Die jongste miniseminaar op LitNet, waaraan Danny Titus en Cornelius Thomas tot dusver deelgeneem het, gaan oor die gelykheidshoef-uitspraak waardeur Julius Malema en kie. verbied word om hardop in die openbaar oor rassemoord te fantaseer. Oor “Skiet die K**!” of “Juden raus!” sou die hof seker dieselfde besluit het, maar omdat wit Afrikaners hier die teiken is, en nie swartes of Jode nie, is die uitspraak omstrede. Polities korrektes vind dit nog steeds grillerig om aan Afrikaners as mense met regte te dink.
Die suggestie dat die lied “Skiet die Boer!” deel van die ANC se trotse vryheidstryd-erfenis is, is nie juis vleiend teenoor daardie erfenis nie, want dit suggereer dat dit rassisties, moorddadig en terroristies was. Dis nie ek wat so sê nie, maar die apologete vir die lied. Ook die argument (selfs deur die regter aangevoer) dat liedere soos hierdie een in die konteks van die vryheidstryd aanvaarbaar was, maar dit nou, in ‘n demokratiese samelewing, nie meer is nie, is problematies. Kan dit ooit in orde wees om mense tot die doodmaak van ‘n etniese groep aan te spoor, of daardie groep nou die “vyand” is of nie?
Dan is daar die lagwekkende suggestie dat die lied geensins deur die massas verstaan word as aanhitsing tot geweld nie. Die reële effek van sulke “struggle-liedjies” het relatief onlangs al duidelik geblyk toe die skuldiges in die xenofobiese townshipgeweld hulself met Jacob Zuma se “Bring my masjiengeweer!” aangepor het (iets wat terloops nooit deur Zuma afgekeur is nie). Die Malema-lied weerklink in ‘n konteks waar boere gereeld aangeval en vermoor word. ‘n Paar jaar gelede is groot gewag gemaak van ‘n studie wat bevind het dat swart boere net so gereeld soos wit boere op hul plaas aangeval word, maar minder aandag is gegee aan dieselfde studie se bevinding dat aanvalle op wit boere geneig is om meer gewelddadig te wees. “Boer” met ‘n hoofletter en “boer” met ‘n kleinletter is kennelik tog met mekaar verstrengel. Dis dan ook nie net in die lied “Skiet die Boer!” dat Boere honde en diewe genoem word nie; Malema verwys ook in sy toesprake na wittes as diewe.
Malema, Mantashe en andere se argument dat die Grondwet en die howe die meerderheid in hul strewes strem, verraai baie oor hul gebrek aan insig in die konsep van menseregte. Die hele punt van ‘n Menseregte-handeves is om burgers, ook minderhede, teen die massa se grille te beskerm! Die meerderheid mag besluit hoe ‘n land bestuur word, maar daar is perke: Hulle mag nie basiese regte aantas nie, en dit sluit in dat hulle nie haatspraak mag beoefen nie – of dit nou hul “strewe” is of nie. Daarom is die Freedom of Expression Institute ook verkeerd om die hofuitspraak as gevaarlik vir spraakvryheid te beoordeel. Spraakvryheid kan nooit die reg op haatspraak insluit nie, nes die reg op godsdiensvryheid nooit steniging of huishoudelike geweld kan insluit nie.
In vergelyking met Duitsland, waar ontkenning van die Jodemoord strafbaar is, is ons Grondwet baie verdraagsaam. Selfs die Britte se uitwissingsveldtog op die Xhosas of die volksmoord op wit én swart slagoffers van die konsentrasiekampe kan ontken, afgewater of bespot word sonder dat daar enige geregtelike gevolge is. Die enigste beperking is haatspraak, en dit word eng gedefinieer – eksplisiete aanhitsing tot haat en geweld. Dat Malema dááraan skuldig bevind word, is ‘n aanduiding van hoe verwerplik sy optrede is, en selfs al sou die Grondwetlike hof later anders bevind, sou dié verwerplikheid nie verminder nie. Ek sou ook steeds volhou: As “Skiet die Boer!” (of “Skiet die K**!” of “Juden raus!”) nie as haatspraak kwalifiseer nie, dan bestaan haatspraak nie.
Die mees kommerwekkende soort reaksie op die hofuitspraak is dat dit jammer is omdat dit tot groter oproer onder Malema se volgelinge kan lei. Dit is onder andere Max du Preez se siening. AfrikForum word dan verwyt dat hulle rassespanning stook deur so ‘n saak na die hof te bring. Dink ‘n bietjie daaroor na: Dis verkeerd om ‘n menseregte-vergryp deur die howe te beveg, want dit kan die vergrypers kwaad maak en tot nog groter vergrype lei. Dit laat ‘n mens aan Mussolini se Swart Hemde dink, of aan antisimitiese jeugdiges gedurende die opkoms van Hitler as Duitse leier. Selfs binne die ANC word stappe teen die onbeheerde Malema versigtig aangepak uit vrees vir massa-geweld – ‘n tendens wat veral momentum gekry het toe Malema (wat onlangs die “for” uit “I will kill for Zuma” verwyder het) saam met ander ANC-leiers die howe en die media met geweld en ‘n onregeerbare land gedreig het sou hulle die reg sy loop in die geval Zuma laat neem. Dat daardie openbare intimidasie van ons regbank suksesvol was, was ‘n slegte keerpunt in ons geskiedenis. Moet ons aan dié soort intimidasie toegee?
Hierdie skrywe het oorspronklik op DinkNet verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment