Verlede maand kon ons sowel die Franse Ope as die Wimbledon-tennistoernooi volg. Wat in albei toernooie opvallend was, was die gebalde vuis van die spelers wat as simbool van ‘n wenhou gebruik is, of veral wanneer die opponent ’n fouthou gespeel het. In tennis wen ons nie net op grond van ons vermoë nie, maar word wen ook toegeskryf aan die aantal foute wat die opponent maak. In alle sportsoorte word daar gejuig wanneer die opponent ’n fout maak, word die foute van die opponent rede tot blydskap en word die swakhede van die opponent uitgebuit.
In die Christelike leer word die teenoorgestelde voorop gestel. In die geloofsgemeenskap word juis dit teëgewerk wat in sport gebeur, naamlik om bly te wees oor die foute van ander. Want die evangelie van ons ondersteuners van mekaar maak, dit wil ons as navolgers van Jesus juis omvorm tot hulpverleners en beskermers van mekaar, dit wil ons tot mede-verantwoordelike draers van mekaar se laste en swakhede transformeer. Paulus bely dit: “ Wees bly saam met die wat bly is en treur saam met die wat treur…” (Rom.12:15) en “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly” (1Kor.12:26). Dit bly ’n paradoks waarmee ons as Christene sukkel, want op die sportveld speel ons om te wen en ja, is ons as sportmanne en -vroue bly oor die foute wat ons opponent maak, want só word ons pad na die podium van wenners verseker.
Dié gesindheid pas nie in die binnekamers van die geloofsgemeenskappe waaraan ons behoort nie. Tog trap ons as leiers en Christene dikwels die betrokke stel af. Dink maar aan hoe ons handel met die broer of suster wat in ‘sonde geval’ het, of wat ons sê en dink van hulle wat teologies van ons verskil. Dink maar wat maak ons met die ampsdraer wie se take nie betyds afgehandel is nie, en hoe ons mekaar se swakhede voor die ander hou, net dat ons self goed en beter kan lyk.
Die kerk se geskiedenis lê besaai met verhale van mense wat in en deur die kerk seer gekry het. Die verhale gaan baiekeer oor leerstellige en morele verskille, en waar mense gevoel het hulle is nie ruimte gegun om te verskil nie, of dat nie na hulle geluister is nie, of dat hulle nie gerespekteer is nie. Vir my sê dit iets van ’n gesindheid binne die kerk in die algemeen, wat neig om die foute, swakhede, andersheid en selfs sagmoedigheid van leierskap, nie te verdra of te probeer verstaan nie. Een so ’n seer verhaal vertel dat as jy in en deur die kerk onder verdenking gebring is, die kerk nie jou naam in ere kan herstel nie. Dus is dit des te nodiger dat ons binne die kerkgemeenskap soveel meer sensitiwiteit, begrip, liefde, geduld en verdraagsaamheid aan die dag moet lê.
Hieraan herinner ons pinkstervieringe ons. Die Gees wat ons gegee is om ons te ondersteun, te inspireer en te verseker dat ons in hierdie stryd op ons eie kragte alleen hoef staat te maak nie. Die uitstorting van die Heilige Gees laat my opnuut besef dat die kerkgemeenskap maar broos, wisselvallig, afhanklik en lerend is.
Sou ons dit binne dié besonderse gemeenskap dit kan regkry om met deernis, begrip en fyn aanvoeling met mekaar en mekaar se foute om te gaan, sal die kerkgemeenskap weer leiding kan gee. Sou ons as geloofsgemeenskap dit regkry om mekaar in tye van swakhede en foute te omarm, sal dit haar help om haar stem terug te kry.
Hierdie artikel het oorspronklik as deel van Die Burger se Godsdiens Aktueel-reeks verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment