Die aanname van die Accra Belydenis in 2004 deur die destydse Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het ‘n storm van omstredenheid ontketen. Die belydenis was ‘n wekroep “om die tekens van die tye te onderskei”. Accra noem dit tye van groot dringendheid, ongekende globale ekonomiese en sosiale ongeregtigheid en vernietiging van die aarde. Dit is “skandelike wêreld” van harde, skokkende werklikhede en groeiende ongelykhede tussen lande in die wêreld (die ryk “Noorde” en die arm “Suide”), maar ook in arm lande, tussen die massas armes en die klein, bevoorregte elites. Accra praat van bron-gedrewe oorloë, plundering, slagoffers van magsvergrype, van wie die meeste weerlose kinders en vroue is. Die belydenis veroordeel magshonger, harteloosheid en die gebrek aan solidariteit. In die hart van dit alles is ‘n imperiale werklikheid, gedrewe deur die ideologie van ‘n niks-ontsienende kapitalisme wat “markbeginsels” as onveranderlike, goddelike waarhede voorhou, wat stel dat daar geen alternatief is nie en wat ‘n “eindelose golf van opofferings van die armes en die natuur vereis”. Dit verkondig die “vals belofte” dat skepping van rykdom en voorspoed die redding van die wêreld is, speel heer oor lewe en dood en eis ‘n totale lojaliteit wat dit “afgodery” maak. Accra oordeel so hard, omdat dit die wêreldsituasie lees, nie deur die oë van die magtiges en bevoordeeldes nie, maar eerder deur díe van die armes, die verontregtes en die lydendes.

Clifton Kirkpatrick, in daardie tyd president van die WBGK, vertel van die woedende reaksies in baie Amerikaanse kerke, om van die media en “Wall Street” nie eens te praat nie. Hy vertel van die vyandige ontvangs by een van die ryk Presbiteriaanse kerke in New York, “met nou bande met Wall Street”, die aggressiewe ondervraging, die hoon dat die kerk nie weet waarvan ons praat nie; dat ons ons liewer “by die Evangelie” moet hou.
Twee jaar later, ná die finansiële krisis van 2008, nooi daardie gemeente hom terug, vra om verskoning, en vra die kernvraag: “Wat moet ons doen?” “Verander jul denke” antwoord Kirkpatrick, “verander jul lewensstyl, gehoorsaam die Evangelie”. Die kerk was tog reg: die sisteem is verrot, die ongelykhede is onvolhoubaar, die oë van die lydendes is die egte lens, want dit is die oë van Jesus.
Nou, sewe jaar ná Accra, is “Occupy Wall Street” ’n verstommende, inspirerende wêreldwye beweging, en aan die hart daarvan is Amerika – maar dis ‘n ander Amerika as díe van Wallstraat en die Wit Huis. Nou is
die taal van daardie Amerika die taal van die kritiese kerk: “die konsentrasie van enorme rykdom aan die top (vir die 1%) is die obsene keersy van die armoede van die 99% op die bodem”. En dis nie net armoede nie – dis “‘n proses van verarming”. Een uit elke ses Amerikaners leef onder die “armoede-grens”; 19 miljoen in “erge armoede” waarvan meer as een-derde kinders is. Meer as die helfte van Amerikaanse kinders onder 6 jaar oud met ‘n enkel-ma is “erg arm”. Amerikaners maak nou onderskeid tussen “skuld-armoede”, “haweloosheidsarmoede”, “werklose armes” en “werkende armes”. “Dis ‘n morele skande”, skryf veteraan-joernalis Francis Fox Piven, “en dis ‘n morele stryd. Onkunde en doelgerigte wreedheid kan ons almal na ons asem laat snak, en vir dekades is dit al wat ons doen: snak”. Daarom is sy op die strate, tussen die jongmense, die “down-and-outs”, die werkers, die werkloses en die “midde-klassers”; die haweloses en bank-slagoffers en die toekomslose studente. Skielik verstaan Amerika die “Suide” – en vir Accra: “Die mis het verdwyn”, sê sy.
En waar is Jesus? Nie agter die geslote, deure van die spoggerige banke nie; en sekerlik nie op die draad nie. Hy is tussen die armes en haweloses, die verontregtes en die toekomsloses. Want soos Hy hul vrede is, so is Hy hul toekoms. Hy is daar, solidêr, want “wat julle ookal aan die geringstes van my broers en susters gedoen het, het julle ook aan My gedoen”. Dis nie dat die kerk reg was nie – die Evangelie kry altyd gelyk.
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn as deel van die Godsdiens Aktueel-reeks.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment