Goeie genade, is dit dan genoeg?

Van etiek gepraat. Van die 19e eeuse denker Ralph Waldo Emerson stam ’n vers getitel “Grace.“ Vry vertaal, in sy outydse idioom, lui dit ongeveer: “Hoe véél, o God van verhoed en van kéér//hoe véél dank ek nie aan U mure se wéér?//Voorbeeld, gewoonte, vrees, trae kanse – dié geminagtes vorm my veilige skanse.//Ek waag dit skaars om te loer oor dié mure//na die siedende golwe in die dieptes benede//na die dieptes van kwaad wat oor my sou woed//sou dié wande my nie teen mysélf bly behoed.“

Letterkundiges verskil oor agtergronde en invloede. Party wonder oor Milton. “Grace“ se eerste konsep is immers geskryf op die binneblad van ’n Milton bundel, in Emerson se besit op reis in Italië, op dié se spore. Ánder dink aan die prediker Jonathan Edwards se siening van “algemene genade“ – en die strekking pas inderdaad by dié Calvinistiese leer. Sy beeldspraak verwys na ’n veilige vesting. Hy dank God vir die genade van skanse óm hom. Sy vier mure (letterlik: borswerings) word wel dikwels gesmáád (inspirerende sedelike vóórbeelde; vormende invloed van gewóónte, tradisie en gebruik; vréés vir betrap, beskaam, beskuldig en bestraf word; die feit dat káns vir kwaad doen gelukkig nié so volop kom nie), dog, verag ofte nie, vir hóm is al vier genade-gawes. Hy wil nie eens dínk oor die diepe ellende waarin hy kón land, was dit nie vir dié mure nie, net aan homsélf oorgelaat.

Sulke gedagtes ís tipies van die algemene genade-leer. Dis genáde om in samelewings te lewe waar regskapenheid heers, orde, moraal. Genade om in gemeenskappe te lewe met tradisies, leiersfigure, rolmodelle. Genade dat ons skáámte ken, inhibisie, vrees, gewete. Genade dat ons nie aldag in posisies kom om ons oneerlik te verryk, korrupsie te pleeg, weg te kom met moord nie. Die probleem is net dat dié soort denke nié tipies is van Emerson nie, inteendeel! Sy denke is een van “self-reliance“ – nié genade en dank nie. Dalk dié dat hy nie dié gedig wou insluit in sy eie bundels nie! Dalk uit skaamte vir dié oomblik van swakheid in die Toskane! Maar goeie genade, is self-reliance regtig genoeg? Wat daarvan as ék verantwoordelik en selfbeheers handel, maar ander nié? Vanwaar kóm betroubare bure en burgers, om op te kan reken? Dís tog die etiese vraag? Soos die pasiënt vir die psigiater sê, na weke se behandeling. “Baie dankie, ek is nou genéés. Ek wéét nou ek is nié ’n mielie nie. Maar wat as die hóénders dit nie weet nie?“ – DJS

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>