Kultuur van vrees – en politiek?

Algar praat van “kultuur van vrees“ en “politiek van vrees“ – hoewel dié terme uiteenlopend verstaan word deur politieke filosowe en sosiale kommentators. Almal bedoel dat ons tydsgees een van vrees is. Ons denke, dade, politiek word gedryf deur vrees, dáároor stem geleerdes saam – maar oor hóé dit werk, word verskil.

Sommige sê al vir eeue dat liberale, demokratiese politiek rus op diep verborge vrese by ons álmal. Ons vrees vir die veiligheid van ons eie persoon en besit (reeds Locke, 17e eeu), ons vrees despote wat oor ons regeer en aanvang net wat hulle wil (al Montesquieu, vroeg 18e), ons vrees té snelle sosiale transformasie waarmee ons nie tred hou nie (só De Tocqueville, 19e), ons vrees burokratiese banaliteit wat handuit ruk en bóósheid bevorder (Arendt, 20ste). Dáárom, sê diesulkes, benodig ons liberale politiek met sy vele teëwigte – openbare media, publieke mening, politieke partye, vrye verkiesings, burgerlike samelewing – om só ons vrese te besweer, vir gemoedsrus, sekuriteit. Ons het sélf beheer.

Maar nee, sê ander, dis ándersom! Liberale politiek skép juis vrese (Foucault, laat 20ste eeu). Media práát ons bang, partye skep vyandsbeelde, vertel dreig-stories, versin voorspooksels, roep gevare op – op soek na ons steun. Leiers buit ons drang tot self-behoud uit (Hobbes, 17e). Hulle benut graag predikers om dié vrese in ons in te praat, sodat húlle meer steun sal geniet – en dis rég so, sê Machiavelli (al in die 16e eeu), dis presies wat wyse politici behóórt te doen, gee hy die magtiges geslepe advies. Laat die (arme) volk gló dis in húlle belang dat dié party regeer – só kan politici hulself verryk danksy dié kultuur van vrees.

Vandag is alles egter érger, sê ander. Die mark, die globale kapitaal-mag, is selfs magtiger as politiek. Wakker ons begeertes aan na koop en verbruik – en dáárvoor moet steeds groter dele ingeneem word, déél word van die konsumpsie, al kos dit óórlog. Ons gló die kultuur van vrees – en aanvaar dat alles móóntlik gedoen word, wat mense ons mag wys maak nódig is om dié lewenstyl te verbrei en beskerm, dis immers óns begeertes en geluk op die spel (Deleuze, Chomsky).

Dáárom is daar vandag ook filosowe soos Alain Badiou. Nie kerklik nie, maar denkers wat weer by Paulus wil begin en by die vreemde boodskap van die opstanding. Móénie vrees nie. Liefde dryf die vrees uit. En politiek van liefde die politiek van vrees, glo hulle. - DJS

Hierdie rubriek is deel van die Geestelike Waardes-reeks wat elke week in Die Burger verskyn.

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Print
  • Digg
  • del.icio.us
  • Facebook
  • Google Bookmarks
  • Add to favorites
  • LinkedIn
  • MySpace
  • NewsVine
  • PDF
  • Reddit
  • StumbleUpon
  • Technorati
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>