A. SINODALE NUUS
NGK Hoëveld Sinodesitting: Groeteboodskap
Prof Nelus Niemandt, moderator van die jongste algemene sinode van die NG Kerk, het op 18 April ‘n groeteboodskap by die Hoëveld Sinode gelewer. Hierin spel hy belangrike merkers vir die toekoms van ‘n gehoorsame kerk uit. Belangstellendes kan sy boodskap onderaan lees.
B. ALGEMENE NUUS EN INLIGTING
1. US Fakulteit Teologie: Winterskool
Predikante, studente, akademiese personeel van verskillende skole van godsdiens, asook die publiek, word uitgenooi na ’n Winterskool met die tema My Storie – Ons Storie – Dié Storie. Dit word van 5 tot 7 Junie deur die US Fakulteit Teologie in samewerking met Communitas, die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en Ekklesia aangebied by die Fakulteit (Dorpstraat 171, Stellenbosch). Inskrywings sluit op 25 Mei. Kry meer inligting en die registrasievorm by www.kaapkerk.co.za. Navrae na René Lindoor 021 808 9226.
2. Transformasie deur Sport-konferensie
Vanaf Gielie Loubser (PSD Jeug en Familie) en Ben Marais (Hope through Sport) ontvang ons die volgende nuus. ’n Konferensie oor die gebruik van sport en spel-inisiatiewe vind op 1 en 2 Junie in Claremont en 4 tot 7 Junie op Stellenbosch plaas. Hier word gekyk na nuwe uitdrukkings van gemeente-wees in ons tyd, om “kerk sonder mure” te wees en jongmense te beïnvloed. Sprekers is onder meer Cassie Carstens en Shodankeh Johnson (Sierra Leone). Klik hier.
3. Oorlewing in ‘n klein gemeente?
Hierdie werkswinkel, Hoe oorleef ek in ’n klein gemeente?, vind op 28 en 29 Mei by die Gariepdam plaas. Daar gaan gekyk word na hoe klein gemeentes hul bediening voluit kan geniet. Sprekers is onder meer Danie Mouton en Bossie Muller. Lees onderaan meer.
4. Konferensie: Gesonde Kerk vóór Groeiende Kerk
Van Richard Verreynne ontvang ons die volgende nuus: ’n Konferensie oor ’n nuwe spirituele verbintenis en gefokusde strategiese leierskap om gemeentes te help groei, word van 8 tot 10 Mei in Johannesburg aangebied. Aanbieders sluit in dr Harry Reeder (VSA), emeritus-professor Jurgens Hendriks en dr Peter Atoyebi. Besoek www.churchvitality.co.za vir meer hieroor.
5. Belangrike agtergrond oor Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling
Hoe pak die span medewerkers die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans aan? Prof Bernard Combrinck, spanleier, vertel die verhaal in die jongste Kerkbode (20 April) in gesprek met Tobie Wiese. Kerkbode vra ook in ‘n hoofartikel dat die Bybelgenootskap vertrou word met die vertaling. Aangeheg is meer oor hierdie belangrike saak. (Met dank oorgeneem uit Grens.Pos).
6. NG Gemeente George-Suid: Akkommodasie by Jeugkampterrein
George-Suid laat weet dat hulle akkommodasie vir vier gesinne by hulle jeughuise in Heroldsbaai beskikbaar het gedurende Junie, Julie en November 2012. Agtien km vanaf George, stapafstand vanaf die strand. Tarief R300 per nag per gesin, voorwaardes geld. (Dit is 50% afslag). Kontak Okkie Schoeman by 084 627 1054 vir besprekings en meer besonderhede.”
7. NG Gemeente Stellenberg: Faksnommer op Winkerk 7 – Let op!
Hester van der Merwe van Stellenberg laat weet dat ’n foutiewe faksnommer vir Stellenberg per ongeluk in die nuwe Winkerk 7-program verskyn. Alle Winkerk 7-gebruikers, let asseblief op die korrekte faksnommer: 086 683 7524. Dit is wel korrek in die Jaarboek van die NG Kerke.
C. GEMEENTES BIED AAN
1. NG Gemeente Parow-Panorama: Gebedseminaar
Van Parow-Panorama ontvang ons die versoek om bekend te maak dat dr Bennie Mostert op Donderdag 3 Mei (19:00 – 21:00) ‘n gebedseminaar by hulle gemeente (Rembrandtsingel, Panorama) aanbied. Dr Mostert, tentmaker by Moreletapark in Pretoria, is besturende direkteur van Jerigo Mure Internasionale Gebedsnetwerk wat gebed op nasionale en internasionale vlak wil bevorder/ mobiliseer. Navrae: [email protected] of 021 930 3100.
2. NG Gemeente Durbanville: Retraite deur Willem Nicol
Gys van Schoor stuur nuus oor ’n retraite wat van 11 tot 13 Mei by Wortelgat naby Stanford deur Willem Nicol aangebied word. Met die tema Die lewe in ’n nuwe kragveld kan jy jou oopstel vir ’n dieper begrip en intenser ervaring van Paulus se boodskap oor die nuwe lewe. Klik hier vir meer inligting en reageer voor 3 Mei. Navrae: 021 975 6370.
D. PREDIKANTENUUS
1. Predikant beskikbaar vir Pinksterdienste
Ds Dirk Oosthuizen is beskikbaar vir Pinksterdienste in die Wes-en-Suid-Kaap. Kontak hom gerus by 072 720 5417 of [email protected] vir verdere inligting. Dirk laat weet dat die leraars van NG Gemeente Suidpunt ook geskakel kan word in verband met sy beskikbaarheid. Hulle is ds Franciska Andrag-Meyer (028 435 6270) en ds Lukas van Vuuren (028 435 6106).
2. UV Beurs aan ds Gert Duursema toegeken
Ds Gert Duursema van die NG Gemeente Kimberley-Bet-El het onlangs ’n merietebeurs van die Universiteit van die Vrystaat ontvang. Die beurs is aan hom toegeken om navorsing in argiefbewaarplekke in Nederland te onderneem. Die navorsing fokus op die werk en lewe van prof Willie Jonker, die bekende teoloog. Lees gerus Noord-Kaapland eNuus se berig onderaan.
E. FUNKSIES EN FEESTELIKHEDE
1. NG Gemeente Vanrhynsdorp: Dorpsbasaar
Vanrhynsdorp hou op Saterdag 5 Mei om 10:00 hulle kerk se Dorpsbasaar. Die tradisionele basaar-items sal te koop aangebied word: poeding, pannekoek, braaivleis, rou vleis, koek en tert en baie meer. Daar sal natuurlik ook ‘n veiling wees, laat weet hulle. Almal is baie welkom!
2. NG Gemeente Parow-Welgelegen: Herfsmark
Parow-Welgelegen hou hul jaarlikse Herfsmark vanaf 7 tot 12 Mei te La Provenceweg 47, Welgelegen. Maandag tot Vrydag 10:00 – 19:00; Saterdag 09:00 – 14:00. Tagtig uitstallers met geskenke, gebak, droë vrugte, plante, handwerk, kunswerke, ’n koffiekroeg, smulgeregte en baie meer. Kontak Elma Bosman 021 558 0014/5. Alle inkomste ten bate van hulle uitreikprojekte.
3. NG Gemeente George-Suid: Basaar
Die NG Gemeente George-Suid hou basaar op Vrydag 4 Mei vanaf 17:00 by Fichatstraat 47. Gaan kuier gerus saam – hulle voorspel ’n “trommeldik-tuis-toe-gaan”! Moenie sonder jou gesin of bure gaan nie; almal is welkom! Skakel 044 874 3898 met navrae.
4. NG Gemeente Kraaifontein-Noord: Basaar
Kraaifontein-Noord hou basaar vanaf 09:00 op Saterdag 5 Mei by die Laerskool Fanie Theron in Bosmanstraat, Kraaifontein. Alles wat jy by ‘n basaar soek, sal daar wees, belowe hulle. Vir die kinders gaan daar selfs perdjies wees! Vir meer inligting kontak Alta by 021 988 3384.
5. NG Gemeente George-Denneoord: Basaar
Die NG Gemeente George-Denneoord nooi almal van George en omgewing uit na hulle gemeentebasaar vanaf 17:00 op Vrydag 4 Mei by die kerksentrum (hoek van Charlotte- en Wallisstraat, Denneoord). Gaan geniet smullekker kos, gebak, vermaak en vele meer vir oud en jonk! Navrae: skakel Mienke by die kerkkantoor 044 873 5642.
6. NG Gemeente Swartland-Noord: Basaar
Ons herinner aan Swartland-Noord (Malmesbury) se groot basaar op Saterdag 5 Mei. Dit vind plaas op hulle kerkperseel vanaf 09:00. Ontbyt, middagete, pannekoek, poeding, pasteie, brood, beskuit, ’n teetuin en vele meer. Die vleistafel is altyd ‘n moet! Skakel 022 482 1407.
F. VAKATURES
Die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante verskyn op Kerkbode se webblad by http://www.kerkbode.co.za/Vakatures.asp
1. NG Kerk in SA: Saakgelastigde
Die Sinode van die NG Kerk in SA (Wes-en-Suid-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature van saakgelastigde (wat in September 2012 ontstaan). Aansoeke word nog ingewag tot Vrydag 18 Mei 2012 om 12:00. Alle belangstellendes word uitgenooi om hulself vir hierdie pos beskikbaar te stel. Klik hier vir meer inligting.
2. NG Gemeente George-Tuinedal: Leraar
Ons herinner aan George-Tuinedal se vakature vir ’n leraar. Hierdie is ’n semi-stedelike en multi-kulturele gemeente in ’n snelgroeiende gemeenskap. Hulle het ongeveer 600 belydende en 180 dooplidmate. Aansoeke sluit op 4 Mei en meer is aangeheg.
3. BADISA Herfsvreugde Tehuis: Bestuurder
Herfsvreugde Tehuis in Bonnievale is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met ’n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes, word voor 4 Mei ingewag.
4. BADISA Bright Lights: Administratiewe Beampte/Boekhouer
Bright Lights Kinderhuis is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Die kinderhuis is geleë in Pofadder. Aansoeke van verantwoordelike en gemotiveerde persone word voor 11 Mei vir dié betrekking ingewag.
5. BADISA Alta du Toit: Administratiewe Beampte/Boekhouer
Alta du Toit Nasorg in Bellville is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en die VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese en verantwoordelike persone word voor 4 Mei vir hierdie betrekking ingewag. Klik hier vir meer.
6. Ramot Behandelingsentrum vir verslawing: Pastorale Berader
Johan Louw, Uitvoerende Beampte van Ramot, laat weet dat Ramot die dienste van ’n Pastorale Berader vir die periode 28 Mei 2012 tot 15 Junie 2012 benodig. Die werksverpligtinge sal ongeveer 10 ure per week behels. Vergoeding sal onderhandel word. Kontak asseblief vir Pieter Nienaber by telefoon 021 939 2033 vir verdere besonderhede.
Ten slotte
Galasiërs 5:13 verwys ook saam na vryheid en werk/diens, sien ek: Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Hopelik is daar vir heelwat van ons dié naweek iewers ’n stukkie van hierdie liefdesdiens – in wat jy uitdeel óf wat jy ontvang.
Vriendelike groete.
Marieta Mundell
(namens Ben du Toit)
Sentrum vir Kommunikasie
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7195
Faks: 021 957 7197
[email protected]
————————————————————-
HOËVELD SINODESITTING
NELUS NIEMANDT OOR PAD VORENTOE VIR KERK
18 April 2012
Groete in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Groete namens u broers en susters in die NG Kerk in baie lande.
Ons geloof in die Drie-enige God herinner ons hoe belangrik eenheid in die Here is. Dit is hoekom ons, in ons gereformeerde verstaan van kerkverband, bymekaar kom en saam soek om die Here se wil te onderskei – omdat ons oortuig is die kerk se lewe is ’n lewe in die Triniteit. Die kerk moet nie net die eenheid wat daar in die Drie-enige God is, weerspieël nie, die kerk se lewensruimte is die Drie-enige God.
Mag u wysheid ontvang, die tekens van die tye reg lees en God se wil vir die sinode, gemeentes en gemeenskappe onderskei. Dit is slegs deur geloofsonderskeiding dat ons ons plek – as gelowige volgelinge en as gemeentes – op hierdie reis saam met die lewende, Drie-enige God kan verstaan. Dit is ook die eerste en mees beslissende stap op ’n reis van missionale vernuwing en gestuurdheid – wat een van die sinode Hoëveld en ook die Algemene Sinode, se fokuspunte is. Die AS vat graag hande met streeksinodes en sal graag saam met u sinode wil meedoen aan die roeping om God se toekoms en Koninkryk ’n werklikheid te maak. Die Wêreldraad van Kerke se beleidsdokument oor Sending en Evangelisasie stel dit helder: ‘Die winde van verandering wat dwarsoor die wêreld waai, daag die kerk uit om ’n wind van verandering vir ’n beter wêreld te wees deur gehoorsaam te wees aan die leiding van die Gees.’ Dit verg nuwe verbeelding oor die kerk – die soort drome wat moontlik is wanneer die kerk telkens op ’n nuwe en vars manier tuiskom in die wêreld – veral daar waar mense smag na God se genadige teenwoordigheid wat vryheid en menswaardigheid bring.
Die kerk is ’n gemeenskap wat oop is om altyd deur die Gees nuutgemaak te word en om te onderskei waar die Gees aan die werk is. Mag u sinode gekenmerk word deur so ’n oop, transformerende spiritualiteit. Die Gees wat op Pinksterdag uitgestort is, is ’n Asem van Vuur wat nie net op ’n misterieuse en charismatiese manier werk nie, maar ook in die alledaagse van die lewe. Die Gees bring oral lewe en dus verandering. Juis daarom is ’n transformerende spiritualiteit belangrik. Dit is ’n heilige geskenk van die Skepper self en gee krag en energie om lewe te bring en te sorg vir lewe. Dit is die soort geestelike lewe wat in staat is om, deur die genade van God, die ganse alledaagse wêreld te verander.
Ek gee ook graag terugvoering oor die prosesse wat vloei uit die Algemene Sinode se onderskeidingsproses. Die Moderamen het in die lig van die besluite van die Algemene Sinode, en na aanleiding van ’n proses van onderskeiding, juis besluit om op die volgende sake te fokus:
Die oorkoepelende saak kan waarskynlik ten beste beskryf word as ’n fokus op lewe self. Ek is so dankbaar dat die voorsitter van die sinode in die beskrywing van Hoëveld se visie, dit ook verduidelik het as ’n fontein van lewe wat na mense vloei. In die diepste sin is dit die soort lewe wat die Evangelie bring. Jesus Christus se sending was om die ‘lewe in oorvloed’ (Joh. 10:10) te bring. Die lewende God is die Een wat lewe gee, dit in stand hou en die bron van alle krag is wat die hele skepping nuut maak. Dit lê ook in die hart van waarmee die kerk besig behoort te wees: om die lewe te vier, lewe te bring en deur die krag van die Heilige Gees weerstand te bied teen alles wat lewe wil vernietig. Daarom sal u ook verstaan dat die breë kerkverband na aanleiding van besluite van die AS, baie besig is met nadenke oor en praktiese leiding aan sinodes oor volhoubare lewe en die Godgegewe waardigheid van menslike lewe. In ons besluite oor ons gereformeerde identiteit is duidelik gestel dat gereformeerdes eintlik ’n baie positiewe en realistiese mensbeeld het. ‘Jy moet jouself sien soos God jou sien. Dit bring jou by ’n goeie en realistiese selfbeeld’. In die lig van die manier waarop armoede hierdie menswaardigheid aftakel en lewe beroof, verstaan u sekerlik die AS se besorgdheid oor armoede en dus ook die skerp fokus om die kerkverband te mobiliseer om, deur die krag van die Gees, ’n verskil te maak.
Die NG Kerk deel baie sterk oortuigings oor die eenheid onder gelowiges. Ek het reeds in die begin van hierdie groeteboodskap verwys na die oortuiging dat ons eenheid ingebed is in die eenheid en lewe in die Triniteit. Ons soeke na eenheid begin in die hart van die Drie-enige God. Dit is niks minder as die liefde wat die Drie-eenheid vorm en saambind wat nou na alle mense en die ganse skepping stroom nie en ons ook meesleur om eenheid na te streef. Soos wat die Drie-enige God in verhouding bestaan, kan daar nie aan die kerk en vergaderings in die kerk gedink word sonder om aan verhoudings te dink nie. Daarom is die AS so sterk verbind tot eenheid in die NG Kerkfamilie, en ook tot die soeke na groter en dieper eenheid met die ander Gereformeerde kerke in ons lande. Dit onderstreep ook die belang van verhoudings: verhoudings is waardevol. Dit bepaal ons menslikheid.
Die AS is oortuig dat die Belydenis van Belhar op verskillende maniere woorde gee aan omtrent al hierdie oortuigings. Die Ou-Testament teoloog, Walter Brueggemann, verduidelik dat ons taal en stories gebruik om ’n ‘huis van taal’ te bou. Ons almal leef in hierdie komplekse taalhuise. Dit is deur taal wat die wêreld oopgaan en verstaanbaar word. Dit is deur taal wat ons aan ons werklikheid – ons ‘taalhuis’ bou. Die ‘taalhuis’ bestaan uit ’n groot klomp stories. Ons kan nie onsself en ons menslikheid sonder stories verstaan nie. Dit is juis ons verhale wat ons identiteit bepaal. Daarom dat ons so lief is vir stories – vir Dana Snyman s’n, Blouwillem se humoristiese uitkyk op die lewe en sepies op TV. Die einste stories wat die lewe moontlik maak, speel net so ’n belangrike rol om mense te help om deur hierdie tye van verandering sin van die lewe te maak. Ons het nuwe stories nodig. Nuwe stories skep nuwe lewe. Ons moet lewe gee deur nuwe lewensverhale in die lig van die Bybelse narratiewe te deel. Die Algemene Sinode van die NG Kerk sien in die belydenis van Belhar die hooflyne van ’n nuwe verhaal wat ons kan help om ’n nuwe begin te maak.
Die storielyn van Belhar is duidelik. God is ’n God van geregtigheid. In hierdie wêreld waar ryk bankiers reuse bonusse kry en korrupte politici arm mense se geld steel, kan ons verhale van mededeelsaamheid, sorgsaamheid en moeite om armes te help, vertel. In hierdie wêreld waar globalisering tot gevolg het dat meer en meer verskillende mense in dieselfde plekke saam ’n lewe moet maak, kan ons praat oor nuwe lewe en eenheid in Jesus Christus. Ons kan in die naam van die Here protesteer waar minderhede onderdruk word en mense (ook Afrikaanses) se identiteit en reg vertrap word. In ’n wêreld waar ’n harde verbruikerskultuur selfsug laat gedy, kan ons vertel van versoening.
In hierdie nuwe globale wêreld en midde-in al die veranderings wat die kerk moet hanteer, is die transformerende krag van die Gees die grootste bron van hoop. Hierdie vars Wind kan ook die NG Kerk vol hoop maak sodat ons nuwe lewe kan bring.
————————————————————
STRATEGIC TRAINING CONFERENCE
TRANSFORMATIVE IMPACT THROUGH SPORT STRATEGIES
In the Western Cape, 37.7% (1,993,709) of the population is between 0-19 years, and 46.38% (2,452,939) is under 25 years (July 2011, Statistics SA).
If your vision is to reach the young people of your city and community – have you ever considered using the universal language of sport/recreation for reproductive disciple-making, church planting, leadership development through the mobilization of your church’s laity?
Amongst our speakers are Cassie Carstens who has travelled 25 countries in the past 18 months consulting and mobilizing churches to become ‘church without walls’. Shodankeh Johnson is a church planter catalyst who has in 5 years planted 4500 local churches (some up to 6 generations of reproduction) in a difficult African country. Plus many practitioners who will provide resources, best practices, workshops and consultancy to your organization’s specific needs.
Further, come explore with us what creative local outreaches your church can do around the 2012 Olympic Games (27Jul-12Aug), 2012 Tri-Nations (18Aug-6Oct), and African Cup of Nations 2013 (19Jan-10Feb in South Africa).
1. Jun 1-2 (Friday and Saturday, Day 1 and 2): (Senior Pastors, Pastors, youth leaders, community workers, NGO’s, coaches)
Content: Focused on Church leadership, on Church engaging the community through sport, on community needs assessment, and on applying transformational sport strategies to that context.
Location: Cornerstone College, 11 Lansdowne road, Claremont, Cape Town
2. Jun 4-5 (Monday and Tuesday, Day 3 and 4): (Youth Pastors, youth workers, community workers, coaches)
Content: Community, Youth, Children and Sport [CYCAS] training/workshop – this training/workshop offers specific tools that can be used to make disciples from all ages through sport. We will cover CYCAS foundational training as well as a choice between specific models for children (KidsGames, Max7) and youth (Ubabalo, Youth Sport Leadership Development).
Location: SCAS, Die Eiland, Jonkershoek Rd., Stellenbosch
3. Jun 6-7 (Wednesday and Thursday, Day 5 and 6): (Pastors, church planters, community workers, coaches)
Content: Reproductive disciple-making training/workshop, planting new fellowship groups through Discovery Bible Study and sport, Fresh expressions of being church in SA context
Location: SCAS, Die Eiland, Jonkershoek Rd., Stellenbosch
Costs: All 6 days R350/person, 4 days at R250/person, and 2 days for R150/per person.
Please let me know if you’re interested to participate, and even if you’re not, do pass this on to 1-2 others who may benefit from it.
Ben Marais
Project – Hope through Sport
Cell: 083 564 1225
Tel: 021 886 5669
E-mail: [email protected]
————————————————————
WERKSWINKEL
HOE OORLEEF EK IN ‘N KLEIN GEMEENTE?
Hierdie werkswinkel, Hoe oorleef ek in ’n klein gemeente?, vind op 28 en 29 Mei 2012 by die Gariepdam plaas. Daar gaan tydens hierdie geleentheid gekyk word na hoe klein gemeentes hul bediening voluit kan geniet. Daar gaan na verhale van gemeentes geluister word wat reeds deur dié proses is en hoop en raad kan gee.
Sprekers wat tydens die werkswinkel gaan optree, is ds Danie Mouton van die Oos-Kaap wat gaan praat oor hóé lidmate gebruik kan word, prof Jurgens Hendriks (US) wat gaan vertel van navorsings wat hy in die Karoo hieroor gedoen het, prof Doreen Atkinson (UV) van die Karoo-Instituut wat gaan gesels oor die ekonomie van klein dorpies en die rol van die kerk, asook prof Kobus Schoeman (UV) wat oor die nuutste Kerkspieël-statistiek kom gesels. Ds Bossie Muller gaan oor ‘n gereedskapskis vir predikante, vir oorlewing op die platteland, praat.
Hierdie byeenkoms het ten doel om nie net van waarde te wees vir predikante in die NG Kerk nie, maar is ook bedoel vir die res van die familie van die NG Kerk, daarom word u versoek om ook u kollega in die VGK en NGKA saam te bring.
Vir verdere navrae, kontak dr Carin van Schalkwyk van die NG Gemeente Philippolis op 084 582 8002, 051 773 0065/14 of per e-pos by [email protected].
————————————————————
NUWE AFRIKAANSE BYBELVERTALING
BELANGRIKE AGTERGROND
Hoe pak die span medewerkers die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans aan? Prof Bernard Combrinck, spanleier, vertel die verhaal in die jongste Kerkbode (20 April) in gesprek met Tobie Wiese.
Die vertaling is onlangs aangeval deur ds Danie Haasbroek wat beswaard voel oor die hantering van hoofletters in Ou Testamentiese tekste wat vanuit die Nuwe Testament op Christus van toepassing gemaak word.
Kerkbode vra vandeesweek in ‘n hoofartikel dat die Bybelgenootskap vertrou word met die vertaling:
“Die vertaalvoorkeur van die huidige span vertalers is – in opdrag van die Bybelgenootskap – ’n sogenaamde ‘direkte vertaling’. Dié vertaling wil die bronteks in gewone, hedendaagse en idiomatiese Afrikaans vertaal, asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se woorde direk aangehaal word. Dit beteken die vertalers ag die teks belangriker as dogmatiese besinning. Wanneer daar dus besluit moet word of kleinletters of hoofletters in ’n bepaalde teks gebruik sal word, word die besluit geneem na aanleiding van hoe die bronteks geskryf is – nie hoe dit ‘nog altyd geïnterpreteer of dogmaties ontleed is’ nie.”
Besoek gerus www.nuwekerkbybel.co.za vir meer inligting.
————————————————————
NG GEMEENTE DURBANVILLE
RETRAITE DEUR WILLEM NICOL
Tema: Die lewe in ’n nuwe kragveld
Ons stel ons oop vir ’n dieper begrip en intenser ervaring van Paulus se boodskap oor die nuwe lewe. ’n Mate van stilte en ’n bietjie gesels. ’n Klompie aandag aan die liggaam. Luistermusiek en sang. Brood en wyn. En dan telkens weer Skrifgedeeltes wat aan ons harte raak.
Datum 11-13 Mei 2012
Tyd: Begin Vrydagmiddag 11 Mei om 15: 00 (3nm) tot Sondagoggend 13 Mei om 11:00
Plek: Wortelgat (Naby Stanford), Melkhoutkamp
Koste: R900 pp (alles ingesluit)
Inskrywings by die kerkkantoor van die NG Gemeente Durbanville:
Inskrywings sluit: 3 Mei 2012
Elke persoon het eie kamer. Bring asseblief jou eie beddegoed saam.
Willem Nicol was vir 33 jaar ’n predikant in die NG Kerk, onder meer by Universiteitsoord in Pretoria. Hy het in 2006 afgetree en het met ’n bediening begin wat fokus op kontemplatiewe spiritualiteit. Willem het doktorsgrade in Nuwe Testament en Sistematiese Teologie. Hy lei al vir meer as 25 jaar kursusse in kontemplatiewe spiritualiteit.
————————————————————
UV BEURS AAN DS GERT DUURSEMA TOEGEKEN
Ds Gert Duursema het onlangs ’n merietebeurs van die Universiteit van die Vrystaat ontvang. Die beurs is aan hom toegeken om navorsing in argiefbewaarplekke in Nederland te onderneem. Die navorsing fokus op die werk en lewe van prof Willie Jonker, die bekende teoloog.
Metodologies is die aanpak uniek: dit word in die vorm van ’n bibliografiese biografie verpak. Kortweg beteken dit dat elke publikasie uit die pen van prof Willie digitaal opgeneem en dan teologies en biografies toegelig word. Uiteraard word ’n kronologiese lyn gevolg. Die eerste deel van die studie behandel die tydperk tot 1961. Dit sluit dus sy skool- en universiteitsloopbane in. In die verband is byvoorbeeld sy doopseel opgespoor, foto’s van die NG Kerkie op Biesiesvlei waar hy as kind met die gemeente saamgekom het, ingesluit, die plaas waar die gesin Jonker gewoon het, gekarteer, ensovoorts. Die getuigskrif van die Lichtenburgse Hoërskool vermeld dat hy ’n kranige rugbyspeler was. Uit sy studentetyd kom sy eerste artikeltjies in die studentekoerante na vore. Maar, ook die MA Verhandeling in Afrikaans, sowel as die BD skripsie.
In Nederland gaan Gert die Jonker spore aan die Vrije Universiteit (Amsterdam), waar hy sy doktorale studie voltooi het, en in Kampen, waar hy later dosent sou word, naloop. Hy is op soek na publikasies en na biografiese inligting om dit te plaas binne die raamwerk van die studie. Die studieleier, prof Dolf Britz, is vol lof oor die deeglikheid en beredeneerdheid waarmee Gert die navorsing aanpak. Volgens Dolf is dit ’n reuse bydrae tot die kontemporêre teologie-geskiedenis van die NG Kerk. Dit gaan perspektiewe open wat ’n wending gaan bring in die populêre opvattings oor die geskiedenis en teologie van die NG Kerk.
- Met dank oorgeneem uit Noord-Kaapland eNuus van 24 April 2012
————————————————————
SINODE VAN DIE NG KERK IN SA
(WES-EN-SUID-KAAPLAND)
SAAKGELASTIGDE
BELLVILLE
Die Sinode van die NG Kerk in SA (Wes-en-Suid-Kaapland) maak bostaande vakature wat in September 2012 ontstaan, bekend en nooi alle belangstellendes wat daartoe geroepe voel om hulself vir hierdie pos beskikbaar te stel.
Die Saakgelastigde is verantwoordelik vir die doeltreffende bestuur van finansies, eiendomme, personeelsake, regsfunksies en pensioenfondse van die sinode. Pligte word op deelnemende wyse uitgevoer met die hulp van ’n bestuurspan, spesialiste uit die mark en in oorleg met die Taakspan: Fondse en Administrasie en Trustees van die onderskeie pensioenfondse.
Die ideale kandidaat is ’n predikant van die NG Kerk wat aan die volgende vereistes voldoen:
• Bewese ervaring en insig m.b.t. die realiteite wat die kerk in 2012 beleef, met die roeping om in hierdie verband Skrifgetroue leiding te gee.
• Praktiese werkskennis van en belangstelling in finansiële bestuur, die ekonomie, pensioenaangeleenthede en personeelsake.
• Bewese administratiewe en bestuursvaardighede – veral binne spanverband.
• Visionêre leierskap en goeie kommunikasievaardighede.
Rig ’n volledige CV vóór 18 Mei 2012 om 12:00 aan
Die Bestuurder: Menslike Hulpbronne (NGK in SA), Privaatsak X8, Bellville 7535
Of per e-pos na [email protected]
Persoonlike navrae kan gerig word aan ds F Cillié by 021 957 7104.
————————————————————
NG GEMEENTE GEORGE-TUINEDAL
VAKATURE: LERAAR
GEMEENTEPROFIEL: Tuinedal-gemeente, ’n semi-stedelike en multi-kulturele gemeente, is geleë in George (Wes-Kaap) wat deel is van ’n snelgroeiende gemeenskap, met ongeveer 600 belydende lidmate en 180 dooplidmate volgens ons lidmaatregister. Daar is ’n verspreiding tussen ouer en jonger lidmate.
VISIE van die Gemeente: TUINEDAL – HUISGESIN VAN GOD (deur die Liefde van Christus – versterk, versorg en opbou).
FOKUSAREAS:
1. Kreatiewe bediening aan jongmense, instel en uitbou van aksies vir die Jeug.
2. Woordverkondiging: Dinamiese en eietydse bediening met inagneming van ’n sterk gereformeerde teologiese uitkyk met besondere klem op die suiwer verkondiging van die Woord soos vervat in die Kerk se belydenisskrifte.
3. Pastorale versorging met inagneming van spesifieke behoeftes van die onderskeie generasies.
4. Mentorskap-program om gemeenteleiers te bemagtig vir hulle taak.
5. Mobilisering van die hele gemeente om te fokus op die nood van die wêreld.
Die kerkraad van Tuinedal-gemeente sal alle aansoeke van gekwalifiseerde predikante van die NG Kerk wat ontvang word, oorweeg. Na die sluiting van aansoeke sal die Pre-Advies Kommissie ’n kortlys van kandidate opstel wat dan beskikbaar moet wees vir ’n volledige onderhoud en preekbeurt. Van die suksesvolle kandidaat sal verwag word om die gemeente te bedien in alle fasette soos omskryf in die fokusareas hierbo, sowel as gemeentewerk, soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde.
VERGOEDING: Die vergoedingspakket is onderhandelbaar met die voorgeskrewe sinodale skale tot maksimum vlak 5 en ander voordele en riglyne as beginpunt.
