Ons beter onthou, afskakel-tyd is ook afgee-tyd

Afskakel-tyd is ook afgéé-tyd. Wie in dié tyd hoop op afskakel, tot rus kom, stil-word en herstel, beter onthou dat dit ander ook toekom. Dat hulle óók rus verdien, stilte, ont-spanning, afskakel.

Kleintyd het dit my al verwonder. Met die lees van die tien gebooie – destyds nog gewoonte – is ons Sondae herinner dat die sabbat gegee is sodat ons tot rus sal kom, maar so óók die vee en enige dier (Eks 20:10), óók osse en esels (Deut 5:14). Daar is selfs meerdere redes. Dis omdat ons geskape is en daarom ná werk sal ontspan en vreugde hê – soos God, sê Eksodus. Dis omdat ons bevry is en dié vryheid sal vier en geniet, sê Deuteronomium. Hoe ook al, die rus is vir óns – maar ook vir die os en esel.

As Swartlandse kinders wis ons al dat grond óók moet rus. Dat die land elke nou en dan braak sal lê, daar nié voortdurend net gesaai en oes verwag kan word nie, dat ook die aarde sélf moet rus, herstel, vernuwe word. Maar dit was tog ook vreemd – dat land, vee, álles en álmal tot rus moet kom? Ja, dat óns hulle moet áfgee, vryheid gun, uitlos, om te kan rus soos óns?

Nou is die sabbat se punt nie dat ons móét nie, maar dat ons mág rus. Só sê Ernst Conradie destyds in Rus vir die hele aarde, met as subtitel Wat doen ons aan onsself en die aarde? Die merkwaardige is dat dié mag-rus ook bedoel is vir os en esel, grond, die hele skepping. Die sabbat is verwant aan die sabbatsjare (elke sewende) en jubeljare (elke vyftigste) as alles tot rus kom, skuld afgeskryf word, almal ‘n nuwe begin gegun word, afgegéé word.

Selde word dié motiewe ontroerender beskryf as by Paulus wat vertel hoe die hele skepping sug, soos in barensnood, en reikhalsend uitsien na verlossing, bevryding, rus, die heerlikheid wat tans – in ons dae vol onrustige gejaag, inspanning en lyding – nog nie belewe word nie (Rom 8:18-28).

Dis snaaks dat juis die os en esel terugkeer in adventstonele – hoewel die geboorte-verhale hulle glad nie meld nie! Katakombes in Rome het wel 4e eeuse uitbeeldinge van die baba by ‘n os en esel, dog dis eers Franciskus van Assisi (natuur-mens en diere-vriend) wat in die 13e eeu met sulke tonele aanvang – met osse en esels as sentrale figure.

Jesus se krip roep duidelik Jes 1:3 op wat sê beeste en donkies ken hul eienaar se krip (dieselfde term) beter as die godsvolk – en op talle uitbeeldinge lyk dit sowaar of die os en esel die beste verstaan wat aangaan. Rustig kyk hulle, groot-oog, verwonderd. Asof hulle reeds dáár die sabbat begin smaak, Rom 8 se bevryding. Op Albrecht Dürer se etse (by Luther se preke) loer die os en esel ook só begrypend, om elke hoek.

Juis Luther sê ons behoort só te leef dat ons honde sal weet ons het respek vir God en naaste. Hy kon ewegoed sê dat vreemdeling en vee, os en esel, omgewing, riviere, berge sal weet dat ons die gebooie hoor en hulle áfgee omdat ons ág gee.

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.

 

 

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>