In vandeesmaand se LitNet-essay skryf George Claassen krities oor die vervagende grens tussen egte redaksionele en kunsinhoud enersyds en reklame andersyds – onder meer met verwysing na onlangse uitsendings van die sepie 7de Laan. Ek is dit heelhartig met hom eens.
‘n Mens sou ook ander programme kan noem – soos die episode van The Gilmore Girls waarin die jong meisie se verhouding met haar pa die tema is, en sy dan op ‘n stadium noem dat elke goeie pa vir sy dogter ‘n Barbie-pop koop wanneer sy ‘n vrou word (!?), terwyl haar afwesige pa dit nooit gedoen het nie. Nie net word die produknaam ingesmokkel nie, maar die mark word sommer ook doelbewus verbreed! En dan die rolprente, soos die James Bond-films waarin, sedert daardie een waarin 007 skielik ‘n BMW in plaas van die gebruiklike Britse motor uit die romans ry, aanhangers by elke nuwe aflewering wag om te kyk watter motormaatskappy nou die meeste aan die filmmaker-prostitute opgedok het.
Net so erg, of dalk selfs erger, as die geplante advertensies in 7de Laan is die wanpraktyke in die vroegoggendprogram Expresso op SABC 3. Dis ‘n teksboekvoorbeeld van die oortreding van ‘n fundamentele etiese beginsel in die joernalistiek.
‘n Onderhoud word byvoorbeeld met ‘n bekende sportman- of vrou gevoer. Op ‘n stadium word dan gevra of ‘n mens op so ‘n gevorderde vlak sport kan beoefen as jy nie voeding-aanvullings gebruik nie. O nee, beslis nie, antwoord die sportheld. En watter aanvullings gebruik jy? vra die onderhoudvoerder. Waarop die gas antwoord: Ek gebruik … Sodra die naam van die produk genoem word, verskyn ‘n prentjie met detail oor daardie produk op die skerm. Aanbieders en deelnemers aan die program praat oor ‘n produk asof hulle daarmee hul eie mening gee, terwyl hulle in werklikheid geld vir die program verdien deur daardie menings te lug en soveel aandag aan die produk te gee. Dis misleidend en dus oneties.
Ek onthou ‘n onderhoud met ‘n bekende Afrikaanse middelafstand-atleet (wie se naam ek nie kan onthou nie) in die jare tagtig. Die vrou wat die onderhoud voer, vra hom toe ook hoe sy dieet lyk. Hy antwoord dat hy dit en dat (byvoorbeeld spek en eiers) vir ontbyt eet, maar vir middagete net iets ligs, soos ‘n … (en toe noem hy die naam van ‘n bekende yogurt-drankie). Oeps! Die aanbieder bloos; die atleet besef sy fout en vra verskoning. Ons noem eintlik nie produkname op televisie nie, word hy herinner. Dit is die soort kultuur wat in daardie jare gegeld het.
Alles het deesdae ‘n geldelike betekenis. Die idee dat iets vir ‘n ander doel gedoen kan word as om geld daaruit te maak of skuld af te betaal, het vreemd, selfs onverstaanbaar geword.
Die mees radikale daad wat ‘n mens vandag kan pleeg, is om iets kreatiefs te doen sonder om daarvoor betaal te wil word. Daar is ook ander moontlikhede. Ek dink ek gaan ‘n Facebook-groep begin met die naam “Ek gebruik NIE ‘n Blackberry nie”.
* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Hierdie artikel het oorspronklik op Gerrit Brand se Litnet-blog, DinkNet, verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment