Middelmatigheid maak van ons drome nagmerries

Talle mense is al hoe meer besorgd dat ‘n kultuur van middelmatigheid oor ons land spoel en dat dit ons mooi drome vir ons land in nagmerries laat verander.

Ons kollektiewe droom vir Suid-Afrika is vervat in die Handves van Menseregte van die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996. Suid-Afrikaners van verskillende politieke oriënterings, en van ‘n verskeidenheid van godsdienstige en sekulêre tradisies deel die visie van ‘n samelewing van menswaardigheid. Die boustene van menswaardigheid is onder meer gelykwaardigheid en vryheid, geregtigheid en aequitas. Laasgenoemde bousteen verwys na die regstelling van klowe tussen ryk en arm en die bou van ‘n samelewing met hoër vlakke van ekwilibrium.

Die realisering van hierdie nuwe samelewing word belemmer deur die prysgawe van morele uitnemendheid en die aanvaarding van morele middelmatigheid. Ons verdra derhalwe euwels soos aggressie en geweld, apatie en onverantwoordelikheid, gierigheid en korrupsie, selfsug en die vergrype aan mense se liggamme.

Ons gee uitnemendheid prys en kies vir ‘n middelmatige werksetiek. Hierdie middelmatige werksetiek word gereflekteer in die ontoereikende dienslewering op terreine soos gesondheid en onderwys, asook in die gebrekkige dienslewering van ‘n beduidende getal plaaslike owerhede. In die apartheidsjare wou ons as jongemnse op die platteland graag die pragtige openbare tuine van die midde-dorp besoek, maar dit was ons weens die politiek van die dag nie beskore nie. Noudat ons almal die openbare tuine mag geniet, het sovele van hulle in wildernisse verander. Natuurlik is ‘n swak werksetiek nie al rede vir swak dienslewering nie, maar dis beslis een van die kernoorsake daarvan.

Die verval in middelmatigheid word ook op die terrein van die burgerlike samelewing gesien. Om ons drome waar te maak van ‘n demokratiese Suid-Afrika waar almal ‘n lewe van menswaardigheid geniet, en waar ontfermende geregtigheid ook teenoor die natuurlike omgewing beoefen word, het ons ‘n uitmuntende burgerlike samelewing nodig. Godsdienstige gemeenskappe is, sosiologies gesproke, een van die talle instansies van die burgerlike samelewing.

Ons het burgers nodig wat die visie van ‘n nuwe samelewing wakker hou; wat op moedige wyse die verraad teenoor daardie visie ontmasker en kritiseer; wat die verhale vertel van mense se leed en pyn, maar ook van hoop en vreugde; wat die harde werk doen van goeie tersaaklike tegniese ontledings van openbare vraagstukke; en wat deelneem aan openbare debatte, die vorming van die openbare mening en die formulering, implementering en monitering van openbare beleid.

In ‘n boekie getiteld Resurrecting excellence pleit die Amerikaanse teoloë L. Gregory Jones en Kevin Armstrong, vir ‘n lewe van uitnemendheid. Hulle waarsku teen ‘n strewe na uitnemendheid wat ‘n kultuur van angs, destruktiewe kompetisie en die najaag van eiebelang aanmoedig. Hulle meen egter dat mense se verbintenis aan die realisering van gemeenskaplike doelwitte, ruimte bied vir daardie soort uitnemendheid wat individue en samelewings ten goede kom.

Die titel van die boekie het ‘n opsetlike dubbelsinnigheid. Uitmuntendheid is iets wat nuut opgewek moet word. Uitnemendheid wek egter ook mense op en spoor ons aan tot hoër hoogtes in belang van die verwesenliking van die mooi visie wat ons aanhang.

As Suid-Afrikaners het ons ‘n sterk behoefte aan die opwek van uitnemendheid. Dit is egter ook belangrik dat ons ons roepinge op alle terreine van ons samelewing met uitnemendheid vervul, ‘n uitnemendheid wat die mense rondom ons opwek tot die goeie.

Hierdie take is nie onhaalbaar vir miljoene mense wat Sondag na Sondag die opwekking van Jesus Christus vier nie, daardie opwekking wat mense opwek tot opwekkende uitmuntendheid.

Nico Koopman is professor in Sistematiese Teologie, en dekaan van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch

avatar

Oor | About Nico Koopman

Nico Norman Koopman was born in Niekerkshoop in the Northern Cape. He attended school in Koegasbrug, Lime Acres and Kimberley. His academic qualifications were conferred by the University of the Western Cape. During his doctoral studies he spent two study periods at the Free University in Amsterdam. He served as pastor of the Uniting Reformed Church in Atlantis, as student chaplain at the University of the Western Cape, the former Peninsula Technikon and Bellville College of Education, and as lecturer in Theology and vice-rector of the Huguenot College in Wellington. He was appointed as senior lecturer in Systematic Theology at Stellenbosch University in 2001, where he was promoted to associate professor in 2004 and full professor in 2007. Since 2002 he also serves as Director of the Beyers Naudé Centre for Public Theology. He is currently the Dean of the Theology Faculty at Stellenbosch University.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Print
  • Digg
  • del.icio.us
  • Facebook
  • Google Bookmarks
  • Add to favorites
  • LinkedIn
  • MySpace
  • NewsVine
  • PDF
  • Reddit
  • StumbleUpon
  • Technorati
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>