Die gemeente beskik oor ’n ruim pastorie wat aangrensend is aan die kerkgronde en bewoning is onderhandelbaar.
AANSOEKE: Stuur asseblief aansoeke met CV sowel as kontakbesonderhede waarheen ’n aansoekvorm gestuur kan word aan:
Die Voorsitter van die Pre-Advies Kommissie
Per pos: Posbus 557, George, 6530
Per e-pos: [email protected]
Per faks: 044 873 4383
NAVRAE:
Tones Fourie (Voorsitter van die Pre-Advies Kommissie) 084 589 7999
Ds Floors Meyer (Konsulent aangestel deur die Ring van George) 083 123 4567
Sluitingsdatum vir aansoeke: Vrydag 4 Mei 2012.
Moontlike diensaanvaarding: 1 Augustus 2012.
————————————————————
BADISA
BESTUURDER/VERPLEEGDIENS BESTUURDER
HERFSVREUGDE TEHUIS
BONNIEVALE
Herfsvreugde Tehuis is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes- en Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met ’n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes, word vir hierdie betrekking ingewag.
Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die Beheerraad rapporteer en verantwoordelik wees vir die volgende:
• Bestuur van die tehuis om sodoende ’n optimale versorgingsdiens aan bejaardes te verseker
• Bestuur en ontwikkeling van alle personeel
• Opstel en bestuur van tehuis se begroting
• Voorraadbeheer
• Gehalteversekering
• Fondsinsameling
• Skakeling met inwoners, beheerraad, gemeenskap en vakbonde
• Administratiewe pligte
Die ideale kandidaat beskik oor ’n professionele verpleegkundige kwalifikasie, met ’n passie vir versorging van bejaardes, die vermoë om ’n span te lei en te motiveer, asook om probleemareas vroegtydig te identifiseer en op te los. Kennis en ervaring van personeel- en finansiële bestuur, arbeidswetgewing, fondswerwing en bemarking is verdere vereistes. Vorige ervaring van die bestuur van ’n tehuis vir bejaardes, asook rekenaarvaardigheid, sal as sterk aanbeveling dien.
Vergoeding behels ’n onderhandelbare salaris, aangevul deur ’n mediese en aftreeskema, asook ruim verlofvoordele.
Rig aansoeke, vergesel van ’n volledige CV, voor 4 Mei 2012 aan:
Direkteur: Menslike Hulpbronne
BADISA
Privaatsak X8
BELLVILLE
7535
————————————————————
BADISA
ADMINISTRATIEWE BEAMPTE / BOEKHOUER
BRIGHT LIGHTS KINDERHUIS
POFADDER
Bright Lights Kinderhuis is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag.
Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die Bestuur verslag doen en verantwoordelik wees vir die volgende:
• Gerekenariseerde boekhouding tot proefbalans
• Finansiële administrasie (losies, subsidies en rekeninge)
• Salarisadministrasie
• Hantering van trustfondse
• Opstel van begrotings
• Uitbetaling van pensioene
• Maandelikse opstel van finansiële state
• Administratiewe en sekretariële pligte
Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en vermoë om teen hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis.
Ons bied ’n onderhandelbare salaris, aangevul deur ’n mediese en aftreeskema, asook ruim verlof.
Rig ’n volledige CV, en dui aan vir watter pos u aansoek doen, voor 11 Mei 2012 aan:
Die Direkteur: Menslike Hulpbronne, Privaatsak X8, BELLVILLE 7535
of per e-pos: [email protected].
————————————————————
BADISA
ADMINISTRATIEWE BEAMPTE/BOEKHOUER
ALTA DU TOIT NASORG
BELLVILLE
Alta du Toit Nasorg is ’n program van BADISA, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en die VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag.
Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die Bestuur verslag doen en verantwoordelik wees vir:
• gerekenariseerde boekhouding tot proefbalans • finansiële administrasie (losies, subsidies, rekeninge, ens.) • salarisadministrasie • hantering van trustfondse • opstel van begrotings, • byhou van debiteure • maandelikse opstel van finansiële state • uitvoering van administratiewe en sekretariële pligte.
Kandidate moet oor goeie menseverhoudings, asook goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en die vermoë om teen ’n hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis.
Ons bied ’n onderhandelbare salaris, aangevul deur ’n mediese en aftreeskema, asook ruim verlof.
Rig ’n volledige CV, waarin u aandui vir watter pos u aansoek doen, voor 4 Mei 2012 aan
Die Direkteur: Menslike Hulpbronne, Privaatsak X8, Bellville 7535
Of per e-pos: [email protected]
Deel Ons Artikel | Share Our Article











Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment