Algar praat van “kultuur van vrees“ en “politiek van vrees“ – hoewel dié terme uiteenlopend verstaan word deur politieke filosowe en sosiale kommentators. Almal bedoel dat ons tydsgees een van vrees is. Ons denke, dade, politiek word gedryf deur vrees, dáároor stem geleerdes saam – maar oor hóé dit werk, word verskil.
Sommige sê al vir eeue dat liberale, demokratiese politiek rus op diep verborge vrese by ons álmal. Ons vrees vir die veiligheid van ons eie persoon en besit (reeds Locke, 17e eeu), ons vrees despote wat oor ons regeer en aanvang net wat hulle wil (al Montesquieu, vroeg 18e), ons vrees té snelle sosiale transformasie waarmee ons nie tred hou nie (só De Tocqueville, 19e), ons vrees burokratiese banaliteit wat handuit ruk en bóósheid bevorder (Arendt, 20ste). Dáárom, sê diesulkes, benodig ons liberale politiek met sy vele teëwigte – openbare media, publieke mening, politieke partye, vrye verkiesings, burgerlike samelewing – om só ons vrese te besweer, vir gemoedsrus, sekuriteit. Ons het sélf beheer.
Maar nee, sê ander, dis ándersom! Liberale politiek skép juis vrese (Foucault, laat 20ste eeu). Media práát ons bang, partye skep vyandsbeelde, vertel dreig-stories, versin voorspooksels, roep gevare op – op soek na ons steun. Leiers buit ons drang tot self-behoud uit (Hobbes, 17e). Hulle benut graag predikers om dié vrese in ons in te praat, sodat húlle meer steun sal geniet – en dis rég so, sê Machiavelli (al in die 16e eeu), dis presies wat wyse politici behóórt te doen, gee hy die magtiges geslepe advies. Laat die (arme) volk gló dis in húlle belang dat dié party regeer – só kan politici hulself verryk danksy dié kultuur van vrees.
Vandag is alles egter érger, sê ander. Die mark, die globale kapitaal-mag, is selfs magtiger as politiek. Wakker ons begeertes aan na koop en verbruik – en dáárvoor moet steeds groter dele ingeneem word, déél word van die konsumpsie, al kos dit óórlog. Ons gló die kultuur van vrees – en aanvaar dat alles móóntlik gedoen word, wat mense ons mag wys maak nódig is om dié lewenstyl te verbrei en beskerm, dis immers óns begeertes en geluk op die spel (Deleuze, Chomsky).
Dáárom is daar vandag ook filosowe soos Alain Badiou. Nie kerklik nie, maar denkers wat weer by Paulus wil begin en by die vreemde boodskap van die opstanding. Móénie vrees nie. Liefde dryf die vrees uit. En politiek van liefde die politiek van vrees, glo hulle. - DJS
Hierdie rubriek is deel van die Geestelike Waardes-reeks wat elke week in Die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment