“Die dag kan kom dat ons vir die val van die ANC-regering bid soos ons vir die val van die apartheidsregering gebid het!” waarsku emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in sy toornige reaksie op die regering se onwilligheid om ‘n visum aan die Dalai Lama uit te reik. “Die ANC is erger as die apartheidsregering,” reken Tutu, want ons verwag dat mense wat self onreg gely het van beter moet weet. Tog kies juis hierdie regering die kant van China in sy onderdrukking van die Tibettane.
Ek vermoed daar was ‘noomblik van stilte toe Suid-Afrikaners dié woorde hoor. Was dit ‘n geskokte stilte? ‘n Stilte van ongeloof? Dalk die soort “oomblik van stilte” waarvoor by ‘n doodsberig gevra word?
Mag die kerk só praat?
Die moderamen van die Verenigende Gereformeerde Kerk dink so. Hoor wat sê hulle ‘n tyd gelede oor pres. Jacob Zuma se belofte dat mense wat vir die ANC stem hemel toe sal gaan – ‘n belofte wat volgens die moderamen besonder hol klink gesien die “hel” van armoede en swak dienslewering waarin die meeste kiesers hulle bevind:
“Die leiers van die VGKSA het geen ander keuse nie as om ‘n beroep op al haar lidmate te doen om hul gewete voor God te toets, ernstig te besin en hulle af te vra of hulle in die komende verkiesing vir enige party kan stem wat geen respek vir hul geloof het nie.”
Menige VGK-lidmaat se ore het getuit by die lees hiervan. Kan die kerk só praat?
In sy boekie Apocalypse and Allegiance: Worship, Politics, and Devotion in the Book of Revelation skets J. Nelson Kraybill die konteks waarin die boek Openbaring geskryf is met ‘n ware verhaal: In die jaar 66, kort ná die groot brand in Rome waarvoor keiser Nero die Christene blameer en vervolg het, onderneem Tiridates, koning van Armenië, met ‘n gevolg van 3 000 ruiters uit Parthië (in vandag se Iran) ‘n reis van nege maande na Rome. As Parthiër van afkoms wou hy wys dat sy lojaliteit nie by die Parthiese Ryk nie, maar by Rome lê – ter wille van handelsbande en bekroning deur Nero.
By sy aankoms is Tiridates feestelik ontvang. In die forum is hy toegejuig toe hy voor Nero buig en verklaar:
“Meester, ek is die afstammeling van Arsaces, broer van die konings van Vologases en Pacorus, en u slaaf. Ek het na u gekom, my god, om u net soos Mithra (die songod) te aanbid. Die toekoms wat u vir my bepaal, sal myne wees, want u is my Voorspoed en my Lot.”
Nero was in sy skik:
“Jy het reg opgetree om self hierheen te kom sodat jy in hierdie ontmoeting my genade kan ervaar … Ek verklaar jou koning van Armenië sodat jy … kan verstaan dat ek die mag het om koninkryke te neem en te gee.”
Internasionale betrekkinge, handelsbande, blyke van lojaliteit en ondergeskiktheid, goddelike aansprake deur politieke leiers. En nou praat Johannes van Patmos in die boek Openbaring oor mense wat die “draak” en die “dier” aanbid; “Babilon” wat as koningin op haar troon met mag en welvaart spog; “konings van die aarde”, “sakemanne” en “seevaarders” wat intiem met haar verkeer en hulle in haar weelde verlustig … en hulle almal se gewisse ondergang. Johannes se tydgenote wis presies van wie hy praat.
Maar kan die kerk só praat?
Die algemene sinode van die NG Kerk sal hierop antwoord wanneer besluit word oor die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar, wat eis “dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid”, dat die geloofsgemeenskap “as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes”, en dat Christene “as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel”.
Hierdie artikel het oorspronklik op Gerrit se DinkNet-blog verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment