Steeds op soek na die reënboognasie

’n Duitse televisiespan maak ’n ondersoekende dokumentêre program oor Suid-Afrika. Op Soek na die Reënboognasie noem die vervaardiger dit.

Met die oog op die 2010-Wêreldbeker-sokker kyk die wêreld weer aandagtig na Suid-Afrika. Hoe was dit nou weer tydens apartheid, hoe het sake in die afgelope 15 jaar verloop? Wat het van die ideale en die drome geword?

As die wêreld volgende jaar op Suid-Afrika toesak, wat sal die mense sien? Het daar iets gekom van die reënboognasie?

Die jong vervaardiger noem haarself “Afro-Duits”: ’n Duitse moeder en ’n Ghanese vader. In Duitsland het sy al klaar naam gemaak.

Sy is vanweë haar velkleur deur neo-Nazi’s aangerand, maar het nie verbitterd en verskrik in ’n hoekie gaan sit en alle Duitsers vervloek nie.

Sy het na die Nazi-neste teruggegaan, geluister en gepraat, verneem waarom die rassehaat en verbittering nog daar is en ’n dokumentêre program gemaak wat in Duitsland opslae gemaak het en vandag met die samewerking van die regering oral in skole en gemeenskappe vertoon word – met bespreking. Duitsland leer steeds wat dit beteken as die skadu van die verlede oor die hede bly hang.

Sy kom dus met bepaalde sensitiwiteite na ons land, en met cre­den­tials, en vra: “Wys my die reënboognasie.”

’n Suid-Afrikaanse gids neem haar deur die land. Sy is geskok oor die fisieke skeiding van en afstand tussen ons steeds rasgekenmerkte woonbuurte, die plakkerskampe en die talle bewyse van die neerdrukkende lae van ons armoede.

Sy het gepraat met mense wat smalend van “die nuwe apartheid” praat.

Die verwyte van rassisme rondom die Caster Semenya-saak – is dit waar?

Sy lees nie net nuusberigte nie, maar ook die briewe- en SMS-kolomme. “Daarin hoor ’n mens die hartklop van die mense,” redeneer sy. Ek hou my hart vas, want wat soms dáárin staan?.?.?.

Sy vra oor die diepgewortelde woede wat so maklik by ons protesoptredes in vlammende geweld omslaan. Waar sien ’n mens dit, die reënboognasie?

“By sportbyeenkomste,” sê ek. “As ons wen. Jongmense saans in klubs.”

“In die kerk?” vra sy. Ek skaam my ’n bietjie. Die kameralens fokus skerp op my gesig. Sy wil my oë sien as ek antwoord.

Ek vertel haar dat die reënboog ’n boog is: ’n mens klim, gly ’n bietjie, en klim verder.

Maar daar is talle Suid-Afrikaners wat al iets van die reënboog laat sien. Waar mense doelbewus uit hul hokkies klim, grense deurbreek om by mekaar uit te kom en saam te soek na die dinge wat ons saambind; saam townships binnevaar om dinge saam te doen.

Waar ons ontdek dat een se kommer, een se nood, een se droom eintlik almal s’n is, dat die reënboog gevorm word deur mekaar se hande te vat.

Die reënboog kom en gaan, ons kry ’n kykie na God se belofte, ons sien die soom van God se sewekleurige kleed.

Maar vir dié wat glo, is die reënboog ’n sakrament in die lug; en ons word uitgenooi om deel daarvan te word.

En ons reik daarna, hand in hand.

Sy praat met haar kameraman. Sy wil my oë sien.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>