Die opstanding van Christus: ‘n Teologiese oriëntering

TEOLOGIESE DAG, FAKULTEIT TEOLOGIE

STELLENBOSCH, 31 JANUARIE 2011

Die opstanding van Christus: ‘n Teologiese oriëntering

Dirkie Smit, Stellenbosch

________________________________________________________________________________

Die evangelie as evangelie van die opstanding van Jesus Christus

Die evangelie is die evangelie van die opstanding van Jesus Christus. Dis die boodskap. Dis die goeie nuus. Dis die inhoud van die geloof. Die Christelike kerk bestaan danksy die opstanding. Alle werksaamhede van die kerk berus op die opstanding. Sonder die opstanding van Jesus Christus maak niks wat gelowiges sê of doen, bely of beoefen, enige sin nie.

Sonder sy opstanding was daar geen erediens nie. Die Christelike aanbidding was van aanvang aan aanbidding van die Opgestane Heer. Sonder sy opstanding was daar geen Sondag nie, dis gevier as “die dag van die Here.” Sonder sy opstanding was daar geen Christelike gebed nie, want dié geskied in die Naam van die Lewende Heer wat self intree by die Vader.

Sonder sy opstanding was daar geen Bybel nie. Die Evangelies is verhale oor die Een wat gekruisig en opgewek is, en die res van die Nuwe Testament getuig van die lewende Heer, op verskillende maniere, aan verskillende gemeentes, onder verskillende omstandighede. Die Bybel is juis saamgevoeg omdat die Ou Testament nodig was om saam te getuig aangaande dié Heer, verkondig deur die kerk.

Sonder sy opstanding was daar geen prediking nie, geen boodskap, geen sending – en geen kerk nie. Sonder sy opstanding was daar geen geloofsbelydenis nie, want dié getuig van die Drieënige God op grond van die opstandingsevangelie.

Sonder sy opstanding was dissipelskap en die Christelike lewe sinloos, want dan het alles tot ‘n einde gekom met die kruisiging – die evangelie is immers nie bloot ‘n morele ideaal of lewens-beskouing wat berus op die prediking van Jesus as historiese figuur nie.

Sonder sy opstanding was daar geen eindverwagting, geen perspektief op die gange van die geskiedenis, geen sinvolle betrokkenheid by die werklikhede van die alledaagse lewe, geen hoop op die koms van die ryk nie.

Kortom, álles wat Christene en die kerk glo, sê en doen berus op die opstanding – of liewer, die opwekking – van Jesus uit die dood. Ten wille van ‘n teologiese oriëntering mag dit egter nuttig wees om vier aspekte hiervan kortliks te onderstreep.

Die Verresene is Jesus, die Gekruisigde

Allereers is die sleutelsaak in die Bybelse getuienis dat dit Jesus is wat opgewek word. Dís die geheimenis, die wonder, die verrassing, die troos, die belofte, die nuwe perspektief op die hele wêreld en werklikheid, op die geskiedenis, op onsself, op Gód, dís die eintlike punt.

Die boodskap van die opstanding is nie maar bloot dat enigeen opgewek is nie. Dis nie dat dooies dus weer kan lewendig word nie, dis nie dat God in staat is tot enige wonderbare, magtige, vreemde werking nie.

Nee, die goeie boodskap, die wonder, die geheimenis is dat God vir Jesus uit die dood opgewek het. God wek vir Jesus uit die dood op en maak Hom tot Here en Christus, nie enigeen nie, maar híérdie Jesus, die Gekruisigde – só klink die inhoud van die eerste prediking volgens die boek Handelinge (Hand 2:36). Die wonderbare, verrassende punt is nie dat iemand wat dood was die dood oorwin nie, maar dat juis híérdie Jesus opgewek word.

Dis die teologiese betekenis van sowel die berigte oor die leë graf as die berigte oor die verskyninge van die Verresene. By alle diskontinuïteit is daar ook kontinuïteit – en dít moet die vroue, die dissipels, Petrus, Thomas, almal ontdek. Dis Jesus, húlle Jesus, die Jesus wat hulle geken en gevolg het – al is dit dieselfde Jesus in ‘n ander, verrassende, vreemde gestalte, “geestelike liggaam“ sou Paulus dit noem, by gebrek aan beter terme. Dit gaan immers hier om werklikheid waaroor net metafories gepraat kan word, soos Jaap Durand tereg sou sê.

Dís die hoop van die opstanding – die Gekruisigde lééf. Vir die eerste gelowiges – bevreesde vroue (Mark 16), teleurgestelde dissipels, twyfelende Tomasse (Joh 20), almal wat soos die Emmausgangers eens “gehoop het” maar dié hoop verloor het (Luk 24) – verander dié nuus alles. Sy beloftes was dus tóg waar. Hulle het Hom dus tóg nie vergeefs gevolg nie. Hulle drome was dus tóg nie ydel, hulle verwagtings is nie ontnugter nie.

Sy gelykenisse het dus tóg die wêreld her-beskryf soos wat dit wáárlik is – die vreemde, verrassende verhale van die Barmhartige Samaritaan, die arme Lasarus, die wagtende vader, die geregverdigde tollenaar, die vrygewige heer met die vriendelike oë – dié verhale het dus tóg ‘n nuwe werklikheid uitgebeeld, as heerlike uitnodiging om dáárin te woon, eerder as in die alledaagsheid wat hulle so gewoond was.

Sy wonderbare werke – so verstommend vanweë die góédheid daarvan, sy werke van genesing, sy kalmering van die magte, sy voed van hongeriges en versorging van die skares – was dus tóg die eerste vooraf trillinge van ‘n wonderbare kosmiese wedergeboorte.

Sy prediking was dus tóg vol gesag, waarheid en krag, wél woorde soos rots waarop lewenshuise gebou kan word. God is dus tóg oneindig liefdevol en genadig. God gee dus tóg om vir eenvoudiges en hulpeloses. Gods ingewande is dus tóg in beroering oor dié in nood, oor almal sonder hoop, oor wie swerf soos skape sonder herder. Die armes van gees is dus tóg gelukkig – die sagmoediges en barmhartiges, wat dors na geregtigheid.

Om die ander wang te draai, vir vyande te bid, dié te vergewe wat teen ons sondig, om te gee en te sorg, vrede na te jaag in plaas van vergelding, om geregtigheid te soek – dis dus tóg ware menswees. Om sy nuwe gebod uit te lewe, sy goue reël – dis dus tóg nie die lewenstyl van dwase, soos die magtiges van hierdie wêreld beweer nie.

Daar is dus tóg vir die allerellendigstes hoop – vir sondaars, tollenaars en uitgeslotenes. Niemand is dus tóg ooit te ver gevalle, té vasgeloop, té uitsigloos dat hulle nie radikaal vernuwe kan word nie. Dis dus tóg die a-b-c van die koninkryk – dat kinders, dié wat niks het om te bring of by te dra nie, daar vryelik mag ingaan. Niemand is inderdaad ooit té melaats, te onaantasbaar, te siek aan die siektes waaroor samelewings liewer swyg, vir sý omhelsing nie.

Wat Jesus geleer het in sy woorde, wat Hy uitgeleef het in sy werke, die navolging en die bediening waartoe Hy hulle geroep het – dit was dus tóg wel alles waar.

Die kruis was oor Hom tog nie die laaste woord nie. Die kruis staan vir ons weerstand teen Jesus – vir die mislukking van menslike regspraak; van politieke sisteme en magtige ryke; van kulturele prestasies aan kennis, wysheid en waarheid; van godsdienstige leierskap en kultus. Die kruis staan vir Gods oordele oor ons ontrou – maar in die opwekking van Jesus gee God vir Jesus reg en word ons vry, “ons wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredinge oorgelewer en opgewek sodat ons vrygespreek kan word“ (Rom. 4:24-25).

Vir enkele verskriklike dae het alles wel anders gelyk – maar na die opwekking staan alles skielik onherroeplik in ‘n nuwe lig. Wanhoop verander in hoop, moedeloosheid slaan om in oorvloedige lewe, radeloosheid wyk voor roeping, doodsheid van hart word geesdrif en krag. Dís die hoop van die opstanding – dat die ryk wat Hy verkondig en beliggaam het, tóg kom, vas en seker, die vredesryk, met sy geregtigheid.

Intussen is Hy self met ons, al die dae; verskyn Hy aan ons in die alledaagse gestaltes van siekes en gevangenes, noodlydendes en armes – sodat ons Hom nóú reeds kan liefhê en dien; tree Hy vir ons in by God, sodat ons self ook met vrymoedigheid mag bid, mag verlang na die ryk, soos Hy ons geleer het – dat Gods naam geheilig sal word, sy wil sal geskied, almal daaglikse brood sal hê, skuld ook onderling vergewe sal word, dat ons die verleiding en vrees wat kom met sy skynbare afwesigheid, sal kan deurstaan.

Die Gekruisige Jesus lééf en is Héér

Daarmee is ‘n tweede sleutel aspek van die Bybelse getuienis reeds aangeraak. Die belydenis dat die Gekruisigde Jesus opgewek is beteken dat Hy lééf – nóú leef, tans leef, in die hede leef. Die Evangelies, Handelinge, die Briewe, Openbaring getuig almal op radikaal uiteenlopende wyses hiervan – die Gekruisigde Jesus lééf, Jesus is die Héér. As lewende Heer is Hy tegelyk aanwesig én afwesig – en in dié spanning, vanweë dié ervaringe dat Hy tegelyk teenwoordig én onttrek is, sou die kerk van die eeue sowel oneindige troos as diepe aanvegtinge belewe.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis sou dié kerk hierdie motiewe en oortuigings saambundel in die woorde “wat opgewek is uit die dood, opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.“ Dis die eerste woorde in die Geloofsbelydenis in die teenwoordige tyd. Tot op daardie punt in die Credo word bely wat God gedoen hét, nou word oorgegaan na die belydenis van wat God aan die doen is.

En wat is dit? Jesus Christus, wat opgewek is, sit aan die regterhand van die Vader. Dit beteken dat Jesus – die Jesus van die Evangelies, die Gekruisigde, die Een “vir ons” – nou aan die lewe, die krag, mag, regering, die oorwinning van die Vader deel het. Wat ook al mag gebeur – in die geskiedenis, in die wêreld, in ons eie lewe, met diegene wat ons liefhet – Jesus sit aan die regterhand van die Vader.

Vir die vroeë gelowiges was dit tot ‘n wonderbare troos en inspirasie, wat hulle op talle maniere, met talle verskillende voorstellinge en beelde en metafore verwoord het, om telkens ‘n ander aspek na vore te bring. Hulle hoor dit byvoorbeeld in Jesus se beloftes in die laaste episode van Matteus se Evangelie, as Hy die dissipels verseker dat Hy met hulle is al die dade tot aan die einde. Hulle bely dit in die oortuiging dat Jesus vir hulle intree, namens hulle voorbidding doen en pleit. Hulle verwoord dit in die dramatiese visoene van die geskiedenis waarin die Lam wat geslag is voor die troon is en die mag ontvang het om die boeke te open.

Hulle druk dit uit in die oortuiging dat Jesus Christus lééf, in die oortuiging dat die Here naby is (by Paulus sowel naby in tyd as naby in aanwesigheid), in die oortuiging dat Jesus Christus waarlik teenwoordig is – byvoorbeeld in die Nagmaal, in die prediking, in die Bybel, in die gemeenskap van gelowiges (“twee of drie in my Naam”), in die gestaltes van armes, siekes, noodlydendes en gevangenes onder ons, in die vertroostinge en krag van die Heilige Gees.

Hulle druk dit veral uit in die oer-Christelike belydenis dat Jesus die Heer is. Hulle bely dit teenoor die keiser se aansprake, en deur die eeue telkemale weer teenoor magte en heerskappye, tot by die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus, Barmen en Belhar.

Hulle bely dat hulle nie aan hulleself behoort nie, maar aan Jesus Christus – en dié wete, tegelyk tot wonderbare troos én tot oriëntasie en inspirasie, rus op sy opstanding uit die dood.

Die lewende Heer is eersteling – van kosmos en kerk

Daarmee kom ‘n derde sleutel aspek van die Bybelse getuienis aangaande die opstanding van Jesus Christus ter sprake. In die Geloofsbelydenis van Nicea word dié antwoorde naamlik nog verder uitgebrei in die belydenis dat die Heilige Gees “die Here is wat lewend maak.“

Die lewende Heer is by ons teenwoordig en werksaam deur die Gees – in die geskiedenis, die werklikheid, die kerk, ons eie lewe. Die Opgestane en Lewende Christus werk deur die Gees en die Gees werk ook in en deur kosmos en kerk, ook in en deur óns, nou én op weg na die toekoms.

Die Opgestane Christus is nooit alleen nie – is tradisioneel gesê, nooit sonder dié wat aan Hom behoort nie. Hy is ook nie maar net ter wille van Homself opgewek nie, maar vir ons, ter wille van ons, ter wille van kosmos en kerk.

Briewe soos Efesiërs en Kolossense maak dié verbande aangrypend duidelik, met implikasies te radikaals en groots om te begryp. Jesus Christus is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy die eerste plek in die heelal kan inneem. Deur sy bloed aan die kruis het God immers alles op hulle plek gesit, kosmiese vrede herstel, alles op aarde en in die hemel met Homself versoen (Kol 1; Efes 1). Die kerk is niks minder nie as die liggaam van dié opgewekte en lewende Christus.

Die Heilige Gees is die Here self, wat lewend maak, bely die kerk. Dis die áárd van Gods Gees – dis die Opgestane Here, wat lewe skenk en lewend maak, wat skep en herskep, wat die dinge wat nie bestaan nie roep tot bestaan en alles wat gebroke en krank is núút maak, genees en versoen.

Deur Gods Woord, wat skeppend is, kragtig soos ‘n hamer wat rotse verbrysel, wat spreek en dit geskied, bring die Heilige Gees lewe waar daar niks is nie, waar niks moontlik lyk nie, waar doodsheid heers – dís die hoop wat die evangelie van die opstanding gee.

Gods lewendmakende Gees eenheid waar daar verdeeldheid, spanning en skeuring is; vrede, waar daar vervreemding, konflik en stryd is; versoening, waar daar bitterheid, pynlike herinneringe, en selfverterende wrok is; geregtigheid, waar daar onreg is en uitsluiting, vernedering en onderdrukking – dís die hoop wat die opstanding bring.

Die Gees maak ‘n kerk lewend, ‘n gemeenskap van geloof, ‘n vreemde, nuwe gemeenskap (1 Kor 12-14); van broers en susters wat mekaar nie kies nie, maar ontvang; een waarin die verdelinge en vooroordele waaraan ons so gewoond is, sosiaal, kultureel, ekonomies, polities nie die sê het nie (Gal 3), maar ‘n nuwe behoort-aan-mekaar; onderlinge eenheid van hart en gees, tot getuienis in die wêreld (Joh 17) – dís die werking van die opstandingskrag in en onder ons.

Die Gees maak gelowiges lewend, nuwe mense, wat die ou mens en die ou hartstogte en begeertes, strewes en prioriteite, waardestelsels en voorstellinge van ware mens-wees, geluk, sukses en geslaagde lewe aflê, en opstaan in ‘n nuwe, anderse lewe (Rom 6); mense wat deur die genadegawe van die doop verseël word as Gods eiendom (Efes 4) en voortaan verséker weet dat hulle aan hierdie God behoort, gewas van sonde en geheilig in sy oë – en daarom daagliks lewens lei wat pas by dié Een aan wie hulle behoort; mense wat deur die genadegawe van die nagmaal elke keer weer deur die Gees gevoed en versterk word om op dié nuwe lewenspad te kan volhard totdat Hy kom – dís die nuwe lewe van die opstanding, volgens die Heidelbergse Kategismus die aller-eerste nut van die opstanding van Jesus.

Die Gees maak ook die skepping nuut, die wêreld, die ganse werklikheid; tot eendag aanbreek wat die Bybelse tradisies besing in ryke, beeldende taal, as grootse oorwinning oor die laaste vyand; as koms van ‘n nuwe hemel en aarde waarop geregtigheid woon; as woon by God self, waar alle trane afgevee word; as kosmiese wedergeboorte; as hemelse hofsaak; as neerdaal van ‘n nuwe stad; aansit by ‘n oorvloedige maal; ‘n ryke verwagting wat die kerk sou bely as die opstanding van die vlees, van alles verganklik, broos en aan doodsheid onderhewig, en as die lewe van die toekomstige eeu – dís die hoop op die volheid van verlossing waarvan die opstanding die eerste teken is, volgens die Heidelbergse Kategismus die derde nut.

Dié lewendmakende Gees wat die Opgestane Christus stuur vertroos ons, lei ons in die waarheid, bewaar en versorg ons, staan ons by, verseker ons dat ons veilig en geborge is, laat ons al iets smaak van die vervulling van al dié beloftes. En intussen sug dié Gees saam met die sugtende wêreld, saam met ons, die sugtende kerk, ja, sug die Gees namens ons en in ons plek, omdat ons nog nie genoegsaam sug nie, omdat ons nie genoegsaam begryp hoe wonderbaar dié hoop werklik is, en wat ons nog ontbeer nie (Rom. 8:26) – omdat ons meer vertroud is met dood as met lewe.

Ons lewe is saam met Christus verborge in God, sê Paulus (Kol 3). Ons sit – rééds! – saam met Christus aan die regterhand van die Vader. Dis ons diepste identiteit. Dis die vaste en onverwelklike hoop waarin ons deel deur die opstanding (1 Pet). Dáárom leef ons nou – te midde van alle doodsheid en ellende – getroos, dankbaar, versorg, hoopvol, liefdevol, diensbaar, vol verwagting, vol oorwinning.

Dis die werklikheid wat in die doop aan ons beseël word. Dis die teenwoordigheid waarvan ons in elke Nagmaalsviering verseker word. Dis die waarheid wat al die beloftes van die Bybelse geskrifte ja en amen maak. Dis die hoop wat ons dra en oriënteer en motiveer, in konkrete, alledaagse lewe. Dis die versekering dat ons nie uit Gods hand kan val nie, selfs nie in die dood nie – só vat Wolfgang Huber die persoonlike troos van die opstanding saam.

Die kerk aanbid en bely dié God wat Jesus Christus uit die dood opgewek het

Daarmee word ‘n vierde – en belangrikste – implikasie vir ‘n teologiese oriëntasie duidelik. Die God in wie Christene glo is die God wat Jesus Christus uit die dood opgewek het.

Van die begin af het Christene bely dat hulle glo in “die God wat Jesus Christus uit die dood opgewek het.” Dis die hart van die openbaring, volgens die Christelike geloof, die self-definisie van God, die self-bekendmaking van God. Dis nie nog een verdere aspek van God naas ander, nie nog iets wat ons ook aangaande God glo en bely, benewens ander aspekte nie.

Ons glo ook nie eers in die algemeen, om ander redes en op ander gronde in God – en onder andere ontdek ons dan dat dié God in wie ons reeds glo ook nog boonop vir Jesus uit die dood opgewek het nie. Ons leer ken God eers as die Een wat Jesus Christus uit die dood opgewek het. Dis waar gelowiges God ontmoet, leer ken, sien wie God is – om daarna stamelend dié God te bely, te vertrou en te dien. Dis die naam van die God in wie Christene glo – die Een wat Jesus opgewek het uit die dood.

As die kerk wil getuig wie die God is in wie hulle glo, en dus ook wie hulle sélf is, hul eie diepste identiteit, sê hulle hul glo in die God wat vir Jesus uit die dode lewend gemaak het.

Trouens, dis die inhoud van die getuienis, die sending van die kerk – en in die Nuwe Testament word die opwekking van Jesus en die apostolaat van die kerk juis ten nouste verbind. As Christus daarom nié opgewek is nie, skryf Paulus (1 Kor 15:15), sou dit beteken dat hulle vals getuienis oor God afgelê het – want dis hulle boodskap, dis wat hulle aangaande God getuig.

Dit word baie duidelik uit Paulus se brief aan die Romeine. In Romeine 4 verduidelik Paulus vir die gemeente die kern van die geloof in die evangelie, onder andere met verwysing na die geloof van Abraham, “die vader van ons almal” (16). Abraham wás reeds wat hy nog nie was nie, naamlik “in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (17). Abraham twyfel nie aan Gods beloftes nie, maar word versterk sodat hy ten volle oortuig kan wees daarvan dat God mag het om te doen wat Hy beloof het – en dan gebruik Paulus woorde wat feitlik soos ‘n definisie, ‘n samevattende beskrywing klink – “nes óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het” (4:24). Dis wie God vir ons is – en dis daarom ook wie óns is, sê Paulus.

In Romeine 8 gebruik hy dieselfde beskrywing van God om die gemeente te verseker dat hulle ook alreeds is wat hulle nog nie is nie (nes Abraham!) – “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11).

Daar bestaan geen twyfel nie. Dís wie God vir Paulus is – “die Een deur wie Jesus Christus uit die dood opgewek is” – en op grond dáárvan kan hy allerlei praktiese gevolgtrekkings maak, oor gelowiges en die kerk, wie hulle is, wat met hulle gaan gebeur, wat reeds met hulle aan die gebeur is, wat hulle behoort te doen, wat byvoorbeeld in doop en nagmaal alles met hulle gebeur, dit álles lei hy af uit wie die God is aan wie hulle behoort, die Een wat vir Jesus opgewek het uit die dood.

In Romeine 10 vat hy die kern van die evangelie nog ‘n keer saam, nou in ‘n ander deel van sy argument, maar sy oortuigings bly presies dieselfde. “Hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (10: 8, 9). Dís die boodskap waardeur die kerk tot stand gebring is en waarmee die kerk ook die wêreld ingaan, om aan ander te vertel, sodat hulle ook hierdie heerlike troos en goeie tyding mag ontvang en vertrou.

Op talle ander plekke in die Nuwe Testament word dieselfde oortuigings uitgespreek (2 Kor 4:14; Gal 1:1; Ef 1:20; Kol 2:12; Heb 13:20; 1 Pet 1:21). ‘n Mens sou kon sê die kerk glo nie soseer in die opstanding van Jesus nie, as in die God wat vir Jesus opgewek het, nie in ‘n gebeurtenis of in ‘n feit nie, maar in God, in die God wat in dié gebeurtenis ‘n soort self-definisie gegee het van wie God waarlik is, dié Een wat vir Jesus Christus, ons Here, uit die dood opgewek het.

Kortom, die geloof hóóp op God, op híérdie God wat Jesus uit die dood opgewek het, die lewende Drieënige God. Die kerk van die eeue bely die opstanding as hulle hul geloof in die Drieënige God bely. Daarom is die credo’s van die kerk – soos wat die gevierde kerkhistorikus Jaroslav Pelikan in sy Credo sou duidelik maak – niks anders nie as die belydenis dat Jesus die Here is, dat Jesus Christus leef, dat God Drie-enig is, dis alles één evangelie.

Die opwekking van Jesus is die diepste grond agter die belydenis van die kerk in die gereelde aanbidding, en van daaruit in die praktyk van elke dag, onder alle omstandighede en alle oomblikke.

n Oriëntering in die teologie?

Dis moontlik om die huidige stand van Christelike teologie as akademiese veld te beskryf deur by elkeen van dié aspekte name te noem van bekende figure en boeke. Baie lede van die gehoor sou self aan sulke name en boeke gedink het. Hopelik sal heelwat lede van die gehoor, veral die nuwe studente, in die jare wat kom ook dié figure en dié name nog leer ken.

Die bedoeling vanoggend was egter meer populêr – bloot om onsself weer te herinner hoe fundamenteel geloof in die opstanding van Jesus Christus eintlik die Christelike geloof oriënteer. Dis eenvoudig die hart van die Christelike Godskennis en van die hele geloofslewe.

In die geskiedenis was en bly al dié aspekte egter omstrede en ontken, dikwels aangeveg en bestry, meermale vergeet en verloën. Dis daarom ook moontlik om die huidige stand van teologie te beskryf deur by elk van dié aspekte na te dink oor sulke debatte en konflikte.

Daar was altyd en bly steeds allerlei alternatiewe vorme van religieusiteit en spiritualiteit, alternatiewe godsbeelde en vorme van aanbidding. Die werksaamheid van die Opgestane Christus deur die Gees was en bly omstrede. Die aard van die teenwoordigheid van die Lewende Heer was en bly omstrede. Die belydenis dat God juis die Gekruisigde Jesus opgewek het, is en word meermale vergeet en verloën. In Westerse tradisies is die opstanding van Jesus Christus vir eeue nie eintlik geglo en gepreek nie, maar was dit – vanweë talle redes – tot verleentheid, selfs aanstoot, sodat maniere gesoek is om dit wel begryplik en aanvaarbaar te maak, tot vandag nog.

Ook dié verleentheid en aanstoot is trouens nie nuut nie. Paulus skryf 1 Kor 15 immers al as reaksie op sulke besware in sý dag, en ontwikkel daar ‘n diepsinnige teologiese oriëntasie. Die opstanding is nie maar een oortuiging naas ander, wat ewe goed ontken sou kon word terwyl die res van die geloof nog bely word nie, is sy punt. Die hele evangelie rus op die opstanding. Wie dit verloor, verloor daarmee álles – hy noem hulle “die bejammerenswaardigste van alle mense” (19). Maar nou, sê hy, “Christus is opgewek uit die dood” (20).

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Add to favorites
  • del.icio.us
  • Digg
  • Facebook
  • Google Buzz
  • LinkedIn
  • PDF
  • Print
  • StumbleUpon
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

3 Kommnetaar vir Die opstanding van Christus: ‘n Teologiese oriëntering | 3 Responses to Die opstanding van Christus: ‘n Teologiese oriëntering

  1. Ek het ook die teologiese dag bygewoon, asook die bespreking wat hierop gevolg het. Prof. Smit het in die bespreking ná sy referaat duidelik laat blyk dat hy nie glo in die onsterflikheid van die siel nie, en dat hy meen die bybel sien die fisiese dood in ‘n baie ernstige lig. Die tema van die dag was “Die opstanding en die lewe.” Klaarblyklik kom hierdie frase vanuit Joh 11:25-26 “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; (26) en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”
    “Die lewe”, wat eintlik deel was van die tema van die teologiese dag, het na my mening nie so sterk gefigureer nie, in elk geval nie in die konteks waarin dit bedoel is in Joh 11 nie, en dit lyk vir my dat Smit se verstaan van “die lewe” net te doen het met die lewe op aarde hier en nou, dat die evangelie slegs te doen het met troos en hoop vir hierdie lewe, sonder die noodwendige vooruitsig van ‘n werklike lewe ná die fisiese dood waar mense ewig saam met God lewe. In teenstelling hiermee sê Paulus juis dat as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus nie opgewek uit die dood nie, en dat ons geloof dan nutteloos is (1 Kor 15:16-17). Wanneer ons die ewige lewe wat in Joh 11:25-26 (hierbo aangehaal) sien as lewe anderkant die fisiese dood (wat duidelik blyk vanuit die konteks), dan dekonstrueer Smit se klem op die opstanding as synde ‘n onderskeidende boublok van die Christelike geloof ditself (siende dat hy by implikasie nie in die ewige lewe ná die fisiese dood glo nie), want dan kon dit net sowel enige ander goeie morele filosofie vir hierdie lewe gewees het sonder ewigheidswaarde. Sien vir ‘n bespreking hieroor.

  2. avatar Jan Grey says:

    Ek is dit absoluut eens met prof Dirkie dat die hele “Christelike Bedryf” … alles wat hy genoem het, die fondament van ons geloof is.

    Ek sou dit onverstaanbaar vreemd vind as hy enigsins sou gesê het en/of sou gesuggereer het dat gelowiges nie onsterflik is nie. Dit sou goed wees as Dirkie vir ons (wat nie daar was nie) sou uitspel dat alle Christengelowiges vir ewig sal lewe!
    Jan Grey.

  3. Dankie Jan vir jou bydrae.

    Ek kan dieselfde sentiment deel. Smit se beskouing oor “die onsterflikheid van die siel”, as sou dit sumier ‘n Griekse idee wees en ons daarmee moet wegdoen, bied nie ‘n antwoord t.o.v. hoe ons die ewige lewe moet verstaan nie. My aanvoeling is dat hy waarskynlik sal sê dis ‘n sg. “misterie,” net soos hy suggereer dat die opstanding ‘n sg. “misterie” is. Dit sal egter nie ‘n bevredigende antwoord wees nie (as ek reg antisipeer). Soos ek verstaan is die hart van ons geloof dat ons werklik en reël ewig sal lewe saam met Christus die fisiese dood. Hiermee saam kan ons onmoontlik menswees suiwer vanuit ‘n naturalistiese / humanistiese mensbekouing verstaan, as sou die totaliteit van menswees slegs die som wees van liggaam, neurone, sinapse en chemiese prosesse. Deel van die fondasie van die Christelike geloof is: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; (17) en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos…” (1 Kor 5:16). As ons nie kan glo dat ons totale menswees volledig en werklik leef anderkant die fisiese dood nie, dan is Christus se opwekking uit die dood inderdaad nutteloos, en gee ons inderdaad die hart van ons Christelike geloof prys.

    Groete
    Philip du Toit

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>