Wat elke dief moet weet

My jongste rubriek in die Kerkbode:

In G.K. Chesterton se Father Brown-stories word die skurk altyd deur die priester uitoorlê. Laasgenoemde is ’n onwaarskynlike held met sy priesterlike gewaad, kort postuur, skynbare verstrooidheid en oudmodiese taalgebruik. Daar is iets van dié vader in geliefde karakters soos die speurder Colombo en Mma Ramotswe met haar No. 1 Ladies’ Detective Agency.

In die verhaal “The Blue Cross” wandel vader Brown ’n dag lank saam met Flambeau, die verdagte, wat aanvanklik ook ’n priester skyn te wees. Wanneer Flambeau uiteindelik ontmasker word , vra hy verdwaas hoe vader Brown wis dat hy nie met ’n regte priester te doen het nie. “You attacked reason,” kom die antwoord. “It’s bad theology.”

Die daglange gesprek het naamlik oor etiek gehandel. Flambeau vra retories: “who can look at those millions of worlds and not feel that there may well be wonderful universes above us where reason is utterly unreasonable?” Waarop vader Brown antwoord: “you can imagine any mad botany or geology you please. … But don’t fancy that all that frantic astronomy would make the smallest difference to the reason and justice of conduct. On plains of opal, under cliffs cut out of pearl, you would still find a notice-board, ‘Thou shalt not steal.’” Vatso, dief! ’n Egte priester sal dit mos weet.

Met hierdie stukkie speurwerk skaar vader Brown hom by die sogenaamde “deontologiese” etiek: Elke mens, beweer Immanuel Kant, die vernaamste moderne eksponent van hierdie antieke teorie, het ’n inherente besef van sy morele plig – die sogenaamde “kategoriese imperatief”. Dit behels dat ’n mens altyd só moet optree dat jy redelikerwys kan wens dat almal volgens dieselfde reël sal handel. Dié reël is: Behandel ’n mens nooit as ’n middel tot ’n doel nie, maar altyd as ’n doel insigself.

Ongelukkig het dit vir Kant nie alle mense gegeld nie. Volgens hom was dit in orde om Indiane uit te wis, Afrikane as slawe te neem en oor Oosterlinge te heers. Die onderskeidinge berus op Kant se teorie oor die relatiewe rooiheidsgraad van verskillende rasse: hoe rooier, hoe minder mens. Selfs in Wes-Europa, waar volgens Kant die mens-mense woon, troon die meer noordelike volke in redelikheid en moraliteit bo die ander uit, nes mans bo vrouens. So spreek die man van Königsberg!

Maar kom ons laat dit vir eers daar. Kant se filosofiese insigte is nie noodwendig waardeloos omdat sy eie pseudo-wetenskap (en daarvan het ons vandag nog genoeg) in stryd daarmee verkeer nie. Gestel ons het ’n inherente sin vir reg en verkeerd. Hoe beoordeel ons dit? Is dit blote instink, met dieselfde geldigheid as ons ewe sterk drange om die reëls te oortree as dit ons pas? Hoekom sal ek my inspan om my plig te doen ook wanneer dit nie in my belang is nie? Bloot omdat ek dit nie kan verhelp nie? Soms. Of dalk selde.

Nee, sê Kant. Ons beoordeel ons eie gedrag, en dié van andere, asof daar regtig ’n objektiewe maatstaf is – weliswaar ín ons, maar onafhanklik van ons. Ons glo dat daar morele waarhede is, nie net voor- en afkeure, luste en grille nie. Wanneer ons dit doen – en ons kan nie anders nie – veronderstel ons implisiet dat ons keuses kan maak, en dat daar ’n instansie is wat daardie keuses volgens die morele wet beoordeel, die kwaad vergeld en die goeie beloon. En aangesien ons in hierdie lewe nóg kry wat ons toekom, nóg die etiese ideaal volkome verwesenlik, verklap ons pogings daartoe dat ons, bewus of onbewus, ’n hiernamaals verwag. Hierdie implisiete geloof in “God, vryheid en onsterflikheid”, waaraan niemand volgens Kant ontkom nie, noem hy “postulate van die praktiese rede”.

Nou hoekom sondig ons dan so?

avatar

Oor | About Gerrit Brand

Gerrit is senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch, en die skrywer van verskeie vakkundige en populêre artikels asook die monografie Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. Sy blog, DinkNet, kan op die aanlyn joernaal LitNet gelees word. Verder skryf hy rubrieke vir die Kerkbode, die Maandblad Zuid-Afrika en Streven. Hy is getroud met Lucia, en hulle het twee seuns, Simon en Arend. Hulle woon in Stellenbosch. || Gerrit is senior lecturer in systematic theology at Stellenbosch University, en the author of several academic and popular articles, as well as the monograph Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. His blog, DinkNet, can be read on the online journal LitNet. He also writes columns for Kerkbode, Maandblad Zuid-Afrika and Streven. He is married to Lucia, and they have two sons, Simon and Arend. They live in Stellenbosch.
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>