Keiser Konstantyn was met sy leër op pad om nog ’n vyand te verslaan toe hy in die hemelruim ’n kruis gewaar met daarby die woorde: “In hierdie teken sal jy oorwin.” So vertel Eusebius, die eerste kerkhistorikus.
Die gevolge vir die kerk was ingrypend. Nie net is die vervolging van Christene gestaak, en die Christelike geloof tot “toelaatbare godsdiens” verklaar, nie, maar Konstantyn het homself as Christen-keiser begin sien, met die verantwoordelikheid om die ortodokse leer te verdedig. Later sou invloedryke teoloë soos Augustinus, Aquinas en die Hervormers dit vanselfsprekend ag dat die owerheid kettery moet bestry.
Waar die keiserryk sedert die Nuwe Testamentiese era as onder meer “antichris” (1 Joh. 2:22), “dier” (Op. 13:1), “draak” (Op. 13:2) en “dronk … van die bloed van die gelowiges” (Op. 17:6) voorgestel is, en keiserlike titels soos “Here”, “Seun van God” en “Koning” astrant deur Christene toegeken is aan die een “wat gely het onder Pontius Pilatus”, is die keiser nou in die Oosterse kerk as heilige vereer en in die Weste “Konstantyn die Grote” gedoop.
Dis slegs teen hierdie agtergrond dat die Kruistogte, die Godsdiensoorloë in Europa en die kolonisering van Latyns-Amerika en Afrika in die naam van Christenskap verklaar kan word. Ook die gewelddadige onderdrukking van protes teen apartheid is as verdediging van die Christelike beskawing teen die goddelose kommunisme regverdig. (Die SA kapelaansdiens se leuse was dan ook “in hoc signo vinces”, “in hierdie teken sal jy oorwin”.) George W. Bush het dieselfde taal gepraat, en wanneer ons in SA kerkleiers hoor sê dat God “aan die kant van die ANC” is, is die wysie bekend.
Daarom is dit met verbystering dat ek onlangs ’n artikel van die teoloog John Milbanklees waarin hy ’n lansie vir die “Konstantinisme” breek. Hy distansieer hom van die “post-Konstantinisme” van pasifistiese teoloë soos John Howard Yoder en Stanley Hauerwas. (’n Mens sou ook Isaiah Shembe, Martin Luther King jr., Albert Luthuli en Desmond Tutu kan noem.) Vir die kerk om aan te dring op geweldloosheid en “krag deur swakheid”, sê Milbank, is onverantwoordelik, want wat as die “vrederyk” wat die kerk wil wees self in gedrang is? Moet die kerk sy eie ondergang aanvaar?
Die voorveronderstelling hierby is dat die kerk nie net (soms) baat kan vind by ’n simpatieke owerheid nie, maar dat só ’n owerheid ’n noodsaaklike voorwaarde vir die kerk se voortbestaan is. Die kerk kan nie oorleef as die “beskawing” wat hom dra, vergaan nie.
Bestaan die kerk dan by grasie van wêreldse maghebbers? Luister na Psalm 33: “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.” En Jesaja 7:9: “julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”
Was Jesus “strategies naïef” of “onverantwoordelik” deur tot aan die kruis slegs op sy Vader te vertrou vir sy behoud en sy volgelinge te beveel om dit ook te doen? Toon die opstanding nie dat God regeer, ook wanneer die keiser skynbaar triomfeer, nie? Het Israel in die woestyn, die Jode in ballingskap en die vroeë kerk in die drie eeue voor Konstantyn nie in magteloosheid stand gehou nie?
Die Belydenis van Belhar sê mos: “Ons glo in die drie-enige God … wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.”
Ek dink die Here hét met Konstantyn gepraat: “In hierdie teken …”, in die kruis … Die keiser het gehoor, maar nie verstaan nie.
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment