Swak, onkundig en onrein

    My nuutste rubriek uit die Kerkbode -

Hoe oud is Adam en Eva geskep? Of liewer: Hoe oud het hulle op nul jaar gelyk?

Om dit te vra, is soos om te spekuleer oor die verlore seun (Luk 15:11-32) se naam of die ligging van die “ver land” waar hy sy erfporsie verkwis het. Daar is geen regte óf verkeerde antwoord nie, want die verlore seun wás nooit nie. Óns is die verlore seun.

Netso, verduidelik Danie du Toit op sy blog, Wolketrapper, is die tuinverhaal (Gen 2:4–3:24) nie ’n foto-album met prentjies van lank gelede nie, maar ’n spieël waarin ons onsself herken. Daar wás nie ’n Adam en Eva nie; óns is Adam en Eva.

Deur die eeue is die tuinverhaal (en die res van Gen 1–11) dikwels misverstaan as letterlike verslaggewing. (Sowel “jong-aarde-kreasioniste” as sommige ateïste mislees Gen 1:1–2:3 byvoorbeeld as in stryd met die Oerknal en evolusie.) Ook invloedryke kerkvaders het hierdie fout gemaak, deels omdat hulle die verhale in Griekse of Latynse vertaling gelees het, sodat die betekenis van name soos Adam (letterlik: Mens) en Eva (Lewe), en van woordspelings soos dié tussen Adam en “Adama” (grond), misgekyk is. Die kerkvaders het daarom ook na Adam en Eva se “ouderdom” gevra.

Irenaeus (3de eeu) meen die Eden-bewoners was kinderlik. Hulle is nie pasklaar geskep nie, maar moes tot geloofsvolwassenheid groei. Dit was onvermydelik dat hulle sou sondig (veral met verkeerde vriende soos die slang!). Die skuld lê meer by die duiwel as by hulle.

Augustinus (4de-5de eeu) meen weer hulle was volwassenes op die kruin van hulle lewe en dat hulle so sou gebly het as dit nie vir die sondeval was nie – “forever young”, soos Bob Dylan sing. Vir Adam en Eva was dit moontlik om nie te sondig nie; hulle is voluit aanspreeklik vir hulle misstap.

Beteken die korrekte lees van die tuinverhaal (as ’n spieël en nie ’n foto-album nie) dat die kerkvaders se vraag verdwyn? Nie heeltemal nie. Ja, óns is Adam en Eva, maar is ons soos kindertjies aan die kwaad uitgelewer, of is dit alles ons eie skuld?

Willem Wilmink se vertaling van ’n Jacques Brel-lied (gesing deur Hermann van Veen) suggereer eersgenoemde: “Worden er steden stukgesmeten / door kinderen van 50 jaar …” Bomme oor Dresden, Hirosjima, Bagdad … die werk van kinders wat gefrustreerd hulle speelgoed stukkend gooi. In Wilmink se “station vol met verdwaalden …” staan nie skuld nie, maar tragiek voorop.

Hoe kan God dan veroordelend roep: “Waar is jy?” (Gen 3:9); “Wat het jy nou gedoen?” (Gen 3:13); en “Waar is jou broer?” (Gen 4:9)?

Mense-ouers doen dit ook. Ons weet “kinders is kinders”; tog wys ons hulle tereg, hou ons hulle verantwoordelik. Marcel Sarot gebruik (in ’n ander verband) die voorbeeld van ’n ouer wat haarself as ’t ware kwaad máák – omdat dit die gepaste reaksie is, in die kind se belang. Die ou cliché sê mos: “Dit maak my seerder as vir jou!”

“Verantwoordelik hou” is nie die wrokkige onverbiddelikheid van “geregtigheidsmaniakke” (Johan Heyns) nie, maar beteken eintlik “verantwoordelik máák”, tot wasdom help kom, ’n wêreld van persoonlike verhoudings ontsluit – oordeel as ’n soort genade.

Hoekom maak God sulke “weerlose, weerlose mense” (Koos du Plessis) wat soveel kwaad aanrig? In ’n verhaal in die Koran pleit die engele by God om nie mense te skep nie omdat dit net tot ellende kan lei, waarop God antwoord: “Julle weet nie wat Ek weet nie.” Wát God weet, bly egter geheim!

Ook ons bring kinders in die wêreld, al sal nóg ons, nóg hulle die lewensreis ongeskonde voltooi. Daarmee beaam ons die Skeppergod se woorde: “En dit was baie goed” (Gen 1:31). Weet ons dalk tóg wat God weet?

Lees meer op die DinkNet-blog.

avatar

Oor | About Gerrit Brand

Gerrit is senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch, en die skrywer van verskeie vakkundige en populêre artikels asook die monografie Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. Sy blog, DinkNet, kan op die aanlyn joernaal LitNet gelees word. Verder skryf hy rubrieke vir die Kerkbode, die Maandblad Zuid-Afrika en Streven. Hy is getroud met Lucia, en hulle het twee seuns, Simon en Arend. Hulle woon in Stellenbosch. || Gerrit is senior lecturer in systematic theology at Stellenbosch University, en the author of several academic and popular articles, as well as the monograph Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. His blog, DinkNet, can be read on the online journal LitNet. He also writes columns for Kerkbode, Maandblad Zuid-Afrika and Streven. He is married to Lucia, and they have two sons, Simon and Arend. They live in Stellenbosch.
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

Soortgelyke Artikels | Related Posts

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>