Oor stil staan en staar

Hy sou ook nie gaan staan het nie, sê iemand. As hý vroegdag op pad werk toe in ‘n metro-stasie ‘n violis moes hoor speel – al was dié ook wié en al het hy wát gespeel op wátse Stradivarius (alles met verwysing na die Washington Post se eksperiment in 2007, toe inderdáád feitlik niemand bly staan het om na die beroemde Joshua Bell te luister nie) – dan het hy sowaar óók nie bly staan en staar nie.

Dis nie ‘n kwessie van smaak nie, sê hy, en het weinig te make met estetika en etiek (want hy het sélf sowel smaak in musiek as oordeel in morele sake). Dis eerder ‘n kwessie van die geskikte oomblik, of nie. Sy vraag is of dit billik was om die arme verbygangers – immers haastig op pad werk toe – aan dié soort toets te onderwerp, asof hulle werklik keuses gehad het? Om te staan en luister na die maestro – en só laat te kom by die werk? Dis ‘n saak van regte plek en regte tyd, of nié, sê hy. ‘n Saak van prioriteite. Die sisteem het hulle nie toegelaat om anders op te tree nie, is sy beswaar.

Hy is natuurlik doodreg. Het volkome gelyk. En dis juis die punt. Dis presies die vráág. Is dit reg dat die sisteem ons prioriteite, ons oordele en keuses, ons gedrag en lewe só bepaal? Ons estetiese oordele – en vir ons voorskryf wanneer en waar iets vir ons mooi mag (ja, móét) wees, en waar en wanneer nié? Ons etiese oordele – en vir ons voorskryf wanneer en waar iets en iemand vir ons waardig en heilig mag (ja, móét) wees, en waar en wanneer nié? Ons lewensoordele – en vir ons voorskryf waar en wanneer ons mag stilstaan en staar, waarvoor ons verwonderd, erkentlik, dankbaar mag voel? Asof ons nie sélf kan somme maak nie?

Natúúrlik word ons voorgeskryf. Alhoewel, deur watter “sisteem“? Wié skryf so vir ons voor? Bedoel ons dalk die tydsgees, die openbare mening, verwagtinge van mense? Die ideologiese oortuigings (die sieninge, waardes, ideale) waarmee ons groot geword het? Dit wat álmal dink, sê en doen? Word ons oordele – oor estetika, oor etiek, oor die prioriteite van die lewe – dan deur “almal“ bepaal? Regverdig wat almal sê en doen dan óns keuses en óns gedrag? Geld tydsgees en groepsdruk dan as verskoning vir óns lewe, óns haas, óns gejaag, óns siende blind en horende doof wees? Dit was vir seker Kant se kritiese vrae. Maar was dit nie dalk ook al Jesus s‘n, in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan nie? Sou die priester en die leviet nie immers óók kon sê dis nie die regte oomblik en geskikte plek nie (Luk 10:25-37)? - DJS

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn.

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

2 Kommnetaar vir Oor stil staan en staar | 2 Responses to Oor stil staan en staar

  1. avatar Acama Fick says:

    Baie dankie vir hierdie stuk, Dirkie. Ek het dit baie geniet en gewonder wanneer iemand hier rond iets oor die, nou reeds byna legendariese, gebeurtenis rondom Joshua Bell gaan skryf. Ek wonder nou self of ek sou gaan staan en luister het – so lief as wat ek vir musiek is – of sou aanstoom “werk” toe!

  2. avatar Acama Fick says:

    Baie dankie vir hierdie stuk, Dirkie. Ek het dit baie geniet en gewonder wanneer iemand hier rond iets oor die, nou reeds byna legendariese, gebeurtenis rondom Joshua Bell gaan skryf. Ek wonder nou self of ek sou gaan staan en luister het – so lief as wat ek vir musiek is – of sou aanstoom “werk” toe!

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>