In dié dae vier Christene wêreldwyd Pase – al noem hulle dit verskillend, vier hulle dit anders, ervaar hulle dit hóé uiteenlopend. Germaanse, Romaanse en Arabiese tale praat meesal van Pase, uit Grieks (pascha) en Latynse (passa) vertalings van Semitiese terme (pischa, pesach) vir die Joodse Pasga, die fees van Ongesuurde Brode, as herinnering aan die Uittog. Dié noue band blyk al uit die Evangelies, sóós ook by Paulus (1 Kor. 5:7). Kruis en leë graf pás by die viering van Pasga.
Pasga val op die 15e dag van die eerste maand Nisan (Lev 23:5). Omdat Joodse maan-berekeninge verskil van sowel Westerse (Gregoriaanse) as Oosterse (Juliaanse) son-kalenders, is Pasga ‘n “bewegende fees,“ elke jaar op ’n ánder (son-kalender) datum – en Pase óók. In die vroeë kerk was daar hewige debat of dit sáám met Pasga op 15 Nisan moes val (dus enige weeksdag) of die Sondag daarná, wat sedert die 4e eeu praktyk word. Só vier Jode táns die Pasga, want 15 Nisan was vanjaar 19 April, en dié Sondag is Pase.
Party sê glo Paaske (Deens), Pasen (Nederlands), Paskit (Noors), Páskar (Yslands), Pasqua (Italiaans), Pascua (Spaans) en Pâques (Frans). Kelte praat óók van Pasg (Wallies), Cáisc (Iers) en Càisg (Gallies), Russe van Pashka, Finne van Pääsiäinen. Duits sê egter Ostern en Engels Easter – van omstrede oorsprong. Veral sedert die 19e eeu wil sommige Ostern graag, dog onoortuigend, herlei na oer-Germaanse gode en gebruike. Roemene sê glo opstanding (Înviere), soos ook Kroate (Uskrs), Slawe glo “Groot Nag“ (Pools, Slowaaks, Tjeggies) of “Groot Dag“ (Masedonies, Ukraïens, Bulgaars, Belarussies) en Hongare Húsvét (neem van vleis, dus: end van die vas).
Maar nié net name nie, ook style van viering, stemming, belewenis verskil – tussen kulture, kultusse, kerke, mense, en dis juis die púnt. Reeds deur die Evangeliste word dit verskillend vertel. In die Briewe só uitgelê. In die geskiedenis só verstaan. In die geloof só bely. In die liturgie só beleef. Vele ag Donderdagaand as hoogtepunt, ander Vrydagmôre, Saterdagoggend, Saterdagnág, vróég Sondag – en telkens wissel die stemming. Party is bedroef, ander stil, ander uitbundig. Baie luister somber na Passies, ander jubel vrolik Halleluja! En dis rég so. Die paas-geheimenis is te groot en groots vir saamvat en opsom. Elk word ánders geraak. Onthóú, beléwe, hóóp – dis immers vir elkeen ánders? Juis omdat ons hárte so verskil? - DJS
Hierdie rubriek is deel van die Geestelike Waardes reeks wat elke Saterdag in die Burger verskyn.
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment