Om te stem is ‘n kernelement van inklusiewe demokrasie. Die demokratiese visie behels ‘n lewe van menswaardigheid, vryheid en geregtigheid vir almal, en ‘n lewe waarin die natuurlike omgewing gerespekteer en versorg word. Derhalwe was 27 April 1994 ‘n baie spesiale dag, die dag toe alle Suid-Afrikaners ‘n stem kon uitbring ter ondersteuning van die vervulling van die demokratiese visie.
Talle faktore bring mee dat ‘n beduidende getal mense nie meer so entoesiasties is om te stem soos sewentien jaar gelede nie. Vir ‘n groot deel van Suid-Afrikaners het die demokratiese visie nog nie in vervulling gegaan nie. Miljoene ervaar nog nie ‘n lewe van menswaardigheid nie. Hulle is uitgesluit van die mees basiese lewensmiddele soos skoon water, voedsel, klere, veilige huise, toiletgeriewe, skoon strate, ontspanningsgeriewe, gesondheidsorg, toegang tot skole en ander opleidinginstansies, en werkgeleenthede. Om nie te praat nie van veilige omgewings en van deelname aan sport, kultuur, kuns en ekonomiese en politieke prosesse wat sentrale uitinge is van ‘n lewe van menswaardigheid.
Talle bly weg van die stembus want ‘n beduidende getal politieke leiers van alle politieke partye sowel as openbare ampsdraers, selfs ook sommige voormalige kamerade in die stryd teen apartheid, is betrokke in praktyke van nepotisme, korrupsie, selfverryking, die najaag van eiebelang en die versaking van die algemene belang, van die “common good”.
Talle bly weg want dit lyk asof sommige politieke ampsdraers die demokratiese visie soos verwoord in ons land se Grondwet vergeet het of verraai. Talle is moedeloos en wil nie stem nie omdat dit lyk asof ons nie meer partye het nie wat die demokratiese visie aanhang, en wat terselfdertyd die morele en politieke wil het, sowel as die tegniese en bestuurskundigheid om daardie visie te verwesenlik.
Ons durf egter nie ons rug op politieke prosesse draai nie. Ten spyte van die ontoereikende vervulling van die demokratiese visie, die verraad teen die visie, en die onbereidwilligheid en onvermoë van sommige om die visie tot verwesenliking te bring, moet ons steeds stem. Deur te stem sê ons ons besef nêrens in die wêreld is daar perfekte politieke partye en openbare ampsdraers nie. Wie betrokke raak by politieke prosesse raak betrokke by onvolmaakte prosesse.
Verantwoordelike Christenskap en burgerskap beteken juis dat ek bereid is om my hande vuil te maak, om by onvolmaakte prosesse betrokke te wees en die risiko van foutering te loop sonder om basiese morele beginsels te verloën. Wie stem open egter ook die weg om konstruktiewe selfkritiek en openbare kritiek te lewer waar die demokratiese visie verraai word. Hulle ontmasker die kwaad in die party vir wie hulle stem en in ander partye op eerlike en waagmoedige wyse. Wie stem verbind hulle ook daartoe om as verantwoordelike burgers elkeen op sy of haar eie wyse saam te werk aan die bou van ‘n nuwe samelewing van menswaardigheid, vryheid en geregtigheid.
Politieke partye, regeringslede en openbare ampsdraers kan nie alleen die demokratiese visie implementeer nie. Vir die demokratiese visie om te realiseer het ons, benewens politici en openbare ampsdraers, die insette nodig van persone en instansies in die sakesektor, vakbondwese en die breër burgerlike samelewing wat insluit organe op die terreine van godsdiens, opvoeding, sport, kultuur, kuns en die openbare meningsvorming.
Op 18 Mei stem ons met waarskynlik minder entoesiasme, maar hopelik steeds met ‘n verbintenis tot en ‘n vasberadenheid oor ‘n samelewing van menswaardigheid, vryheid en geregtigheid vir almal.
Nico Koopman is dekaan van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch
* Hierdie artikel vorm deel van die Godsdiens Aktueel-reeks wat weekliks in Die Burger verskyn *
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment