Die idee van hibriditeit, oftewel gebasterdheid, kan, ten spyte van sy geskiedenis van minderwaardigheid en vernedering, ‘n nuttige kategorie wees vir die soeke na vreedsame en regverdige saambestaan in pluralistiese samelewings soos Suid-Afrika.
Hibriditeit was veral op biologiese terrein gebruik om te verwys na die vermenging van plant- en diersoorte. Hierdie begrip dui egter ook op die biologiese en genetiese vermenging van verskillende etniese groeperinge in die sogenaamde mense-ras. Jare gelede het juis ‘n heerlike debat in Suid-Afrika geheers toe die Suid-Afrkiaanse historikus, kollega Hans Heese, aangetoon het dat die idee van ‘n suiwer ras eenvoudig ‘n mite is. Hy het oortuigend aangetoon dat alle rasse of etniese groeperinge verskillende vlakke van hibriditeit toon.
Meer en meer sosiale wetenskaplikes gebruik die begrip hibriditeit om die verskillende verhoudinge waarin mense staan te omskryf. Hibriditeit verwys in hierdie verband na die meng – let wel nie vermenging wat uniekheid laat verdwyn nie – van verskillende mense in allerlei soorte verhoudinge. Dit dui op die meng en interaksie van mense van verskillende agtergronde, ouderdomsgroepe, vlakke van gestremdheid, tale, kulture, etnisiteite, nasionaliteite, genders, godsdienste en dies meer. Hibriditeit dui aan dat hierdie verskeidenheid van mense met mekaar kontak het, dat hulle naby mekaar kom, dat hulle in mekaar se lewenswerklikhede deel, dat hulle mekaar leer ken, dat hulle nie op ‘n afstand van mekaar leef nie, maar dat hulle uitreik na mekaar.
Hierdie meng met mekaar, hierdie kontak met mekaar, bring mee dat mense in mekaar se velle begin leef. Hibriditeit beteken nie ons gee ons partikulariteit prys nie. Hierdie meng met mekaar help egter wel dat ons mekaar se emosies, vrese, denke en strewes leer ken, verstaan en selfs deel. Hieruit word duidelik dat hibriditeit implikasies het vir hoe ons met mekaar leef. Hibriditeit het etiese implikasies.
Dit is juis hierdie etiese funksie van hibriditeit wat ons kan help. Hibriditeit beteken byvoorbeeld dat ek vanweë my kontak en saambestaan met my landgenote van ander etniese groeperinge nie meer net na die werklikheid kan kyk as ‘n sogenaamde bruinmens nie. My tere meng met my swart, wit en Indiër-vriende bring mee dat ek uitdagings probeer omskryf, nie net met ‘n bruin bril op nie, maar ook met ‘n swart, wit en Indiër-bril. Ek is steeds etnies sogenaamd bruin, maar ek is tegelyk veel meer as dit.
Ek is ‘n Suid-Afrikaners, maar my omgang met ander nasionaliteite maak my tegelyk meer as net ‘n Suid-Afrikaner. Vanweë my omgang met mense van ander nasionaliteite probeer pak ek die uitdagings van Afrika en die res van die wêreld aan as iemand wat ook ‘n Afrikaan is, sowel as ‘n wêreldburger.
Ek is ‘n lid van die manlike geslag, maar vanweë my deel in vroue se uitdagings, probeer kyk ek na werklikhede ook deur ‘n vrou se bril. Ek is heteroseksueel, maar vanweë my kontak met homoseksuele mense probeer kyk ek ook na die wêreld deur die bril van homosekuele mense.
Hibriditeit help ons voorts om die kompleksiteit van die lewe en van lewens- en geloofsvrae in te sien. Dit help ons om met dubbelslagtigheid en met paradoksaliteit, d.i. met skynbare teenstrydighede, te leef. Hibriditeit, die meng met die ander, die blootstelling aan die ander, die saam-dink met die ander, help ons om in komplekse situasies lewenskeuses te maak wat die gevare van sowel onverskillige relativisme as vernietigende absolutisme vermy.
Só beskou wil mens mos graag ‘n hibried wees!
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment