Hy sou ook nie gaan staan het nie, sê iemand. As hý vroegdag op pad werk toe in ‘n metro-stasie ‘n violis moes hoor speel – al was dié ook wié en al het hy wát gespeel op wátse Stradivarius (alles met verwysing na die Washington Post se eksperiment in 2007, toe inderdáád feitlik niemand bly staan het om na die beroemde Joshua Bell te luister nie) – dan het hy sowaar óók nie bly staan en staar nie.
Dis nie ‘n kwessie van smaak nie, sê hy, en het weinig te make met estetika en etiek (want hy het sélf sowel smaak in musiek as oordeel in morele sake). Dis eerder ‘n kwessie van die geskikte oomblik, of nie. Sy vraag is of dit billik was om die arme verbygangers – immers haastig op pad werk toe – aan dié soort toets te onderwerp, asof hulle werklik keuses gehad het? Om te staan en luister na die maestro – en só laat te kom by die werk? Dis ‘n saak van regte plek en regte tyd, of nié, sê hy. ‘n Saak van prioriteite. Die sisteem het hulle nie toegelaat om anders op te tree nie, is sy beswaar.
Hy is natuurlik doodreg. Het volkome gelyk. En dis juis die punt. Dis presies die vráág. Is dit reg dat die sisteem ons prioriteite, ons oordele en keuses, ons gedrag en lewe só bepaal? Ons estetiese oordele – en vir ons voorskryf wanneer en waar iets vir ons mooi mag (ja, móét) wees, en waar en wanneer nié? Ons etiese oordele – en vir ons voorskryf wanneer en waar iets en iemand vir ons waardig en heilig mag (ja, móét) wees, en waar en wanneer nié? Ons lewensoordele – en vir ons voorskryf waar en wanneer ons mag stilstaan en staar, waarvoor ons verwonderd, erkentlik, dankbaar mag voel? Asof ons nie sélf kan somme maak nie?
Natúúrlik word ons voorgeskryf. Alhoewel, deur watter “sisteem“? Wié skryf so vir ons voor? Bedoel ons dalk die tydsgees, die openbare mening, verwagtinge van mense? Die ideologiese oortuigings (die sieninge, waardes, ideale) waarmee ons groot geword het? Dit wat álmal dink, sê en doen? Word ons oordele – oor estetika, oor etiek, oor die prioriteite van die lewe – dan deur “almal“ bepaal? Regverdig wat almal sê en doen dan óns keuses en óns gedrag? Geld tydsgees en groepsdruk dan as verskoning vir óns lewe, óns haas, óns gejaag, óns siende blind en horende doof wees? Dit was vir seker Kant se kritiese vrae. Maar was dit nie dalk ook al Jesus s‘n, in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan nie? Sou die priester en die leviet nie immers óók kon sê dis nie die regte oomblik en geskikte plek nie (Luk 10:25-37)? - DJS
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
2 Kommnetaar vir Oor stil staan en staar | 2 Responses to Oor stil staan en staar
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
Baie dankie vir hierdie stuk, Dirkie. Ek het dit baie geniet en gewonder wanneer iemand hier rond iets oor die, nou reeds byna legendariese, gebeurtenis rondom Joshua Bell gaan skryf. Ek wonder nou self of ek sou gaan staan en luister het – so lief as wat ek vir musiek is – of sou aanstoom “werk” toe!
Baie dankie vir hierdie stuk, Dirkie. Ek het dit baie geniet en gewonder wanneer iemand hier rond iets oor die, nou reeds byna legendariese, gebeurtenis rondom Joshua Bell gaan skryf. Ek wonder nou self of ek sou gaan staan en luister het – so lief as wat ek vir musiek is – of sou aanstoom “werk” toe!