Jij hebt het niet van mij, maar … Dit is die titel van ’n nuwe boek deur Joris Luyendijk wat die tonge los het in Nederland. Die subtitel: Een maand aan het Binnenhof. Luyendijk het naamlik soos ’n wafferse antropoloog (sy eie vergelyking) ’n maand lank die gedrag van politici en staatsamptenare in Den Haag dopgehou en met hulle gesels om ’n idee te kry van hoe dit alles werk.
Dit blyk dat ministers weinig mag het, dat die belangrikste beleidsbesluite agter geslote deure tussen staatsamptenare en “lobbyisten” geneem word, en dat debatte in die kamer (die parlement) basies toneelspel is, aangesien die beslissings lankal reeds geval het teen die tyd dat verkose politici daaroor stry. Frustrerend vir joernaliste, want hulle kan eers oor beleidsontwikkelings verslag doen wanneer dié skyn-drama hom begin afspeel; hulle word van die binnegesprekke weggehou.
Verras dit u?
Daar was ’n tyd, skryf die filosoof Slavoj Žižek, toe die publiek vermoed het dat wat politici voorhou nie noodwendig die waarheid is nie. Daardie tyd is verby, meen hy, want vandag wéét ons dat politici toneelspelers is wat fiksies aan ons verkoop – en hulle weet dat ons weet! Dis ’n soort verstandhouding; ons verwag nie eens meer “eerlikheid” van hulle nie. Ons hou die raserige borrels op die oppervlak dop en probeer raai wat regtig daaronder aangaan.
Maar sê nou die borrels is al wat daar is – dat wat na iets onder die oppervlak lyk ’n illusie is, soos die skynbare water en vissies op ’n plat betonvloer in ’n wetenskapsmuseum. Dis nogal wat ons hedendaagse kultuur suggereer.
Dink maar aan kosmetiese chirurgie. Dertig jaar gelede, toe dit nog ’n nuutjie was, het mense gewonder of daardie formidabele bates “haar eie” is. Deesdae word nie eens gepoog om die aangeplaktheid natuurlik te laat lyk nie. Daar word juis gepronk met die feit dat Mevrou haar borste “laat doen” het – nes haar neus, lippe en (ja, so verneem ek oor die nuutste trend in die VSA) haar mees private dele.
Dis ook lankal nie meer net vroue wat hulle so laat plastiseer nie. Mans doen net so gretig mee aan botox en daardie vreemde donkerbruin kleur op die gesig wat in die vorige eeu nog soos ’n natuurlike sonbruin probeer lyk het. Om van haar-inplantings en hormoon-inspuitings, wat die spiere van ’n 60-jarige soos ’n 20-jarige s’n laat bult, nie eens te praat nie. In ’n samelewing waar skyn en werklikheid nie onderskei word nie, word skyn uitgestal.
’n Voorbeeld op TV is die reeks Desperate Housewives, waarin valsheid en agterbaksheid as doodnormaal en nouliks afkeuringswaardig uitgebeeld word. (Ja, dis komedie, maar many a true word is spoken in jest.) Daar is ook “realiteitsreekse” soos die een waarin aspirant-modelle mekaar katterig ondermyn en in die rug steek terwyl hulle huilend, slordig en “in ’n toestand” bitter onooglik daar uitsien voordat hulle in glans op die loopplank verskyn. Die kyker weet dat die verskyning ’n lugspieëling is, nes die drama “agter die skerms” (maar voor die kameras!). Skyn is werklikheid, werklikheid skyn.
Byna ’n eeu gelede het CS Lewis gewaarsku teen ’n oordrewe wetenskaplike agterdog wat alewig déúr dinge wil sien. ’n Mens kyk immers deur iets, soos ’n venster, om iets anders te kan sien. As ’n mens deur álles wil kyk, sien jy later niks meer nie. Dan gewaar jy nie meer ’n werklikheid agter die skyn, ’n diepte onder die oppervlak, nie.
Tog is dit regte mense wat só kyk en miskyk, en regte mense wat deur dié blik verontmenslik word. As ons iets nie kan sien nie, beteken dit mos nie dis nie daar nie?
Die artikel is in Die Burger gepubliseer op November 24, 2010.
Deel Ons Artikel | Share Our Article
Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment