die (dieper) vraag dus wat vraestelle eintlik doen. Hoe stel vrae vas of studente wel kan wat hulle móét, weet wat hulle móét, is wie hulle behóórt te wees? Die (dieper) vrae agter dié is tog weer waarvoor onderrig eintlik daar is? Wat gemeenskappe tereg verwag? Of sulke inrigtings wel produkte lewer wat die openbare belang sal dien?
En daarmee is ons al vér in ’n antwoord in! Trouens, daar is tog min ernstiger vrae by óns vandag, as juis dié. Wie die skokkende berigte oor ons onderrig volg kan skaars anders as wonder wat van ons word. Wat word eintlik getóéts? Wat léér ons kinders? Watter soort mense kwéék ons? (Trouens, baie van ons mag dalk maar té bly wees as iemand net die vraag kon lees en énigiets skryf! Selfs lees en skryf spreek immers nie vanself nie – nes één vraag kan help met punte-gee, want dit spaar ’n mens die optel!)
Soos in daardie ánder welbekende storie, van die vier studente wat nie opdaag vir die moeilike eindeksamen nie. Ná die tyd kom die verduideliking. Op pad na die lokaal het hul band gebars en hulle kon dié – ongelukkig – nie betyds herstel nie. Darem gelukkig oorleef, dankie. Kan hulle dalk ’n her-eksamen skryf, later, heelwat later? Sekerlik, sê die dosent, net wanneer dit hulle pas. Op dié dag ontvang hy die vier hartlik en sê: Sit jy sommer in my kantoor en jý hier by die sekretaris, en julle twee in die leë klas en by my kollega in die gang af, dan pla julle nie mekaar nie. Op die vraestel is daar óók net een vraag. Watter band?
Sélf nie ’n slegte vraag nie, of hoe? As ’n mens dink wat dit alles toets. – DJS
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
1 Kommentaar vir | One Response to Nogal ’n vraag of dit ’n goeie vraag is, of nie
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
Die vraag kan beskou word as ‘n voorbeeld van ‘n oefening in toepaslikheid. Die aard daarvan as beide onderwerp en voorwerp stel dit oop tot so ‘n wye interpretasie dat ‘n slim student dit kan vervorm in ‘n vraag van sy of haar keuse.
Een vervorming sou wees: Bedink ‘n toepaslike eksamenvraag en beantwoord dit. Jy sal beoordeel word op die gehalte van beide jou vraag en jou antwoord.
‘n Ander aanslag is om te fokus op die sirkelvormige aard van die vraag – dit het op sigself geen inhoud nie, so enige antwoord van inhoudsgebaseer is, sal moet spruit uit ‘n toepassing van sirkelredenasie op ‘n bepaalde vakgebied.
In wiskunde is dit maklik: dit sou berus op die sirkel as wiskundige konstruksie.
In rekenaarstudie: ‘n indringende verslag oor kodeslaggate wat ‘n program kan laat hang.
In mediese wetenskap: ‘n uiteensetting van die dinamiek as jou pasiënt self ‘n dokter is.
In taalstudie: ‘n ondersoek na selfverwysing in die werk van bv. Sheila Cussons.
En so aan…