Die Ou en Nuwe Testament se woorde vir geregtigheid het sowel ‘n juridiese as ‘n helende, opofferende en versoenende dimensie. Geregtigheid is daarom ontfermende, versoenende geregtigheid.
Die Bybelse begrippe vir versoening het sowel ‘n eenheidsdimensie as ‘n regmakende-, ‘n geregtigheidsdimensie.
Geregtigheid bring dus versoening voort. En versoening staan in diens van geregtigheid. Die twee is verweef met mekaar. Die een bestaan nie sonder die ander nie. Die Bybel ken dus nie die taal van eers geregtigheid en dan versoening nie. Of, ons is mos nou versoen, vergeet van geregtigheid, versoening is tog al wat saak maak.
Versoening kan nooit die afsweer van geregtigheid impliseer nie. Geregtigheid kan eweneens nie versoening teenwerk nie. Geregtigheid is nooit vervreemdende geregtigheid nie.
Julius Malema se pleidooie vir geregtigheid moet ondersteun word. Sy gewildheid in baie kringe het waarskynlik daarmee te make dat hy soek na geregtigheid. Hy predik egter nie versoenende geregtigheid nie, maar vervreemdende geregtigheid. Sy soeke na geregtigheid vervreem op verskeie maniere.
Hy kan tog nie sy eie buitengewoon ryk lewenstyl in ‘n konteks van soveel armoede, waarteen hy dan juis te velde trek, regverdig deur te sê hy wil demonstreer jong swartmense kan ook welvaart beleef nie.
Hy kan tog nie geregtigheid najaag en tegelyk liedere sing wat duidelik die saak van versoening en nasiebou, wat so ‘n sentrale en edel strewe van ons lang bevrydingstryd is, belemmer nie.
Hy kan tog nie oplossings soek vir bestaande onreg deur metodes soos nasionalisering en onverantwoordelike grondhervormingsprosesse wat elders in die wêreld tot groter leed gelei het nie.
Die suggestie van sommige politieke leiers dat bruinmense ’n beter kans op werkgeleenthede elders in die land het, gee voor dat dit geregtigheid teenoor bruinmense bevorder. Dalk word daardie stellinge werklik met egtheid, groot omgee en sorg gemaak. Dit klink egter al te veel na ‘n nuwe verskyning van ‘n ouer vervreemdende geregtigheid, toe bruinmense tydens apartheid ook in die naam van geregtigheid teenoor bruinmense geografiese skuiwe teen hul sin móés maak.
Steve Hofmeyer lewer pleidooie vir geregtigheid vir sogenaamde minderheidsgroepe, maar hy bevorder eweneens vervreemdende geregtigheid. Sy dreigement oor die gebruik van die “k”-woord bevorder byvoorbeeld nie versoening en nasiebou nie. Sommige stemme wat in die naam van geregtigheid billike en noodsaaklike regstellende maatreëls summier afskiet, bevorder eweneens vervreemdende geregtigheid.
Kerke honger en dors na geregtigheid. Ons deel Juju se siening dat ons nie die uitsluiting van miljoene uit die welvaart van die land gelate kan aanvaar nie. Ons stem ook saam dat grondhervormingsprosesse verbeter en versnel moet word. Verder is dit onrusbarend dat die kloof tussen ryk en arm groei.
Ons deel Steve se siening dat daar nie teen sogenaamde minderheidsgroepe gediskrimineer moet word nie. En ons erken dat noodsaaklike regstellende maatrëëls soms op onbillike wyse toegepas word.
Kerke, alle godsdienstige gemeenskappe, ander instansies in die burgerlike samelewing en die media wil graag hande vat met politici, sakelui en kunstenaars om sosiale en ekonomiese geregtigheid in ons land te bewerk. Ons geloofstradisies dring ons om na ‘n geregtigheid te soek wat nie vervreem nie, maar versoen, en na ‘n versoening wat nie goedkoop is nie, maar geregtigheid voortbring. Ons werk graag saam aan ‘n blink toekoms, aan ‘n Suid-Afrika van regmakende versoening en versoenende geregtigheid!
Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn as deel van die Godsdiens Aktueel-reeks.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment