Vryheidsliedere speel oor eeue heen ‘n onontbeerlike rol in mense se stryd om bevryding van verontmensliking en vir menswaardigheid, bevryding van onreg en vir geregtigheid, bevryding van verdrukking en vir ‘n lewe van vryheid, verantwoordelikheid en diens.
Die Joods-Christelike tradisie ken reeds sulke liedere. Dink byvoorbeeld aan die klassieke Psalm 126. Twee weke gelede het die bekende Maranatha Mannekoor saam met ander kore juis ‘n praguitvoering gehou in die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeente in Bellville. Hierdie uitvoering het gefokus op die Christelike vryheidsliedere wat mense gesing het in die Amerikaanse stryd teen slawerny en segregasie, asook in die anti-apartheidstryd van Suid-Afrika.
Ek onthou nog hoe ons op skool en universiteit, in kerk en in protesbewegings soos die United Democratic Front vryheidsliedere gesing het. Hierdie liedere het gehoop dat daar ‘n dag in Suid-Afrika sal aanbreek dat stryd plek maak vir vrede, onreg vir geregtigheid en verontmensliking vir menswaardigheid. Hierdie liedere het ‘n nuwe samelewing gevisioeneer van veiligheid in plaas van onrus. Dit het ‘n nuwe werklikheid van eenheid, versoening en geregtigheid verwag, en begin bewerk. Hierdie liedere het bygedra tot die wonder van vergifnis en ‘n betreklik vreedsame oorgang na ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika.
In demokratiese Suid-Afrika met sy grondwet wat fokus op menswaardigheid, geregtigheid en vryheid kan ons opnuut uit hierdie liedere put. Hierdie liedere gee hoop en krag in ons stryd om bevryding van armoede, werkloosheid, MIV/vigs, geweld, korrupsie, renosterverminking en wreedheid teenoor Gods skepping, en die talle gestaltes van onmenswaardige lewensomstandighede wat steeds die lot is van miljoene mede-Suid-Afrikaners. Uit die skatkis van vryheidsliedere kan ons daardie liedere haal wat hierdie edel oogmerke dien.
Sommige vryheidsliedere het uitdrukking gegee aan die posisie van sommige mense in die bevrydingstryd wat gekies het vir gewelddadige optrede om die geweld van die apartheidsapparatuur te stuit. Daardie keuse is beskou as ‘n keuse vir die minste van twee euwels, ‘n noodsaaklike en onvermydelike keuse, ‘n keuse wat nie ligtelik gemaak word nie, maar met pyn en skuld en seer. Ons dank die Here dat die dae verby is dat Suid-Afrikaners daardie spesifieke pynlike keuse moes oorweeg.
My pleidooi is tweërlei. Ek sou eerstens vra dat hulle vir wie daardie liedere herinner aan die pynlike keuse wat hulle of hul medestryders destyds onvermydelik móés maak vir geweld, nie meer daardie liedere sing in die konteks van ‘n demokrasie nie. Die demokratiese staat beliggaam nie die geweld van die apartheidstaat nie. Suid-Afrika is weliswaar ‘n demokrasie wat nog in sy kinderskoene staan en wat nog soveel moet vervul van sy belofte, maar ons is tog ‘n demokrasie. En een van die vreugdes van ‘n funksionerende inklusiewe en grondwetlike demokrasie is dat ons nie weer die pynlike keuse vir geweld teenoor mekaar hoef te oorweeg nie
Die moderatuur van die Algemene Sinode van die VGK het juis teen hierdie agtergrond verlede jaar die pleidooi gelewer dat sulke liedere nie meer gesing word nie.
En ek sou tweedens wou vra dat hulle wat die gevolge van hierdie liedere in ‘n land met hoë misdaad- en geweldsvlakke met reg vrees, en dit tereg opponeer, wel begrip probeer toon vir die oorsprong en assosiasies van hierdie liedere. Sodanige instelling sal help dat protes teen die voortgesette gebruik van daardie liedere op konstruktiewe wyse geskied, en dat daardie deel van die repertoire van vryheidsliedere weldra nie meer gehoor word nie.
Hierdie rubriek het oorspronklik in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment