Kairos Palestine – ’n Oomblik van waarheid

Kairos Palestine’n Woord van geloof, hoop en liefde uit die hart van die Palestynse lyding

Inleiding

Ons, as ’n groep Palestynse Christene, roep om geregtigheid. Nadat ons saam gebid, diep besin en nagedink het oor die lyding wat ons land onder Israeliese besetting getref het, wil ons ons noodkreet aan die wêreld bekendmaak. Dit is ’n kreet van hoop in die volslae afwesigheid van hoop, ’n kreet gevul met gebed tot en vertroue in die God wat nooit slaap nie, die God wat steeds volhard in sy voorsiening vir alle inwoners van hierdie land.Ons roepkreet is geïnspireer deur die geheimenis van God se liefde vir alle mense en die geheimenis van sy aanwesigheid in die geskiedenis van alle volke, en op ’n besonderse manier ook in die geskiedenis van ons land.Vanuit ons Christelike geloof en die seker wete dat ons as Palestyne hier tuishoort, verklaar ons ons verbintenis tot geloof, hoop en liefde.

Waarom nou?

Ons beroep kom nóú, omdat die tragedie van die Palestynse volk in ’n doodloopstraat beland het. Die besluitnemers hou hulle besig met krisisbestuur in plaas daarvan om toegewyd na ’n oplossing vir die probleem te soek. Dit laat ons as gelowiges met baie pyn en vrae in die gemoed: Wat doen die internasionale gemeenskap wanneer hulle hiermee gekonfronteer word? Wat doen die politieke leiers in Palestina, in Israel en in die res van die Arabiese wêreld? En wat doen die kerk? Dit is lankal veel meer as ’n politieke kwessie hierdie. Onder hierdie beleid word mense vernietig – ’n saak wat die kerk diep behoort te raak.

Ons wend ons tot ons broers en susters, lidmate van die kerke in ons land. Ons roep uit as Christene en Palestyne na ons godsdienstige en politieke leiers, na die Palestynse en die Israeliese gemeenskap, asook na die internasionale gemeenskap en na ons broers en susters in Christus in kerke oor die wêreld heen.

1. Die harde werklikheid

1.1 “Hulle … sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:14; 1953-vertaling). Almal praat deesdae oor vrede en die vredesproses in die Midde-Ooste. Tot dusver het dit egter leë woorde gebly. Die realiteit is dat Palestynse grondgebied deur Israeli’s beset word, dat ons van ons vryheid beroof is, en dat allerhande euwels daarmee gepaardgaan.

1.1.1 Die skeidingsmuur wat op Palestynse grondgebied opgerig is – en waarvoor heelwat grond onteien is – het tot gevolg dat ons stede en dorpe niks anders as tronke is nie. Hulle is van mekaar geskei en tot afsonderlike stukkies kantons versnipper. Die mense in Gasa leef in onmenslike toestande met permanente blokkades wat hulle heeltemal van die res van die Palestynse grondgebied afsny. Hierdie toestand het vererger ná die wrede oorlog wat Israel in Desember 2008 en Januarie 2009 teen Gasa geloods het.

1.1.2  Israeliese volksplantings verwoes ons land in die naam van God en met brute geweld. Hulle het ons natuurlike bronne, soos water en landbougrond, vir hulle toegeëien en sodoende honderde duisende Palestyne daarvan beroof. Hierdie toedrag van sake staan in die pad van enige politieke oplossing.

1.1.3 Die harde werklikheid is dat ons daagliks verneder word wanneer ons deur die militêre kontrolepunte na ons werk, die skool of hospitale onderweg is.

1.1.4 Die realiteit is ook dat lede van dieselfde gesin geskei is. Dit bring mee dat ’n gesinslewe vir duisende Palestyne nie bestaan nie. Dit geld veral wanneer een van die eggenote nie ’n Israeliese identiteitsdokument besit nie.

1.1.5 Geloofsvryheid word ernstig ingeperk. Onder die voorwendsel van sekuriteitsmaatreëls mag mense nie heilige plekke besoek nie. Vir baie Christene en Moslems van die Wesoewer en Gasa is Jerusalem en die heilige plekke daar verbode terrein. Selfs inwoners van Jerusalem word tydens godsdienstige feesdae aan beperkende maatreëls onderwerp. Sommige van ons Arabiese geestelikes word gereeld verbied om Jerusalem binne te gaan.

1.1.6 Ons word ook elke dag met vlugtelinge gekonfronteer. Die meeste van hulle leef in kampe, in moeilike omstandighede. Geslag op geslag wag hulle om na hulle eie land te kan terugkeer. Wat sal hulle lot uiteindelik wees?

1.1.7 Ons moet ook saamleef met die wete dat duisende gevangenes in Israeliese tronke wegkwyn. Die Israeli’s beweeg hemel en aarde om een van hulle gevangenes uit die tronk te kry. Nou wonder ons net: Wanneer sal al die duisende Palestynse gevangenes vrygelaat word?

1.1.8  Jerusalem is die hart van ons realiteit. Dit is terselfdertyd simbool van vrede én teken van konflik. Terwyl die skeidingsmuur Palestynse buurtes van mekaar afsny, word Palestynse inwoners van Jerusalem – Christene sowel as Moslems – uit die stad verdryf. Daar word op hulle identiteitsdokumente beslag gelê, en daarmee verloor hulle uiteraard die reg om in Jerusalem te woon. Hulle huise word vernietig of onteien. Jerusalem, die stad van versoening, is nou ’n stad wat deur diskriminasie en uitsluiting gekenmerk word; ’n bron van stryd in plaas van vrede.

1.2 Boonop steur Israel hom nie aan die internasionale reg en internasionale resolusies nie. Dit laat die Arabiese wêreld en die internasionale gemeenskap skynbaar magteloos. Menseregte word geskend ten spyte van verskeie verslae deur plaaslike en internasionale menseregte-organisasies. Die onreg duur eenvoudig voort.

1.2.1 Palestyne wat inwoners van die staat Israel is, is aan ’n historiese onreg blootgestel. Hulle ly onder politieke diskriminasie, en dít terwyl hulle as burgers geregtig is op al die regte en verantwoordelikhede wat met burgerskap gepaardgaan. Hulle wag steeds om gelyke regte en gelyke behandeling as ander burgers van dieselfde staat te ontvang.

1.3. Emigrasie is ook ’n faktor waarmee ons moet rekening hou. Talle jong Palestyne, Christene sowel as Moslems, besluit om te emigreer omdat hulle geen hoop meer op ’n toekoms van vrede en vryheid het nie. Op hierdie manier word die land van een van sy rykste hulpbronne beroof, naamlik sy opgeleide jongmense. Die kwynende getal Christene, veral in Palestina, is ’n groot bron van kommer. Dit is ’n regstreekse gevolg van die voortslepende konflik en van die plaaslike en internasionale magteloosheid en versuim om ’n omvattende oplossing vir hierdie probleem te kry.

1.4 Dit alles in ag genome, regverdig Israel steeds hulle besetting, kollektiewe strafmaatreëls en allerlei ander vergeldingsmaatreëls teen Palestyne as synde selfverdediging. Volgens ons is dit ’n volkome verdraaiing van die werklikheid. Toegegee, die Palestyne staan die besetting teen. Maar indien geen besetting plaasgevind het nie, sou dit ook onnodig gewees het om ons te verset, of om bevrees of onveilig te voel. Dit is hoe ons die situasie sien. Daarom doen ons ’n beroep op die Israeli’s om die besetting te staak. Dan sal hulle ’n nuwe wêreld sien waarin geen vrees en bedreiging is nie, maar geregtigheid en vrede en sekuriteit.

1.5 Palestyne se reaksie op hierdie situasie was uiteenlopend. Sommige het gereageer deur na die onderhandelingstafel te gaan. Dit was die amptelike standpunt van die Palestynse owerheid. Maar dit het niks tot die vredesproses bygedra nie. Sommige politieke partye het die roete van gewapende verset gevolg. Israel het hierdie optrede gebruik as voorwendsel om die Palestyne van terrorisme te beskuldig en sodoende die ware aard van die konflik verdraai. Hulle voer aan dat dit ’n Israeliese oorlog teen Palestynse terrorisme is, terwyl dit in werklikheid wettige verset deur die Palestyne teen Israeliese besetting is in ’n poging om die besetting stop te sit.

1.5.1 Hierdie tragedie het verdiep weens die interne konflik tussen Palestyne onderling, asook weens die feit dat Gasa van die res van die Palestynse grondgebied afgesny is. ’n Belangrike punt is dat die internasionale gemeenskap grootliks aan hierdie onderlinge verdeeldheid aandadig is. Hulle het immers geweier om te luister na die wense wat die Palestynse volk deur middel van ’n demokratiese en wettige verkiesing in 2006 uitgespreek het.

Laat ons net herhaal: Ons Christelike boodskap, ondanks al hierdie dinge en te midde van die katastrofe rondom ons, is ’n woord van geloof, hoop en liefde.

2. ’n Woord van geloof

Ons glo in een God, die goeie en regverdige God

2.1 Ons glo in God, die een God, die Skepper van die hele wêreld en van die mensdom. Ons glo in die goeie en regverdige God, wat elkeen van sy skepsels liefhet. Ons glo dat elke mens as God se beeld en verteenwoordiger geskep is, en dat elkeen se menswaardigheid dus die waardigheid van die Almagtige weerspieël. Ons glo dat hierdie waardigheid ewe onaantasbaar in elke mens, alle mense, teenwoordig is. Hierdie belydenis beteken vir ons hier en nou – in die besonder in hierdie land – dat God ons nie geskep het om teen mekaar te veg en in voortdurende konflik te wees nie. Ons moet mekaar eerder leer ken en liefhê, en die land in vrede en wedersydse respek opbou.

2.1.1 Ons glo in God se ewige Woord, sy enigste Seun, ons Here Jesus Christus, vir wie God as die Redder van die wêreld gestuur het.

2.1.2 Ons glo in die Heilige Gees, wat die kerk en die mensdom op ons reis begelei. Dit is die Gees wat ons help om die Heilige Skrif vir ons tyd en omstandighede te verstaan en in te sien hoe die Ou en Nuwe Testament ’n eenheid vorm. Die Gees openbaar God aan die mensdom – in die verlede, hede en toekoms.

Hoe verstaan ons die Woord van God?

2.2 Ons glo dat God met mense gepraat het, in hierdie land van ons. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak” (Hebreërs 1:1-2).

2.2.1 Ons as Palestynse Christene, net soos alle Christene oor die wêreld heen, glo dat Jesus Christus gekom het om die wet en die profete te vervul. Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, en ons lees die Heilige Skrif in die lig wat Hy gebring het en onder die leiding van die Heilige Gees. Ons bepeins die Woord en verklaar dit net soos Jesus Christus dit gedoen het met die twee dissipels op pad na Emmaus. Soos daar in die Evangelie volgens Lukas geskryf is: “Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê” (Lukas 24:27).

2.2.2 Ons Here Jesus Christus het gekom om te verkondig dat die koninkryk van God naby is. Hiermee het Hy ’n opskudding in die lewe en geloofslewe van die mensdom veroorsaak. Hy het met “ ’n nuwe leer” (Markus 1:27) gekom en só nuwe lig op die Ou Testament gewerp, asook op talle aspekte van ons geloof en daaglikse leefwêreld – aspekte soos God se beloftes, die uitverkiesing, die volk van God, en ons land. Ons glo dat die Woord van God lewend is: Dit werp ’n sekere lig op elke tydperk in die wêreldgeskiedenis. Op hierdie manier openbaar God aan Christene wat sy boodskap vir hulle in hierdie tyd en omstandighede is. Daarom mag die Woord van God nie voorgehou word as iets wat in klip gegraveer is nie. Só verwring dit God se liefde en voorsienigheid in die lewe van volke én individue. Dit is dan presies wat gebeur wanneer ’n fundamentalistiese opvatting van die Bybel gehandhaaf word. Wanneer die Woord as verstarde, lewelose woorde van geslag tot geslag oorgedra word, saai dit dood en verwoesting. Hierdie verstarde boodskap word op die oomblik as ’n wapen gebruik om ons van ons regte in ons eie land te beroof.

(Alle aanhalings uit die Bybel is uit die Nuwe Vertaling 2002.)

Ons land het ’n universele roeping

2.3 Ons glo dat ons land ’n universele roeping het. Dit beteken dat die betekenis van die beloftes, die land, die uitverkiesing en die volk van God verbreed sodat dit die ganse mensdom insluit, hoewel dit by die volke in hierdie land begin. In die lig van die Bybelse boodskap het die belofte oor die land nooit oor ’n politieke bestel gegaan nie. Dit het veel eerder op die voorspel tot volkome, universele verlossing gedui, die begin van die vervulling van God se koninkryk op aarde.

2.3.1 God het die aartsvaders, profete en apostels na hierdie land gestuur sodat hulle ’n universele missie na die wêreld kan uitvoer. Ons het vandag drie godsdienste in hierdie land: Judaïsme, Christendom en Islam. Ons land behoort aan God, net soos alle lande in die res van die wêreld. Hierdie land is heilig in soverre God hier aanwesig is, want alleen God is heilig en maak ’n plek heilig met sy teenwoordigheid. Dit is die plig van almal wat hier woon om God se wil vir hierdie land te respekteer. Dit is ons plig om hierdie land van die boosheid van onreg en oorlog te bevry. Omdat dit God se land is, moet dit ’n land van versoening, vrede en liefde wees. En dít is wel moontlik! God het ons as twee verskillende nasies hier geplaas, en God het ons ook die vermoë gegee om – as ons maar net sou wou – in vrede en geregtigheid saam te leef. Dán sal ons dit werklik God se land maak. “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Psalm 24:1).

2.3.2 Dit is nie toevallig dat ons Palestyne – Christene én Moslems – in hierdie land woon nie. Ons teenwoordigheid hier is diep gewortel in die geskiedenis en geografie van die land, net soos daar ook ’n besonderse verbintenis bestaan tussen ander volke en die land waar hulle woon.

Dit was dus ’n onreg toe ons uit die land verdryf is. Die Weste het probeer vergoed vir die onreg wat die Jode in Europa aangedoen is. Dit is egter ten koste van ons en met ons land gedoen. Hulle het ’n onreg probeer regstel, maar in die proses ’n nuwe onreg begaan.

2.3.3 Boonop weet ons dat sekere teoloë in die Weste hierdie skending van ons regte op Bybelse en teologiese gronde probeer regverdig. Hulle interpretasie beteken dat “God se beloftes” ’n bedreiging vir ons bestaan raak. Die “goeie nuus” van die evangelie word vir ons ’n “voorbode van dood”. Ons doen ’n beroep op hierdie teoloë om weer ernstig oor die Bybelse boodskap te besin, sodat hulle die regte perspektief sal kry en die Woord van God as ’n bron van lewe vir alle volke sal sien.

2.3.4 Ons verbondenheid aan hierdie land is ’n natuurlike reg. Dit is nie net ’n ideologiese of ’n teologiese kwessie nie. Dit is ’n kwessie van lewe of dood. Daar is diegene wat nie met ons saamstem nie en ons as vyande sien, bloot omdat ons verklaar dat ons as vry mense in ons land wil woon. Omdat ons Palestyne is, ly ons onder die besetting van ons land. En as Palestynse Christene ly ons onder die verkeerde interpretasies van sommige teoloë. As dit die realiteit is, is dit ons plig om daarop te staan dat die Woord ’n bron van lewe is en nie ’n bron van dood nie. Só sal die “blye boodskap” bly wat dit is: “goeie nuus” vir ons en vir alle mense. Teenoor hulle wat ons as Palestyne – Christene én Moslems – se voortbestaan met die Bybel in die hand bedreig, bely ons opnuut ons geloof in God. Ons weet dat die Woord van God nie die bron van ons vernietiging kan wees nie.

2.4 Ons verklaar dat, wanneer die Bybel gebruik word om politieke sienings en standpunte te regverdig of te steun wat op onreg van een persoon teenoor ’n ander – of een volk teenoor ’n ander – gegrond is, godsdiens tot ’n menslike ideologie omskep word. Dit stroop die Woord van God van heiligheid, universaliteit en waarheid.

2.5 Ons verklaar ook dat die Israeliese besetting van Palestynse gebied ’n sonde teen God en teen die mensdom is: Dit beroof Palestyne van hulle Godgegewe basiese menseregte. Dit verwring die beeld van God in die Israeli wat “die besetter” geword het, ewe veel as in die Palestyn wat onder hierdie besetting ly. Ons verklaar dat enige teologie wat hierdie besetting regverdig, skynbaar op grond van die Bybel of geloof of geskiedenis, ver van die Christelike leer verwyder is. Want so ’n teologie spoor mense aan tot geweld en ’n sogenaamd heilige oorlog in die naam van die Almagtige, terwyl dit God eintlik aan tydelike en menslike belange ondergeskik stel. Boonop verwring dit die beeld van God in mense wat onder die juk van politieke en teologiese onreg leef.

3. ’n Woord van hoop

3.1 Hoewel daar nie die geringste aanduiding van ’n positiewe uitkoms is nie, leef ons hoop nog. Die huidige situasie gaan nie vinnig opgelos word nie en die besetting gaan nie oornag gestaak word nie. Die konferensies, inisiatiewe, besoeke en onderhandelings het wel toegeneem, maar dit het nog nie daartoe gelei dat ons situasie of ons lyding verlig is nie. Selfs die nuwe posisie wat die VSA onder president Barack Obama ingeneem het – dat dit hulle uitdruklike wens is dat hierdie tragedie beëindig word – het nog geen verandering aan die harde werklikheid meegebring nie.

Die reaksie van Israel se kant is duidelik: Hulle is nie bereid tot ’n oplossing van die situasie nie. Dit laat ons nie met veel hoop nie. Tog wil ons nie hoop verloor nie, want ons hoop op God. God alleen is goed, almagtig en liefdevol, en sy goedheid sal uiteindelik die kwaad waarin ons ons bevind, oorwin.

Soos Paulus in sy brief aan die Romeine sê: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? … Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig … Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie …” (Romeine 8:31–39).

 

Wat is die betekenis van hoop?

3.2 Die hoop binne-in ons beteken eerstens dat ons geloof het in God. Tweedens beteken dit ons het tog, ten spyte van alles, die verwagting van ’n beter toekoms. Ons koester egter geen illusies nie; ons besef dat ons bevryding nie oornag gaan gebeur nie. Hoop is, derdens, juis die vermoë om God te midde van ons ellende raak te sien en om medewerkers te wees van die Heilige Gees, wat in ons woon. Met hierdie uitkyk is ons in staat om sterk te staan en vasberade aan ’n verandering in ons daaglikse realiteit te werk. Hoop beteken om nie aan die kwaad toe te gee nie, maar om in opstand daarteen te kom en dit te bly weerstaan. Ons sien op die oomblik niks anders as vernietiging en verwoesting nie, en die toekoms lyk nie veel beter nie. Ons sien hoe die sterkere die oorhand kry. Ons sien die groeiende geneigdheid tot rassistiese skeiding en die afdwinging van wette wat ons voortbestaan en waardigheid bedreig. Ons bemerk verwarring en verdeeldheid in die standpunt wat Palestyne inneem. Maar indien ons hierdie realiteit bly teenstaan en hard werk, sal die vernietiging wat ons in die gesig staar, miskien nie realiseer nie.

Tekens van hoop

3.3 Die kerk in ons land, die leiers én ander gelowiges, toon swakhede en verdeeldheid – maar ook sekere tekens van hoop. Ons gemeentes is lewendig en die meeste van ons jongmense is aktiewe dissipels van geregtigheid en vrede. Bo en behalwe hierdie persoonlike toewyding, maak ons onderskeie kerklike instansies ons geloof werklikheid en laat dit oorgaan in dade deur diensbaarheid, liefde en gebed.

3.3.1 Die talle plaaslike teologiese instansies in verskillende kerke, met hulle godsdienstige én sosiale karakter, is ook tekenend van hoop. Hoewel nog in sy kinderskoene, groei die ekumeniese gees al sterker tydens byeenkomste van verskillende kerkfamilies.

3.3.2 Boonop vind talle intergodsdienstige gesprekke tussen Christene en Moslems plaas. Godsdiensleiers sowel as “gewone gelowiges” neem hieraan deel. Toegegee, gesprekvoering is ’n tydsame proses, maar deur daaglikse insette word die proses tog aangehelp deurdat almal dieselfde lyding verduur en dieselfde verwagtings het. Sulke dialoog vind ook plaas tussen die drie godsdiensgroeperings in ons land: Judaïsme, Christendom en Islam. Gesprekke vind ook binne akademiese en sosiale kringe plaas. Dit alles is daarop gemik om die mure wat ons as gevolg van die besetting van mekaar skei, af te breek, en daarmee saam die verwronge beeld wat mense van hulle broers en susters het.

3.3.3 Een van die belangrikste tekens van hoop is dat ons van geslag tot geslag in die regverdigheid van ons saak bly glo. Ons is vasberade om die geskiedenis nie te vergeet nie. Só sal die Nakba (katastrofe) en die betekenis daarvan nooit in vergetelheid raak nie. Dit is ook opmerklik dat daar by talle kerke wêreldwyd ’n groeiende bewuswording van die situasie is. Al hoe meer mense wil graag weet wat presies hier aan die gang is.

3.3.4 Bo en behalwe dít sien ons ’n groeiende vasberadenheid by al hoe meer mense om die wrok van die verlede te begrawe. Mense is bereid om versoen te raak sodra geregtigheid geseëvier het. Daar is ’n groeiende openbare bewussyn dat die Palestyne se politieke regte herstel moet word. Al hoe meer Jode én Israeli’s pleit ook om vrede en geregtigheid op dié manier te bewerkstellig, en geniet die internasionale gemeenskap se steun daarin. Weliswaar kon al hierdie stemme vir versoening en geregtigheid nog nie die onreg omkeer nie, maar hulle dra tog gewig. Moontlik kan hulle daartoe bydra dat ons lyding verkort en dat versoening vinniger bereik word.

Die roeping van die kerk      

3.4 Ons kerk is ’n gemeenskap wat bid en dien. Deur gebed en diens vertolk die kerk die Woord van God profeties, vir die hede én die toekoms. Alles wat in ons land gebeur, almal wat hier woon, al die pyn en hoop, alle onreg en alle pogings om die onreg te stuit – dit alles maak ’n integrale deel uit van ons kerk se gebed en van alle kerklike instellings. Ons dank God dat ons kerk hom teen onreg uitspreek, hoewel sommige mense wil hê dat die kerk moet stilbly en eerder agter godsdienstige vroomheid skuil.

3.4.1 Die roeping van die kerk is om profeties op te tree deur moedig, eerlik en liefdevol op die Woord te staan in die huidige konteks, te midde van daaglikse gebeure. Indien die kerk kant moet kies, sal dit die kant van die verdruktes wees. Die kerk kies om aan hulle sy te staan, net soos wat Christus ons Here aan die sy van die armes en sondaars gestaan en hulle tot bekering, lewe en herstel van hulle waardigheid geroep het. Dié waardigheid is ’n gawe van God en niemand mag hulle dit ontneem nie.

3.4.2 Die kerk se roeping is om die koninkryk van God te verkondig. Dit is ’n koninkryk van geregtigheid, vrede en waardigheid. Ons voel ons geroepe, as ’n lewende kerk, om van God se goedheid en die waardigheid van alle mense te getuig. Ons voel ons ook geroepe om te bid vir en ons uit te spreek ten gunste van ’n nuwe samelewing waar mense glo in hulle eie waardigheid én in die waardigheid van hulle teëstanders.

3.4.3 Ons kerk wys vooruit na die koninkryk van God, wat nie met ’n sekere aardse ryk verbind kan word nie. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, het Hy gesê dat Hy wel ’n koning is, maar “my koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Paulus verduidelik dit só: “Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde wat die Heilige Gees ons gee” (Romeine 14:17). Godsdiens kan daarom geen voorkeur of steun toesê aan ’n politieke bestel wat onreg pleeg nie. Dit moet veel eerder geregtigheid, die waarheid en menswaardigheid bevorder. Dit moet alles in sy vermoë doen om regerings te suiwer waar mense onreg ly en menswaardigheid geskend word. Die koninkryk van God is van geen politieke oriëntasie afhanklik nie, want dit is groter en omvattender as enige spesifieke staatsbestel.

3.4.4  Jesus Christus het gesê: “… die koninkryk van God is hier by julle” (Lukas 17:21). Hierdie koninkryk wat nou by ons en binne-in ons is, is die voortsetting van die geheimenis van verlossing. Dit is die teenwoordigheid van God onder ons, en ons bewus-wees van daardie teenwoordigheid in alles wat ons doen en sê. Dit is omdat God by ons teenwoordig is dat ons ons sonder ophou sal beywer totdat geregtigheid in ons land geseëvier het.

3.4.5. Die wrede omstandighede waarin die kerk in Palestina geleef het en nog steeds leef, het die kerk genoodsaak om met groter duidelikheid te sê wat hy glo en wat sy roeping behels. Ons het ernstig oor ons roeping besin en verstaan dit nou beter te midde van al die pyn en lyding. Vandag verkondig ons die krag van die liefde in plaas van wraak. Ons ingesteldheid is dié van lewe in plaas van dood. En dit is ’n bron van hoop vir ons, maar ook vir die kerk en vir die wêreld.

3.5 Die opstanding is die bron van ons hoop. Net soos Christus die dood en kwaad oorwin het, so is ons en elke ander inwoner van hierdie land ook in staat om die boosheid van oorlog te oorwin. Ons sal as lewende kerk bly volhard in ons getuienis in die land waar die opstanding plaasgevind het.

4. ’n Woord van liefde

Die opdrag om lief te hê

4.1 Christus ons Here het gesê: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Johannes 13:34). Hy het ons reeds gewys hoe om lief te hê en hoe om ons vyande te behandel: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen … Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:43-48). Paulus het ook gesê: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17). En Petrus het gesê: “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry” (1 Petrus 3:9).

Verset

4.2 Dit is duidelik: Liefde is ’n opdrag van Christus, ons Here, en dit sluit vriend en vyand in. Dit moet ons goed verstaan wanneer ons ons bevind in omstandighede waarin ons die kwaad, in watter vorm ook al, moet teenstaan.

4.2.1 Liefde is om die beeld van die Here God in elke mens te herken. Elke ander mens is my broer of my suster. Om die beeld van die Here in ander raak te sien, beteken egter nie dat jy die kwaad of aggressie waaraan hulle hul skuldig maak, moet aanvaar nie. Hierdie liefde streef eerder daarna om die kwaad te stuit en die aggressie te beëindig.

Die Israeliese besetting is ’n daad van aggressie teen die Palestyne, ’n euwel wat teengestaan moet word. Dit is boos, en ’n sonde waarteen verset nodig is en wat uit die weg geruim moet word. Die eerste verantwoordelikheid hiervoor lê by die Palestyne wat hierdie besetting verduur. Die Christelike liefde nooi ons uit om ons te verset. Deur reg en geregtigheid te laat geskied, kan die liefde die kwaad oorwin. Die internasionale gemeenskap het ook ’n verantwoordelikheid omdat die internasionale reg in ons dag die verhoudings tussen volke onderling reguleer. Die finale verantwoordelikheid lê by diegene wat die onreg pleeg. Hulle moet hulleself van die boosheid binne-in hulle bevry, asook van die onreg wat hulle ander aangedoen het.

4.2.2 Wanneer ’n mens na die wêreldgeskiedenis kyk, sien jy baie oorloë – en dat een oorlog dikwels ’n volgende oorlog ontketen het; dat geweld dikwels met geweld teengestaan is. Die Palestyne het ook hierdie roete gevolg, veral in die eerste fase van hulle stryd teen Israeliese besetting. Tog het hulle óók, veral in die eerste *Intifada, die weg van vreedsame verset gekies. Ons erken dat alle volke ’n nuwe manier moet vind om verhoudinge te reël en konflik te hanteer. Reg en geregtigheid moet geskied in plaas daarvan dat sake met geweld besleg word. Dit geld veral vir nasies wat op militêre gebied die oorhand het en sterk genoeg is om onreg teenoor swakkeres te pleeg.

*Intifada is ’n Arabiese woord wat letterlik “afskud” beteken. Dit word gewoonlik met “verset”, “opstand”, “rebellie” verbind. Die eerste Intifada verwys na die Palestynse verset van 1987 tot 1993 teen Israeliese besetting.

4.2.3 Ons reken ons enigste uitweg as Christene teen die Israeliese besetting is om ons daarteen te verset. Verset is elke Christen se reg en plig. Maar die dryfveer agter hierdie verset is die liefde. Christelike verset moet nuut kyk na maniere om op menslike vlak ’n beroep te doen op die medemenslikheid van die vyand. Wanneer ’n mens ook jou vyand as beelddraer van God kan sien, kan jy met hierdie beeld voor oë standpunt inneem deur aktiewe verset. Só wil ons die onreg beëindig en ons aanvallers dwing om hulle aggressie te staak. Op hierdie manier sal ons slaag in ons doel, naamlik om ons land terug te kry en daarmee saam ons vryheid, waardigheid en onafhanklikheid.

4.2.4 Christus, ons Here, het ’n voorbeeld aan ons gestel wat ons moet navolg. Ons moet die kwaad teenstaan, ja. Maar Hy het ons geleer om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Dit is ’n moeilike opdrag, veral as die vyand vasbeslote is om sy wil af te dwing en ons die reg ontsê om hier in ons land te bly. Dit is die enigste uitweg, hoe moeilik ook al, wat ons in staat sal stel om vas te staan teenoor die besettingsmagte wat steeds met woord en daad weier om ons bestaan te erken en op grond van allerhande verskonings met die besetting voortgaan.

4.2.5 Verset teen die boosheid van die besetting is dus ingebed in die Christelike liefde, wat onreg teenstaan en dit regstel. Met die logika van hierdie liefde as grondslag verset ons ons teen enige vorm van onreg en doen ons alles moontlik om vrede te bewerkstellig. Ons kan ons deur burgerlike ongehoorsaamheid verset. Ons verset is nie daarop gemik om dood te saai nie; inteendeel, die kosbaarheid van lewe is juis ons motivering. Ons het die grootste respek en waardering vir almal wat hulle lewens vir ons nasie gegee het. En ons bevestig dat elke burger bereid moet wees om sy of haar lewe, vryheid en land te verdedig.

4.2.6 Palestynse burgerlike organisasies, internasionale organisasies, nieregeringsorganisasies en sommige godsdienstige instellings doen ’n beroep op individue, sakeondernemings en state om te disinvesteer en alle produkte wat deur die besetter gelewer word, te boikot. Dit stem ooreen met die gees van geweldlose verset wat ons voorstaan. Sulke veldtogte verg moed. Daar moet net onomwonde en opreg verklaar word dat dit nie op wraak gemik is nie, maar bloot om die huidige onregsituasie te beëindig en om die oortreders sowel as die slagoffers van hierdie onreg te bevry.

Die oogmerk is om al twee bevolkingsgroepe van ekstremistiese standpunte van die verskillende Israeliese regerings te bevry sodat geregtigheid en versoening tussen ons kan plaasvind. In hierdie gees en met die nodige toewyding sal ons uiteindelik die langverwagte oplossing vir ons probleme bereik, net soos die bevrydingsbeweging in Suid-Afrika en talle ander lande dit reggekry het.

4.3 Deur ons liefde sal ons onreg uit die weg ruim en die hoeksteen lê vir ’n nuwe samelewing – vir ons sowel as ons teenstanders. Ons toekoms en hulle toekoms is ineengeweef: Dit kan óf die bose kringloop van geweld wees wat ons almal vernietig, óf die vrede waarby ons almal sal baat. Ons doen ’n beroep op Israel om die onreg wat hulle teen ons pleeg te staak eerder as om die waarheid – die realiteit van die besetting – te verdraai deur voor te gee dat hulle ’n stryd teen terrorisme voer. Die wortels van “terrorisme” lê juis in die menslike onreg wat hulle pleeg deur ons land te beset. Indien daar ’n opregte voorneme is om “terrorisme” uit te roei, moet hierdie grondoorsake daarvan verwyder word. Ons doen ’n beroep op die mense van Israel om ons bondgenote in vrede te wees eerder as om aan die kringloop van eindelose geweld mee te doen. Kom ons staan saam teen die kwaad: die boosheid van die besetting en die vernietigende kringloop van geweld.

5. Ons boodskap aan ons broers en susters

5.1 Ons is almal vandag in ’n doodloopstraat, en ’n rampspoedige toekoms staar ons in die gesig. Ons boodskap aan al ons broers en susters in Christus is ’n woord van hoop, geduld, standvastigheid en nuwe gedrag wat alles sal help om ’n beter toekoms te bereik. Ons boodskap is dat ons as Christene ’n boodskap het om te verkondig, en dat ons sal voortbeur om hierdie opdrag uit te voer ten spyte van dorings, bloed wat vergiet word en daaglikse probleme. Ons vestig ons hoop op God, wat vir ons verligting sal gee wanneer die tyd reg is. Terselfdertyd sal ons voortgaan om saam met God en volgens sy goddelike wil te arbei deur op te bou, die kwaad teen te staan en die dag van geregtigheid en vrede te laat aanbreek.

5.2 Ons sê aan ons broers en susters in Christus: Dit is nou die tyd om berou te toon. Wanneer ons berou betoon, snoer dit ons opnuut saam in ’n liefdesgemeenskap met almal wat ly, die gevangenes, die gewondes, diegene met tydelike of permanente agterstande, die kinders wat nie weet wat dit is om kind te wees nie en almal wat oor ’n geliefde rou.

Die gees en die waarheid van hierdie liefdesgemeenskap sê aan elke gelowige: As my broer ’n gevangene is, is ek ’n gevangene; as sy huis vernietig word, word my huis vernietig; as my broer doodgemaak word, sterf ek ook. Ons staan voor dieselfde uitdagings. Ons deel alles wat gebeur het en wat nog gaan gebeur.

Miskien het ons as individuele gelowiges of as kerkleiers geswyg toe ons ons stem teen die onreg moes laat hoor en in ons broers en susters se lyding moes gedeel het. Dan moet ons nou berou toon oor ons stilswye, ons onverskilligheid, ons gebrek aan verbondenheid – óf omdat ons nie in ons roeping in hierdie land volhard het nie maar dit laat vaar het, óf omdat ons nie genoeg nagedink en gedoen het om ’n nuwe en geïntegreerde toekomsvisie te vestig nie maar verdeel gebly het. Só het ons ons getuienis weerspreek en ons boodskap kragteloos gemaak.

Dit is ook nou die tyd om berou te toon as ons te besorg was oor instansies, ten koste van ons opdrag, en só die profetiese stem wat deur die Gees aan die kerk gegee is, laat verstom het.

5.3 Ons doen ’n beroep op Christene om standvastig te bly in hierdie tyd van beproewing, net soos ons deur die eeue heen gemaak het terwyl state en regerings gekom en gegaan het. Wees geduldig, standvastig en vol hoop; sodoende vul julle ons broers en susters se hart, te midde van verdrukking, met hoop. “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe” (1 Petrus 3:15). Wees aktief betrokke, en bereid om ter wille van die versetbeweging op te offer indien dit is wat dit verg om ons haglike situasie te beëindig. Die dryfveer moet net steeds die liefde wees.

5.4 Ons het nie die getallevoordeel nie, maar ons het ’n gewigtige en belangrike boodskap. Ons land het dringend liefde nodig. Ons liefde is ’n boodskap aan Moslems en Jode en aan die hele wêreld.

5.4.1 Ons boodskap aan die Moslems is dat ons in liefde en vrede wil saamleef. Ons vra dat fanatisme en ekstremisme verwerp moet word. Dit is ook ’n beroep op die wêreld om nie Moslems as vyande te stereotipeer of as karikature van terrorisme af te maak nie maar eerder in vrede met Moslems saam te leef en met hulle in gesprek te tree.

5.4.2 Ons boodskap aan die Jode: Alhoewel ons nog onlangs teen mekaar baklei het en steeds met mekaar worstel, is ons in staat om mekaar lief te hê en saam te leef. Wanneer die besetting gestaak is en geregtigheid geskied het, kan ons ons ingewikkelde politieke lewe vanuit die krag en aansporing van hierdie liefde inrig.

5.4.3 Die boodskap van geloof sê aan almal wat met die politiek gemoeid is dat mense nie bedoel is om mekaar te haat nie. Haat, moord en doodslag is onaanvaarbaar. Waar liefde heers, aanvaar mense mekaar, en daardeur word ons almal beter mense. Só word die liefde die grondslag van ’n gemeenskap.

6. Ons boodskap aan die kerke van die wêreld

6.1 Ons boodskap aan kerke wêreldwyd is in die eerste plek ’n woord van dankbaarheid. Ons is dankbaar vir die solidariteit met ons wat julle met woord en daad en deur julle teenwoordigheid betoon het. Ons loof ook die talle kerke en Christene wat die Palestyne se reg op selfbeskikking ondersteun. Ons stuur hiermee ook ’n boodskap van solidariteit uit met Christene en kerke wat as gevolg van hulle pleidooi vir reg en geregtigheid gely het.

Dit is egter ook ’n oproep tot berou hierdie. Fundamentalistiese teologiese opvattings wat bepaalde onregverdige politieke oplossings vir die Palestyne se posisie ondersteun, moet hersien word. Ons roep julle op om aan die onderdruktes se sy te staan en die Woord van God te bewaar as die goeie nuus wat vir almal bedoel is in plaas daarvan dat dit verander word in ’n wapen om die onderdruktes mee te vernietig.

Die woord van God is ’n boodskap van liefde teenoor sy hele skepping. God is nie die bondgenoot óf die teenstander van die een teenoor die ander nie. God is Here oor almal en het almal lief. Hy verwag van een en almal om reg te laat geskied, en sy voorskrifte geld vir ons álmal.

Ons vra van ons susterskerke om nie ’n teologiese dekmantel te verskaf vir die onreg wat aan ons gedoen word, vir die sonde van die besetting wat ons moet verduur, nie. Ons vraag aan ons broers en susters in die geloof vandag is: Sal julle ons help om ons vryheid terug te wen? Want dit is die enigste manier om die twee nasies in hierdie land te help om geregtigheid, vrede, veiligheid en liefde ’n werklikheid te maak.

6.2  Sodat julle ons werklikheid kan verstaan, sê ons aan die kerke: Kom kyk self. Ons sal van ons kant help sodat julle ons realiteit in sy naakte werklikheid kan ervaar. Ons sal julle ontvang as pelgrims wat gekom het om vir ons te bid en ’n boodskap van vrede, liefde en versoening te bring. Dan sal julle die ware feite uitvind en die mense van hierdie land, die Palestyne én die Israeli’s, leer ken.

6.3. Ons veroordeel alle vorme van rassisme en ons vra dat julle dit sal veroordeel en sal bestry in watter gedaante ook al, ongeag of dit op grond van godsdiens of etniese groepering is – anti-Semitisme en Islamofobie ingesluit. Terselfdertyd vra ons dat julle standpunt teen die Israeliese besetting van Palestynse grondgebied sal inneem en sodoende die waarheid oor die situasie sal verkondig. Soos ons reeds gesê het, beskou ons boikotmaatreëls en disinvestering as niegewelddadige maniere om geregtigheid, vrede en veiligheid vir almal te bewerkstellig.

 

 

7. Ons boodskap aan die internasionale gemeenskap

Ons versoek die internasionale gemeenskap om dubbele standaarde te laat vaar en aan te dring dat alle partye die internasionale resolusies betreffende die Palestynse probleem nakom. Wanneer die internasionale reg selektief toegepas word, dreig die wet van die oerwoud om oor te neem. Dit onderskryf die aanspraak deur sekere gewapende groepe en state dat die internasionale gemeenskap slegs die beginsel van geweld verstaan. Daarom vra ons dat julle die voorstelle tot uitvoering bring wat deur burgerlike en godsdienstige instellings gemaak is en wat ons hier bo genoem het: die instelling van ekonomiese sanksies en boikotte teen Israel. Ons herhaal net weer dat ons dit nie as wraak bedoel nie, maar eerder as ’n ernstige poging om die volgende te bewerkstellig: die einde van die besetting van Palestynse en ander Arabiese grondgebied deur Israel sodat ’n standhoudende en finale vrede gesluit kan word – die enigste waarborg van vrede en veiligheid vir almal.

8. Ons boodskap aan Joodse en Moslem-leiers

Ten slotte doen ons ’n dringende beroep op die godsdiensleiers, Joods sowel as Moslem, wat ons uitgangspunt deel dat elke mens deur God geskep is en dat almal dus ewe menswaardig is. Daarom dra ons almal ’n plig om die onderdruktes te beskerm en die waardigheid waarmee God hulle beklee het, te verdedig. Laat ons hand aan hand uitstyg bo die politieke standpunte wat tot dusver gefaal het en wat ons steeds op ’n pad van mislukking en lyding lei.

9. ’n Boodskap aan die Palestye en die Israeli’s

9.1 Dit is ’n oproep hierdie om God se beeld in elkeen van sy skepsels raak te sien en om die skeidsmure van angs en ras te oorwin. Dan kan ons konstruktiewe dialoog aangaan eerder as om vas te steek in die bose kringloop van nimmereindigende politieke maneuvers wat daarop ingestel is om die huidige situasie in stand te hou. Ons doen ’n beroep op almal om ’n gesamentlike visie na te streef wat op gelykwaardigheid en mededeelsaamheid gebou is eerder as op meerderwaardigheid of op ontkenning van ander se regte of op aggressie onder die voorwendsel van angs en veiligheid. Ons sê liefde ís moontlik, en so ook wedersydse vertroue. Daarom is ook vrede en daadwerklike versoening haalbaar. Só kan geregtigheid en veiligheid vir almal bewerkstellig word.

9.2. Opvoeding is belangrik. Opvoedkundige programme moet ons help om ander te leer ken soos hulle werklik is, en nie deur die bril van konflik, vyandigheid of godsdienstige fanatisme nie. Ons bestaande opvoedkundige programme is met vyandigheid deurspek. Die tyd het aangebreek dat ons begin met ’n nuwe soort opvoeding, wat ons in staat stel om die beeld van God in ander raak te sien, wat dit duidelik sal stel dat ons mekaar wel kan liefhê en dat ons wel in vrede en veiligheid saam aan ’n toekoms kan bou.

9.3 Pogings om van die staat ’n godsdienstige bestel te maak, hetsy Joods of Islam, perk die staat in. Dit lê die staat geweldig aan bande en verander dit in ’n stelsel wat diskrimineer en uitsluit deur een groep burgers bo die ander te verkies. Ons doen ’n beroep op godsdienstige Jode en Moslems: Laat die staat daar wees vir alle burgers, met ’n visie wat gegrond is op respek vir mense se godsdienstige oortuigings sowel as op gelykwaardigheid, geregtigheid, vryheid en respek vir pluralisme – nie op oorheersing deur een godsdienstige groep of op grond van getalle-oorwig nie.

9.4 Ons sê vir die Palestynse leiers dat ons huidige verdeeldheid ons gesamentlike posisie verswak en nog meer lyding veroorsaak. Absoluut niks kan hierdie verdeeldheid regverdig nie. In belang van ons volk, wat swaarder moet weeg as die belange van politieke partye, moet ons dit beëindig. Ons doen ’n beroep op die internasionale gemeenskap om hierdie eenheid te ondersteun en om die wil van die Palestynse volk te eerbiedig soos ons dit in ’n vrye verkiesing uitgespreek het.

9.5 Jerusalem is die hoeksteen van ons toekomsvisie, ons hele lewe. God het aan hierdie stad ’n besonderse betekenis in die geskiedenis van die mensdom gegee. Dit is waarheen alle mense op weg is. Hier sal hulle uiteindelik in vriendskap en liefde bymekaarkom in die teenwoordigheid van die een, enigste God, soos die profeet Jesaja dit beskryf het: “Daar kom ’n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe … Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie leer om oorlog te maak nie” (Jesaja 2:2-4).

Die stad word vandag deur twee volke en drie godsdienstige groepe bewoon. ’n Politieke oplossing sal op hierdie profetiese visioen en op die internasionale resolusies oor ’n verenigde Jerusalem gegrond moet word. Dit is die eerste aangeleentheid waaroor ons sal moet onderhandel. As die onskendbaarheid en die boodskap wat hierdie stad verteenwoordig, erken sal word, sal dit ’n bron van inspirasie wees in die soeke na ’n oplossing vir die hele probleem: wedersydse respek en die vermoë om ’n “nuwe aarde” in hierdie land van God op te bou.

10. Hoop op en vertroue in God

In die volslae afwesigheid van hoop laat weerklink ons steeds ons kreet van hoop. Ons glo in die God wat goed en regverdig is. Ons glo dat God se goedheid uiteindelik sal triomfeer oor die boosheid van haat en doodslag wat steeds in ons land voortduur. Ons gaan hier ’n “nuwe aarde” sien kom, en ’n “nuwe mensdom” – mense wat daartoe aangevuur sal wees om al hulle broers en susters lief te hê.

This entry was posted in Uncategorized and tagged . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Add to favorites
  • del.icio.us
  • Digg
  • Facebook
  • Google Buzz
  • LinkedIn
  • PDF
  • Print
  • StumbleUpon
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>