Carel Boshoff is dood, en saam met hom ‘n era wat deur hom en drie van sy oorlede klasmaats aan die teologiefakulteit van Tukkies – Johan Heyns, Willie Jonker en Nico Smit – beliggaam is. ‘n Merkwaardige viermanskap!
In rugbyterme sou ‘n mens dalk wil sê dat, as Smit linkervleuel, Jonker buitesenter en Heyns binnesenter gespeel het, Boshoff die regtervleuel was – behalwe dat hulle nie vir dieselfde span gespeel het nie! Mense wat enige een van hierdie vier teoloë geken het, sal egter protesteer dat dit te simplisties is. Tereg ook. Nie net is die terme “regs” en “links” te grof om posisies op die meerkantige politieke speelveld te karteer nie, maar die oortuigings en optrede van Smit, Jonker, Heyns en Boshoff onderskeidelik was te multidimensioneel om op een plek geplaas te word.
Boshoff was, van die vier, die een wat die langste bly glo het dat geografiese skeiding en afsonderlike ontwikkeling van die verskillende “volke” in Suid-Afrika die beste manier is om vreedsame naasbestaan te verseker. Hoewel hy ten einde laaste tog van daardie droom van sy skoonpa, Hendrik Verwoerd, afgesien het, in die sin dat hy aanvaar het die swart etniese groepe gaan dit nooit steun nie, het hy bly glo dat sy eie minderheidsgroep, die Afrikaners, slegs met ‘n eie volkstaat hul kultuur kan handhaaf. Van hierdie oortuiging is Orania die vergestalting.
Wat Boshoff van die meeste ander “regses” onderskei het, is dat hy vroeër as hulle, en selfs vroeër as die sogenaamde “verligtes” in die Nasionale Party, ingesien het dat afsonderlike ontwikkeling sowel prakties tot mislukking gedoem, as moreel onverdedigbaar, sou bly solank wittes daarop sou bly aandring om die grootste deel van die land te beset en ekonomies van swart arbeid afhanklik te bly. Smit, as politieke opponent, maar ook lewenslange vriend, van Boshoff, skryf dan ook in sy boek Mosaïek van mense: “Getrou aan sy oortuiging, het Carel dus ‘n eie gebied , Orania, vir die Afrikaners help stig. Daardeur het hy bewys dat hy gewillig was om die daad by die woord te voeg … Vir die manier waarop hy aan sy oortuiging gestalte gegee het, verdien hy erkenning.”
Dis ‘n ope vraag of Boshoff se gevolgtrekking, dat Afrikaners as minderheid met ‘n kleiner deel van die land tevrede sou moet wees indien hulle hulself wou bly regeer, in lyn was met die diepste bedoeling van sy skoonpa se oorspronklike visie. Ons vergeet te maklik dat deel van die apartheidsideoloë se argument vir afsonderlike ontwikkeling bestaan het uit ‘n morele kritiek op eers die Britte en daarna die Suid-Afrikaanse Party se bereidheid om swartes permanent ondergeskik te hou. As swartes nie in “blank Suid-Afrika” politieke regte kon geniet nie (so is geargumenteer), moes gebiede aan hulle toegeken word waar hulle wel volwaardige burgers kon wees, die sogenaamde “tuislande”. Hierdie argument het myns insiens grootliks gefunksioneer as ‘n ideologiese middel om ‘n morele kleurtjie aan ‘n onmenslike beleid te probeer verleen, en was in dié sin selfbedrog.
Ek het mense al hoor sê dat Verwoerd die eerste staatshoof was wat die morele argument ernstig probeer neem het. Of dit waar is, weet ek nie (ek weet wel dat gruweldade onder Verwoerd se termyn as staatshoof gepleeg is – bes moontlik in die oortuiging dat dit vir ‘n goeie saak was). Maar ek twyfel vir geen oomblik nie dat Boshoff sowel die pragmatiese as die etiese oorwegings hoe langer hoe meer ernstig geneem het. Dit blyk onder meer uit sy afskeid van die Broederbond waarvan hy jare lank ‘n getroue lid was, omdat hy nie meer aan dié organisasie se toekomsvisie geglo het nie. Belangriker nog is egter twee staaltjies oor Boshoff wat ‘n groot indruk op my gemaak het.
Een het te doen met die NG Kerk-sinode waarby die dokument Kerk en samelewing aanvaar is. Blykbaar sou die normale prosedure wees dat oor elke afdelings of artikels in die dokument afsonderlik gestem word. Toe die proses moet begin, het Boshoff egter glo voorgestel dat die hele dokument aanvaar word – ‘n voorstel wat deur die sinode aanvaar is. Kerk en samelewing is die dokument waarmee die NG Kerk amptelik van apartheidsteologie afskeid geneem, die verkeerdheid van sy eie teologiese verdediging daarvan bely, en die kerk vir alle rasse oopgestel, het. Kennelik kon Boshoff hom met die inhoud daarvan vereenselwig - anders as die groepie regses in die kerk was uit protes afgestig, en die Afrikaanse Protestantse Kerk opgerig, het.
Smit skryf in sy vertelling oor Boshoff: “Wat vreemd is, is dat Carel in die NG Kerk gebly het, wetende dat die NG Kerk die beleid van afsonderlike ontwikkeling van volkere in Suid-Afrika finaal afgewys het. Waarom hy gekies het om nie by die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) aan te sluit nie, sal hý alleen weet.” Miskien help dit wat oor die Kerk en samelewing-sinode vertel word om Smit se vraag te beantwoord. Sou dit kan wees dat Boshoff se geloof tog sy nasionalisme getemper het in die sin dat hy, hoewel steeds toegewy aan Afrikaner-selfbeskikking, nie meer in ‘n volkskerk geglo het nie, maar die implikasies van die kerk se eenheid en katolisiteit ernstig wou neem?
Dan is daar die vertelling oor hoe Boshoff, by die opening van die eerste Noord-Kaapse parlement, sy eerste toespraak as lid van dié parlement in Sotho gelewer het. Die simboliese krag van sowel sy konstruktiewe deelname aan die post-1994-regering (waarin sy seun Carel Boshoff IV hom nagevolg het) as sy taalkeuse spreek vanself. Dit verbaas nie dat sy afsterwe deur politici van die linker- tot die regtervleuel betreur en met woorde van lof en waardering begroet is nie.
Ek het Carel Boshoff nooit ontmoet nie. Die naaste wat ek daaraan gekom het, was toe hy en sy vrou, Anna, baie jare gelede by ‘n Voortrekkerkamp waarop ek en honderde ander kinders was ’n praatjie gegee het. Dit was onder die reuseboom waarna die woonbuurt Wonderboom in Pretoria genoem is. Wat hy gesê het, kan ek nie onthou nie. Wel dat hy vriendelik en energiek oorgekom het. Ek weet dat hy, soos Nio Smit, ‘n toegewyde sendeling was. Vir die werk wat hy in daardie verband gedoen het, het ek groot respek. Sy akademiese bydrae as sendingwetenskaplike aan Tuks ken ek nie regtig nie, maar as student is ek geraak deur ‘n boekie wat voortgevloei het uit een van sy studente, Attie van Niekerk, se proefskrif, met die mooii titel Dominee, are you listening to the drums?. Met sy politiek het ek altyd skerp verskil, sowel wat sy geloof in apartheid betref as oor die rol wat hy in die oorgangsjare as “behoudende” gespeel het, wat soms ingehou het dat hy die optrede van die destydse weermag en polisie goedgepraat het.
Uit bogenoemde mymerings sal dit egter duidelik wees dat hy, sonder om daarvan bewus te wees, ‘n merk op my lewe gelaat het. Dis waar, ja: Motho ke motho kan batho.
Blog oorspronklik geplaas op Gerrit Brand se LitNet blog, DinkNet.
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment