Oormôre vier ons versoeningsdag in Suid-Afrika. Suid-Afrikaners en mense regoor die wêreld hunker na eenheid en versoening heling en geregtigheid. Ja, selfs dier, natuur en plant hunker na ‘n lewe van veiligheid, vreugde en rus.
Oor bietjie meer as ‘n week vier ons kersfees, die geboorte van Jesus Christus. Lank voor sy geboorte beskryf die profeet Jesaja Hom as die vredevors (Jesaja 9:5). Jare na sy geboorte, sterwe, opstanding en hemelvaart beskryf die apostel Paulus Hom as die Een wat ons vrede is (Efesiërs 2:14). Vrede rus in geregtigheid, en kry gestalte in vreugde (Romeine 14:17).
Onvrede het verskillende gestaltes. Oorlog en geweld, verdrukking en onreg, skuld en angs, lyding en swaarkry, oorwerktheid en siekte, gejaagdheid en ongeduld, diskriminasie en vrees, gebrekkige luister na mekaar, agterdog en vooroordeel, stereotipering en stigmatisering, demonisering en verdagmakery, uitsluiting en onheiligheid, slordige en lui denke.
Ons hunker na vrede. Die einde van oorlog en van geweld teen vroue en kinders en renosters, en alle ander vorme van geweld. Die einde van onreg teenoor die natuurlike omgewing en die mees broses in die samelewing. Werk vir werkloses, brood vir hongeres, rus vir oorwerktes en oorlaaides, genesing en sorg vir siekes, vergifnis vir sondaars, geborgenheid vir angstiges, kalmte vir ongeduldiges.
Ons hunker ook na vrede in kerklike en openbare gesprekke. Op hierdie terrein beteken vrede dat ons empaties luister na mekaar, dat ons die risko loop om nie vir mekaar bang te wees nie, maar mekaar te vertrou, dat ons nie by voorbaat mekaar stereotipeer en demoniseer nie – desnieteenstaande vroeëre swak prestasie. Vrede beteken dat ons nie absolutisties meen ons siening is die enigste ene wat in diens van liefde en geregtigheid staan nie, en wie ook al verskil, is skuldig aan uitsluiting en afbrekende diskriminasie.
Vrede in hierdie kerklike en openbare gesprekke oor sake wat mense se lewens ingrypend raak, beteken nie dat ons pleidooie vir insluiting gelykstel aan onheilige kompromieë nie. Vrede beteken insluiting en heiligheid.
Vrede beteken intellektuele inspanning, gedissiplineerdheid en moed wat in gesprekvoering oop is vir ander en nuwe insigte, en wat algenoegsaamheid en oorvereenvoudiging nie duld nie. Vrede vra vir die soeke na waarheid en waaragtigheid, en vir afskeid van halwe waarhede en van die strewe na wenposisies in diens van eie eer.
Vrede is ‘n persoonlike saak. Ons openbare debatte gaan nie in die eerste plek oor temas en sake nie. Dit gaan oor mense, God se mense. Dit gaan oor die welwees van God se mense, diere, plante en natuur.
Kerklike openbare gesprekke word ook konsilies genoem. Konsilie beteken om diep in mekaar se oë te kyk. Hierdie nabyheid aan mekaar, hierdie persoonlike omgang met mekaar deur direkte kontak en by wyse van ander kommunikasiemiddele belemmer nie gesprek en goeie oordeel nie.
Die persoonlike omgang met mekaar in die teenwoordigheid van Hom wat in ons oë en harte kyk, en wat ons in sy oë en hart van vrede laat kyk, open die weg vir gesprekke en lewens van vrede, geregtigheid en vreugde!
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn op 15 Desember.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment