Is dit nie vreemd nie? Die Gees van God het pas sigbaar, in die gestalte van ’n duif, op Jesus neergedaal ter bekragtiging van die Vader se verklaring dat Jesus die Seun van God is (Mt 3:16-17; Mk. 1:9-11; Lk. 3:21-22). Is die resultaat ekstase, innerlike vrede, blydskap? Nee, die Gees dryf Jesus in die woestyn in om eensaam met die betekenis en implikasies van sy messiaanse roeping te stoei (Mt. 4:1-11; Mk. 1:12-13; Lk. 4:1-13). Wat verwag God van Hom? Hoe moet Hy sy taak aanpak?
Dan is daar ’n stem, ’n gewaarwording, ’n aanloklike voorstelling van messiasskap, wat hom aan Jesus se bewussyn opdring. Die evangeliste sê dit was die Duiwel, die leuenaar en versoeker. (Is die Duiwel regtig? vra iemand dalk. Karl Barth sou glo ’n keer gesê het: “Dis nie belangrik of die slang gepraat het nie, maar wat hy gesê het!”)
Is dit vir Jesus ook so glashelder? Sou dit vir Hom ’n egte versoeking wees as Hy meteen duidelik kon sien dis die Bose wat hom tot grootdoenerige magsvertoon aanpor? Gestel ou Nick staan met stert, horings, vurk en al voor jou of my en sê: “Buig voor my neer!” Sou selfs ons hom nie aflag nie?
Volgens Paulus doen die Duiwel hom as ’n engel van lig voor (2 Kor. 11:14); in Openbaring 17:4 is sy “uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels”. Lê daarin nie ’n sleutel tot die verstaan van Jesus se versoekings nie? Die stem bied hom as die stem van God aan. Die stilte, “honger” en verlatenheid van die woestyn, die skynbare afwesigheid van die Vader, word deur ’n vriendelike, aansporende, selfs vertroostende stem verdryf: “Hier is die plan van aksie …”
As die Duiwel nie aan die klank van sy heuningsoet stem of sy sjarmante voorkoms uitgeken kan word nie, waaraan dan? Aan sy vals note. Dié wysie klink nie vals wanneer dit in isolasie beluister word nie. Dis eers wanneer die klank van God se Woord daarnaas weerklink (“Dit staan geskrywe …,” antwoord rabbi Jesus telkens) dat harmonie onmoontlik blyk, die wanklanke hoorbaar word. Sit dit af, sit dit af!
Dis nie dat Jesus toepaslike teksverse kan vind nie. Dit doen die Duiwel self uitmuntend! Nee, Jesus van Nasaret lééf met en uit die skriftelike neerslag van Israel se herinnerings en getuienis – “oordink dit dag en nag” (Ps. 1:2). Die taal van die Skrif het sy taal geword, die denkbeelde sy denkbeelde, die waardes en sentimente ook syne. Dít is die deuntjie – of liewer: die simfonie – wat voortdurend in sy hart weerklink, soos ’n musiekstuk selfs in die “geestesoor” van die dowe Ludwig von Beethoven hoorbaar was. Vandaar dat Jesus die opsigself meesleurende ritme van die Duiwelslied onmiddellik as ’n wanklank herken.
Die versoeking is nie om bewustelik die Duiwel bo God lief te hê nie, maar om die stem van boosheid as God se heilige stem te hoor. Die Here is nie, soos die afgod Baäl, in stormwind, aardbewing en vuur nie, maar soos “’n fluistering in die windstilte” (1 Kon. 19:11-13). Die klanke wat hulle luiddrugtig aan ons opdring, is makliker hoorbaar as die stem van God.
Paulus verwys na die “onderskeiding van geeste” (1 Cor. 12:10). Hoe dan? Deur van elke gees te vra of dié se lied (al is dit ook tale, wonders of “geestelike” prestasies) met die geklank van die Woord resoneer. Daardie Woord was nie net voedsel vír Jesus, en is nie net déúr Hom uitgedeel, nie, maar het (sou dit blyk) ás Jesus “mens geword” (Jn. 1:14). Laat ons dan ook daardie Woord dag en nag oordink.
Lees meer van Gerrit Brand se inskrywings op sy blog, DinkNet.
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment