Talle mense is al hoe meer besorgd dat ‘n kultuur van middelmatigheid oor ons land spoel en dat dit ons mooi drome vir ons land in nagmerries laat verander.
Ons kollektiewe droom vir Suid-Afrika is vervat in die Handves van Menseregte van die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996. Suid-Afrikaners van verskillende politieke oriënterings, en van ‘n verskeidenheid van godsdienstige en sekulêre tradisies deel die visie van ‘n samelewing van menswaardigheid. Die boustene van menswaardigheid is onder meer gelykwaardigheid en vryheid, geregtigheid en aequitas. Laasgenoemde bousteen verwys na die regstelling van klowe tussen ryk en arm en die bou van ‘n samelewing met hoër vlakke van ekwilibrium.
Die realisering van hierdie nuwe samelewing word belemmer deur die prysgawe van morele uitnemendheid en die aanvaarding van morele middelmatigheid. Ons verdra derhalwe euwels soos aggressie en geweld, apatie en onverantwoordelikheid, gierigheid en korrupsie, selfsug en die vergrype aan mense se liggamme.
Ons gee uitnemendheid prys en kies vir ‘n middelmatige werksetiek. Hierdie middelmatige werksetiek word gereflekteer in die ontoereikende dienslewering op terreine soos gesondheid en onderwys, asook in die gebrekkige dienslewering van ‘n beduidende getal plaaslike owerhede. In die apartheidsjare wou ons as jongemnse op die platteland graag die pragtige openbare tuine van die midde-dorp besoek, maar dit was ons weens die politiek van die dag nie beskore nie. Noudat ons almal die openbare tuine mag geniet, het sovele van hulle in wildernisse verander. Natuurlik is ‘n swak werksetiek nie al rede vir swak dienslewering nie, maar dis beslis een van die kernoorsake daarvan.
Die verval in middelmatigheid word ook op die terrein van die burgerlike samelewing gesien. Om ons drome waar te maak van ‘n demokratiese Suid-Afrika waar almal ‘n lewe van menswaardigheid geniet, en waar ontfermende geregtigheid ook teenoor die natuurlike omgewing beoefen word, het ons ‘n uitmuntende burgerlike samelewing nodig. Godsdienstige gemeenskappe is, sosiologies gesproke, een van die talle instansies van die burgerlike samelewing.
Ons het burgers nodig wat die visie van ‘n nuwe samelewing wakker hou; wat op moedige wyse die verraad teenoor daardie visie ontmasker en kritiseer; wat die verhale vertel van mense se leed en pyn, maar ook van hoop en vreugde; wat die harde werk doen van goeie tersaaklike tegniese ontledings van openbare vraagstukke; en wat deelneem aan openbare debatte, die vorming van die openbare mening en die formulering, implementering en monitering van openbare beleid.
In ‘n boekie getiteld Resurrecting excellence pleit die Amerikaanse teoloë L. Gregory Jones en Kevin Armstrong, vir ‘n lewe van uitnemendheid. Hulle waarsku teen ‘n strewe na uitnemendheid wat ‘n kultuur van angs, destruktiewe kompetisie en die najaag van eiebelang aanmoedig. Hulle meen egter dat mense se verbintenis aan die realisering van gemeenskaplike doelwitte, ruimte bied vir daardie soort uitnemendheid wat individue en samelewings ten goede kom.
Die titel van die boekie het ‘n opsetlike dubbelsinnigheid. Uitmuntendheid is iets wat nuut opgewek moet word. Uitnemendheid wek egter ook mense op en spoor ons aan tot hoër hoogtes in belang van die verwesenliking van die mooi visie wat ons aanhang.
As Suid-Afrikaners het ons ‘n sterk behoefte aan die opwek van uitnemendheid. Dit is egter ook belangrik dat ons ons roepinge op alle terreine van ons samelewing met uitnemendheid vervul, ‘n uitnemendheid wat die mense rondom ons opwek tot die goeie.
Hierdie take is nie onhaalbaar vir miljoene mense wat Sondag na Sondag die opwekking van Jesus Christus vier nie, daardie opwekking wat mense opwek tot opwekkende uitmuntendheid.
Nico Koopman is professor in Sistematiese Teologie, en dekaan van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch

Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
Lewer Kommentaar | Leave a Comment