Slegte mense sing (glo) nie

Dis darem nie reg om die aanloop-sonder-stilstaan van verbygangers in Washington se metro (terwyl Joshua Bell viool speel) en die aanloop-sonder-stilstaan van die priester en leviet (in die Barmhartige Samaritaan se gelykenis) te vergelyk nie, skryf sy. Om estetika en etiek só oor een kam te skeer nie. Die één het tog net met smáák te make, met mooi en lelik – en daaroor help dit tog nie om te stry nie? Die ánder het egter met méns-wees te make, met goed en kwaad, reg en verkeerd – en dis iets anders, dink sy. Dan maak dit wél saak of ons verby haas of tyd maak.

Nou sal nie almal haar gelyk gee nie. Ryke denktradisies wil estetika en etiek wél verbind, ons sieninge van wat mooi is met dié van wat reg is. Ons aanvoeling vir die skone met dié vir die goeie. Denkers, digters, kunstenaars, musici deur die eeue peins oor dié verband. Die name lees soos ‘n who’s who van denkers en dromers. Plato leer al dat die Skone, Goeie en Ware één is. Wittgenstein, dié filosoof van die 20ste eeu, skryf vroeg al in sy dagboek dat estetika en etiek één is. In Amerika verbind die invloedryke John Dewey dié twee. In Europa worstel die Duitse Gadamer en Franse Lyotard albei met Kant se nalatenskap wat ons vermoë tot onderskei en oordeel – in kuns én moraliteit – verbind. Ook Daniel Barenboim, dirigent en pianis, dink etiek en estetika sáám. Soos Philip McLachlan, gevierde Stellenbosse koorleier, in sy herinneringe Slechte mensen zingen niet. Sy titel stam van ‘n spreuk om nie te vrees waar liedere weerklink nie, want bose mense sing nie.

Dog dis nie die hele waarheid nie. Sy is reg. Die eeue is vól estetiese, kreatiewe, begaafde mense wat wél boosheid help pleeg en hande-gevou van onreg wegkyk. Die talent en gewildheid van skrywers, skilders, sangers en sterre waarborg nie dat hulle ook rolmodelle vir mens-wees is nie. Amos veroordeel al pragtige musiek terwyl onreg buite heers. Bonhoeffer die sing van Gregoriaanse gesange sonder om vir die Jode te stry. By Elmina staan psalm-woorde stééds op kapelmure reg bó-op kerkers waar slawe krepeer. In Spielberg se “Schindler’s List“ skiet skerpskutters willekeurig op niksvermoedendes terwyl Bach op die agtergrond speel. Barenboim wonder oor musiekliefhebbers soos Stalin en Hitler. Woody Allen luister nie na Wagner nie, want hy voel ‘n vreemde drang om Pole in te val! Dis tog net dénkbaar dat die leviet en priester al singende verby die geweld kon stap? – DJS

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.


avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>