Onderskei tussen humor en sulke spot

Wow! ’n Hele dag gewy aan die profeet Mohammed! Nee, nie om hom die geloof wat hy gevestig het of sy volgelinge beter te verstaan nie, maar om die Moeslims se “verdraagsaamheid” te toets.
Daar is, so kom ek met ’n skok agter, iets soos ’n “teken-’n-spotprent-van-Mohammed-dag”.

Internasionaal.

Oor die wye wêreld heen wy spotprenttekenaars hul vindingrykheid en kreatiwiteit hieraan: om die profeet Mohammed te teiken en te teken.

Natuurlik word, so hoor ek van die verdedigers, dit alles gedoen in die naam van vryheid van spraak, daardie kosbare beginsel wat so dikwels hier by ons as die laaste wegkruipplek en loopgraaf van alle onberoulike dwepers van alle kleure en geure misbruik word.

Nog iets kom by.

Die Moeslims, sê ’n moedelose Mohammed aan sy psigiater, moet tog ’n bietjie humorsin leer.

Behalwe die suggestie dat die profeet sielkundige probleme het, drup die prent van paternalisme.

Saam met die volgehoue stereotipering en demonisering van Moeslims en die Islam die laaste dekades al deur Hollywood en in die media, het ons nou hierdie nuwe vorm van oneerbiedigheid en verontregting.

Islamofobie in humor-gewaad.

Moeslims is geskok en woedend.

Maar dit is nou juis die ding: As hulle ontsteld is, is dit die teken dat hulle nie volwasse genoeg is nie, nie “breed genoeg dink nie”, geen sin vir humor het nie.

Ergo: Die Islam is tog ’n onverdraagsame, gewelddadige, humorlose geloof.

Hoe dan ook, hulle verloor die argument.

Maar miskien is ek totaal verkeerd.

Miskien het Christene wel daardie sin vir humor, daardie breed-denkendheid.

Miskien sal ons geen beswaar hê teen so ’n internasionale “teken-’n -spotprent-van-Jesus-dag” nie.

Ek sien dit al: Jesus op die bank by sy psigiater: “Ag, nou kan ek uiteindelik aan iemand vertel dat ek ’n aangenome kind is.”

Of: Jesus en Johannes hou hande vas, staar mekaar in die oë en Jesus, so teatraal moontlik, sê: “Hoe bly is ek dat ons nie in Malawi woon nie!”

Of Jesus grootogig tussen al die vroue op Jerusalem se strate: “So many women, so little time.”

Is dit al skokkend genoeg?

Of kom ons toets sommer almal se verdraagsaamheid.

Die agtergrond is ’n Nazi-konsentrasiekamp, die rook trek uit die skoorstene.

Hitler en God staan peinsend voor die draadheining.

Hitler: “Ek soek ’n bietjie raad oor daai banvloek-ding.”

Ontstel dié moontlikheid ons?

Maar as dit so is, waarom is Christene nie hieroor ontsteld nie?

Wie sal vir ons Moeslim-broers en -susters in die bres tree?

Of swyg ons uit versigtigheid, hopende dat hierdie ding stil-stil sal verdwyn totdat ons met ’n sug van verligting môre weer met die lewe kan voortgaan? Wag ons totdat ons ontdek daar is niemand oor om vir ons in die bres te tree nie?

Intussen dink ek aan gemeenskappe waar Christene en Moeslims naas mekaar woon, vir en van mekaar suiker en melk leen, die kinders opvang en kos gee terwyl die ander nog nie tuis is nie, vir mekaar bid in Lydenstyd en Ramadaan, saam feesvier op Eid en Kersfees.

Skouer aan skouer het ons geveg vir ’n land met ’n grondwet wat regte beskerm en mense koester, wat ons leer om dit wat vir ander heilig is te eer en so ons menslike verweefdheid as kosbaar te bewaar en te sien as ’n roep uit God se hart tot ’n groter en egter vryheid as wat in die wet geskrywe staan.

Spitsvondige humor om ’n saak raak te vat is een ding.

Geteikende spot met die doel om te verkleineer en te demoniseer is iets anders.

Hierdie artikel het oorspronklik in Die Burger verskyn as deel van die Godsdiens Aktueel-reeks.

 

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

2 Kommnetaar vir Onderskei tussen humor en sulke spot | 2 Responses to Onderskei tussen humor en sulke spot

  1. avatar Marte Witwe says:

    I have an issue with making a mockery of anyone’s religion. Where is tolerance and respect? What does Psalm 1 say? We can learn from many religions, and sometimes Christans are of the most intolerant, demeaning mindset.
    Often ignorance is the problem – perhaps we must know more about our own religion and that of others.

  2. avatar Marte Witwe says:

    I have an issue with making a mockery of anyone’s religion. Where is tolerance and respect? What does Psalm 1 say? We can learn from many religions, and sometimes Christans are of the most intolerant, demeaning mindset.
    Often ignorance is the problem – perhaps we must know more about our own religion and that of others.

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>