Afskakel-tyd is ook afgéé-tyd. Wie in dié tyd hoop op afskakel, tot rus kom, stil-word en herstel, beter onthou dat dit ander ook toekom. Dat hulle óók rus verdien, stilte, ont-spanning, afskakel.
Kleintyd het dit my al verwonder. Met die lees van die tien gebooie – destyds nog gewoonte – is ons Sondae herinner dat die sabbat gegee is sodat ons tot rus sal kom, maar so óók die vee en enige dier (Eks 20:10), óók osse en esels (Deut 5:14). Daar is selfs meerdere redes. Dis omdat ons geskape is en daarom ná werk sal ontspan en vreugde hê – soos God, sê Eksodus. Dis omdat ons bevry is en dié vryheid sal vier en geniet, sê Deuteronomium. Hoe ook al, die rus is vir óns – maar ook vir die os en esel.
As Swartlandse kinders wis ons al dat grond óók moet rus. Dat die land elke nou en dan braak sal lê, daar nié voortdurend net gesaai en oes verwag kan word nie, dat ook die aarde sélf moet rus, herstel, vernuwe word. Maar dit was tog ook vreemd – dat land, vee, álles en álmal tot rus moet kom? Ja, dat óns hulle moet áfgee, vryheid gun, uitlos, om te kan rus soos óns?
Nou is die sabbat se punt nie dat ons móét nie, maar dat ons mág rus. Só sê Ernst Conradie destyds in Rus vir die hele aarde, met as subtitel Wat doen ons aan onsself en die aarde? Die merkwaardige is dat dié mag-rus ook bedoel is vir os en esel, grond, die hele skepping. Die sabbat is verwant aan die sabbatsjare (elke sewende) en jubeljare (elke vyftigste) as alles tot rus kom, skuld afgeskryf word, almal ‘n nuwe begin gegun word, afgegéé word.
Selde word dié motiewe ontroerender beskryf as by Paulus wat vertel hoe die hele skepping sug, soos in barensnood, en reikhalsend uitsien na verlossing, bevryding, rus, die heerlikheid wat tans – in ons dae vol onrustige gejaag, inspanning en lyding – nog nie belewe word nie (Rom 8:18-28).
Dis snaaks dat juis die os en esel terugkeer in adventstonele – hoewel die geboorte-verhale hulle glad nie meld nie! Katakombes in Rome het wel 4e eeuse uitbeeldinge van die baba by ‘n os en esel, dog dis eers Franciskus van Assisi (natuur-mens en diere-vriend) wat in die 13e eeu met sulke tonele aanvang – met osse en esels as sentrale figure.
Jesus se krip roep duidelik Jes 1:3 op wat sê beeste en donkies ken hul eienaar se krip (dieselfde term) beter as die godsvolk – en op talle uitbeeldinge lyk dit sowaar of die os en esel die beste verstaan wat aangaan. Rustig kyk hulle, groot-oog, verwonderd. Asof hulle reeds dáár die sabbat begin smaak, Rom 8 se bevryding. Op Albrecht Dürer se etse (by Luther se preke) loer die os en esel ook só begrypend, om elke hoek.
Juis Luther sê ons behoort só te leef dat ons honde sal weet ons het respek vir God en naaste. Hy kon ewegoed sê dat vreemdeling en vee, os en esel, omgewing, riviere, berge sal weet dat ons die gebooie hoor en hulle áfgee omdat ons ág gee.
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment