Nog voor die kruisiging

In die eerste eeue van sy bestaan het die kerk diep nagedink oor wié Jesus is, wát met hom gebeur het en dát dit “vir ons en ons verlossing” was. Minder is gesê oor hóé dit is dat hierdie gebeure ons redding bewerk. Eers in die elfde eeu het besinning oor die “logika” van die versoening sterk op die voorgrond getree.

Kan dit wees dat wat deur Middeleeuse teoloë, en later deur die Hervormers, uitgespel is – dat Jesus “vir ons” of “in ons plek” gesterf het – vir die vroeë kerk vanselfsprekend was, oorbodig om te verduidelik? Bybelse verwysings na Christus as plaasvervanger was immers alombekend. Maar waarom sou wat vir vroeë Christene glashelder was dan later (nogal in ’n “Christelike samelewing”) minder verstaanbaar word, ’n verwarrende knoop wat om ontrafelling vra? En hoekom sou die vrae wat die versoeningsleer vir latere Christene opgeroep het – soos of een mens ’n ander se skuld kan dra – nie die vroeë Christene gepla het nie?

Deel van die antwoord is dat die kruisgebeure hoe langer hoe meer van die res van Jesus se lewensloop losgedink is, met laasgenoemde bloot die aanloop tot eersgenoemde. Op die vraag “Hoekom het God mens geword?” (die titel van ’n beroemde Middeleeuse traktaat) was die antwoord: om aan die kruis vir ons te sterf.

In die vroeë kerk, daarenteen, is die menswording self as ’n reddingsdaad beskou. In die dispuut oor of Christus voluit mens was (ja, nie net sy Goddelikheid is betwyfel nie!), het Gregorius van Nazianze die logika uitgespel: “Wat nie aangeneem is nie, is nie genees nie.” So asof God die menslike natuur geheel het bloot deur dit “aan te neem”.

In die antieke denke was “menslikheid” nie iets abstraks nie, maar byna ’n “ding” – iets wat los van individuele mense bestaan en waaraan elke individu deel het. Grafies kan dit voorgestel word as één poel waarin alle mense dryf. Nou ja, deur in daardie “poel” te “duik”, het Christus dit verander, geheilig, selfs (in die taal van die Oosterse kerk) “vergoddelik”. Voortaan bestaan menslikheid nie los van Goddelikheid nie. In hul nadenke oor wié Jesus is, het die vroeë Christene dus tog die hóé van sy heilswerk in gedagte gehad.

Ons dink nie meer só oor “menslikheid” nie. Kyk ons dalk iets mis? Vergeet ons te maklik dat mense met mekaar verstrengel, op mekaar aangewese, vir mekaar verantwoordelik is – dat wat met jóú gebeur mý ook raak en omgekeerd? Selfs dat (in ubuntu-logika) ek nie net deur my voorouers nie, maar hulle ook deur my, beïnvloed word?

Wat van Jesus se lewe? Daarin, bely ons, het ons met God self te doen, maar ook met die mens soos dié eintlik moet wees. God self kom wys dat Hy aan ons toegewy bly, al geld die omgekeerde nie. Net om dit te weet verander reeds ons verhouding met God. Daar sit ’n oordeelsmoment in (“Ek verdien dit nie, Here!”), maar dis ’n bevrydende oordeel wat ommekeer moontlik maak. Jesus se bevrydende, genesende dade (sy “wonders”), en die nuwe gemeenskap wat Hy plant, gee ons ’n uitsig op die nuwe skepping. Dit wek verwondering, blydskap, hoop.

Dus: reeds voor sy kruisdood het die Here sy reddingswerk begin deur op die aller intiemste manier met ons te identifiseer, ons gebroke menslikheid te dra, dit vir Hom aan te trek, en sonder kwalifikasie vir ons te lééf.

En die kruis dan? Dis onder meer die dieptepunt van God se menswording, die onvermydelike gevolg van sy vrye besluit om Hom “soos ’n skaap tussen wolwe” te begeef, die prys van sy volgehoue liefde vir sy vyande – ’n prys wat Hy bereid was om te betaal.

Dis mos wat die opstanding wil sê: “’n menselewe deur God geteken”*.

(* Die titel van ’n boek deur Wiel Logister.)

* Klik hier vir Gerrit se blog, DinkNet.

avatar

Oor | About Gerrit Brand

Gerrit is senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch, en die skrywer van verskeie vakkundige en populêre artikels asook die monografie Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. Sy blog, DinkNet, kan op die aanlyn joernaal LitNet gelees word. Verder skryf hy rubrieke vir die Kerkbode, die Maandblad Zuid-Afrika en Streven. Hy is getroud met Lucia, en hulle het twee seuns, Simon en Arend. Hulle woon in Stellenbosch. || Gerrit is senior lecturer in systematic theology at Stellenbosch University, en the author of several academic and popular articles, as well as the monograph Speaking of a Fabulous Ghost – In Search of Theological Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology. His blog, DinkNet, can be read on the online journal LitNet. He also writes columns for Kerkbode, Maandblad Zuid-Afrika and Streven. He is married to Lucia, and they have two sons, Simon and Arend. They live in Stellenbosch.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Print
  • Digg
  • del.icio.us
  • Facebook
  • Google Bookmarks
  • Add to favorites
  • LinkedIn
  • MySpace
  • NewsVine
  • PDF
  • Reddit
  • StumbleUpon
  • Technorati
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>