Beskou die stakings as ’n roep na omgee

Ekonomiese geregtigheid is nie net ‘n politieke woord of spel nie. Dit het inherent te make met die Bybel, godsdiens, lewensgehalte en etiese gedragskodes. Ekonomiese geregtigheid het ten diepste te doen met die lewensingesteldheid van mense. Dit raak ons almal. Dit bepaal waar ons kinders skoolgaan, watter bydra ons tot die ontwikkeling van ons  gemeenskap lewer en dit het ‘n direkte uitwerking op die politieke stabiliteit van ons land. Dus is dit geen wonder dat armoede so ‘n groot vraagstuk is en dat die uitwissing van armoede so ‘n kritieke uitdaging bly nie. Daarom kan ons nie die huidige stakings afmaak as net die geldgierigheid van sommiges nie, of sê dat stakers persoonlike belang bo die ekonomiese groei van die land stel of bloot eties onverantwoordelik is nie.

Dit is ‘n feit dat Suid-Afrika sedert verlede September die land met die grootste gaping tussen ryk en arm is. Hoe ons hierdie gaping gaan vernou, bly ‘n realiteit wat ons aandag, energie en beplanning verg; anders loop  ons gevaar dat die gaping nie net groter kan word nie, met onherroepelike gevolge, maar dat die stakings die begin van ‘n revolusie kan wees.  In dié lig gesien, het die stakings nie net met die verhoging van slarisse te make nie, gaan dit nie net oor ekonomiese gelykheid of oor vrede en stabiliteit nie. Dit gaan oor menswaardigheid, menswees, man of pa wees, vrou wees en moederskap. Dit gaan oor ouerskap, burgerskap en beslis oor dissipelskap.

Hoeveel keer lees ons nie in die Bybel byvoorbeeld (Markus.6:37-42) van Jesus wat sy dissipels opdrag gee om na die armes om te sien nie, wat hulle vra om die hongeres en behoeftiges iets te gee om te eet nie? Handeling 2:43-47 vertel van hoe die eerste gemeente alles bymekaar- gegooi het om na almal in die gemeenskap om te sien. Dit is sekerlik die uitdagendste vir ons as gelowiges (en Christene wat meer as 79% van ons bevolking uitmaak), wat  - so glo ek – iets kan doen om die gaping tussen ryk en arm te help vernou of sodat ons vinniger na ‘n situasie van ekonomiese gelykheid kan beweeg.  Dié  aan die bopunt van die inkomstelys  moet dalk bietjie afstaan sodat dié aan die onderpunt ‘n mensliker bestaan kan voer.  Miskien moet ons ons  ekonomiese beleid op waardes soos omgee, gelykheid en menswaardigheid vestig. Miskien lê die keuse nie meer net tussen kommunisme, kapitalisme of sosialisme nie. ‘n Eenvoudiger leefstyl het nog niemand doodgemaak nie. Dié opmerking van Mahatma Ghandi laat my dink:

“ Daar is genoeg in die wêreld vir almal se nood, maar nie genoeg vir almal se gierigheid nie.”

Hoe langer die gaping duur, hoe meer word strukture, orde, gesag, instellings, wette, verhoudinge en menselewens sowel as die lewenskwaliteit van burgers bedreig. Dat die  menslikheid van die mens ook deur ekonomiese ongeregtigheid bedreig word, kan nie buite rekening gelaat word nie. Wanneer tekens hiervan bespeur word, kom die skrif aan die muur. Dít  moet ons almal keer deur nou die ekonomiese gaping te probeer vernou. Is die slagspreuk van die ANC-regering dan nie ook “Saam kan ons meer doen” nie?

Kom ons hoor andermaal Jesus se woorde: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Daarmee word bedoel: Kom ons gee om. Kom ons gee sosiaal en ekonomies om vir ander en almal. Want ek meen die stakings is ’n roep na ekonomiese omgee.

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn as deel van die Godsdiens Aktueel-reeks in Die Burger.

This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>