Dis so ‘n bekende storie, dalk onthou almal dit nog? Dis wel steeds op die web te lees, die hele insident nog te siene. Op 8 April 2007 skryf Gene Weingarten sy berig in The Washington Post wat later die Pulitzer Prys kry, “Pearls before Breakfast.“
Op die koue wintersmôre van 12 Januarie dié jaar staan Joshua Bell in Washington op ‘n Metro-stasie vol regeringslui op pad werk toe – konsultante, beleidmakers, besluitnemers. Met bofbalpet agterstevoor, jeans en T-hemp, vioolkas oop op die grond. Hy is een van die grootste violiste van ons dag. Het pas konserte agter die rug in roemryke musiek-sentra, uitverkoop teen astronomiese pryse. Speel op sy 4 miljoen dollar Stradivarius uit 1713, van die mees komplekse stukke denkbaar. Almal wat later na die video kyk is eens, hy lewer die vertoning van sy lewe, passievol, geniaal. Hy begin met ‘n veel geroemde chaconne van Bach. Vervolg met Schubert, Ponce, Massenet, en wéér Bach, ‘n lewendige gavotte, vrolik, dansend.
Vir 43 minute speel hy. Presies 1097 mense stap verby. Feitlik niemand stop nie. Gaan staan nie. Huiwer eens nie. Hulle haas verby. Tussen die stukke – Bell sê later dis die pynlikste – is daar doodse stilte, géén waardering, géén erkenning, níks. Enkeles gooi munte in sy kis, maar álmal in die verbygaan, háástig. In totaal $32. Slegs kleintjies kyk om, rem terug, wil luister, wil kyk – maar die ouers sleep hulle weg, om nié te sien en hoor nie. Die video wys álles. Slegs sewe persone gaan effe staan – één van hulle bekóór, verruk, maar óók byna paniekerig oor die massas so verbysnel, op pad na béter dinge, gewigtiger afsprake, groter prioriteite.
Wat kan ‘n mens sê? Selfs Weingarten weet nie mooi nie. “What’s the moral mathematics of the moment,“ vra hy, en dink aan Kant, wat sê ons vermoë om skoonheid te waardeer en om morele oordele te maak is nou verwant. Albei vra dat ons iets herken, van waarde, gééstelike waarde, nie sommer met blote oë te siene nie. Estetika en etiek – én lewensgeluk! – verg álmal dat ons rááksien, sélf kan onderskei wat tél, van wáárde is, al oordeel ander ánders, al snel vele blindweg verby. “Tel jou seëninge,“ sing baie van ons, “en jy sal verbáás wees.“ Dalk oor skoonheid óm ons, náby, vertroud? Oor die prag, grootsheid, wónder van die gewóne?
As ons prioriteite tog net anders was. Ons “moral mathematics of the moment“ beter. Ons gejáág minder. Maar nouja, dis alles so bekend, wie ken dit nié? – DJS
Hierdie rubriek het oorspronklik in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment