In Stellenbosch, waar ek woon, is ’n Lutherse pastor, nog skaars ’n jaar uit Duitsland, wat nie net goed Engels praat (soos deesdae die meeste jong Europeërs geld) nie, maar ook uitstekende Afrikaans. Aan die teologiese fakulteit waar ek self werk, is ook ’n doktorale student uit Nederland wat Afrikaans byna foutloos praat. ’n Landgenoot van haar, ’n teoloog, bring ook heelwat tyd in ons dorp deur en beheers Afrikaans met gemak. Ek sou nog talle voorbeelde kan noem – ook van Europeërs en ander buitelanders wat ander Afrikatale as Afrikaans bemeester het en gebruik.
Daarteenoor ken ek ook baie buitelanders, selfs Nederlanders en Vlaminge, wat al jare, selfs dekades, in Suid-Afrika woon – selfs in ’n oorwegend Afrikaanse gebied soos die Boland waar Stellenbosch geleë is – maar nie ’n woord Afrikaans – of enige ander SA taal – kan praat nie. My vriendin die Lutherse pastor spreek onlangs haar verwondering hieroor teenoor my uit, en suggereer dat ’n openbare gesprek oor hierdie verskynsel dalk nodig is. Hoekom leer sommige buitelanders in SA graag Afrikaans of ander plaaslike tale, terwyl andere glad nie belang stel nie?
Toe ek hieroor begin nadink, besef ek dat ek tydens my en my gesin se verblyf in Nederland, wat byna vyf jaar geduur het, oor dieselfde ding gewonder het. Vir ons was dit voor die hand liggend dat ons Nederlands sou leer. Vir Afrikaanssprekendes is dit immers maklik, gesien die noue verwantskap en grootliks identiese woordeskat van die twee tale. Selfs wat totaal vreemde tale – sê maar Russies of Spaans – betref, lyk dit vir my logies dat ek die taal van ’n land waar ek lank vertoef, sal wil leer. En as die taal van die ander land so naby aan Afrikaans “soos dêmmit aan ’n vloekwoord” is (om ’n Afrikaanse sê-ding te gebruik), dan des te meer.
Om ’n nuwe taal te leer, is immers nie ’n las of ’n straf nie; dis ’n geleentheid om jou leefwêreld en ervaring te verruim – ’n ander kultuur jou eie te maak, in nuwe begrippe te kan dink, toegang tot meer boeke, films en media te kry as wat jy andersins sou kon, iets van jou ongebruikte self (Hennie Aucamp) te aktiveer en op ’n veel intiemer en intenser manier as wat andersins moontlik sou wees met die sprekers van daardie taal te kommunikeer. Soos Nelson Mandela dit gestel (en dikwels prakties geïllustreer) het: “As jy met ’n mens in sy tweede taal praat, praat jy met sy kop, maar as jy in sy moedertaal met hom praat, praat jy met sy hart.” Die spreekwoord “Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man” is nie sonder rede in Afrikaans en Nederlands bekend nie.
En tog is daar mense vir wie die aanleer van ’n nuwe taal, selfs as hulle in die land tuisgaan waar daardie taal dominant is, geen aantrekkingskrag inhou nie – of in elk geval nie soveel aantrekkingskrag dat hulle bereid is om die poging aan te wend nie. Dit was die geval met heelparty Suid-Afrikaners en ander buitelanders wat ek in Nederland leer ken het, en ek het dikwels gewonder: Hoe is dit moontlik?
Meer as een Suid-Afrikaner het dit soos volg aan my verduidelik: Suid-Afrikaners se Engels is oor die algemeen baie beter as Nederlanders s’n. As ’n mens Engels met Nederlanders praat, het jy dus die upper hand, ’n voorsprong. As jy egter Nederlands praat, is dit jy wat oor jou woorde struikel en jou swak uitdruk, en kan Nederlanders oor jou loop.
Dis seker een manier om daarna te kyk! Maar gaan ’n mens se lewe in ’n vreemde land dan daaroor om met die plaaslike inwoners ’n stoeigeveg aan te gaan? Buitendien is ek nie so seker dat die gebruik van Engels – ook as jy dit beter as die locals praat – ’n mens noodwendig ’n kompetitiewe voorsprong gee nie. Toe ek my proefskrif in Nederland moes verdedig, het my promotore my aangeraai om dit in Nederlands, eerder as Engels of Afrikaans, te doen (al was laasgenoemde volgens die reëls toelaatbaar), omdat dit gewoon ’n beter indruk sou skep – ook al was (en bly) my Nederlands baie gebrekkig en vol foute. Wys dit dan nie juis ’n mens se “superioriteit” (as superioriteit is waarna jy streef – wat ek maar raar vind) as jy, benewens jou eie taal, ook nog die “opponent” se taal kan gebruik nie?
’n Nou verwante oorweging is die blote feit dat mense bang is om ’n gek van hulself te maak. Dit is natuurlik so dat sommige mense jou vreemd aankyk, jou nie verstaan nie of selfs vir jou lag as jy hul taal gebrekkig praat – een Nederlandse vrou het selfs aan my en my vrou bely dat sy aanvanklik gedink het ons is verstandelik gestrem! – maar is dit nou genoeg rede om jouself die verryking van ’n nuwe taal te ontneem? Moet ’n mens se ego só swaar weeg?

Dieselfde geld ’n ervaring wat baie Afrikaanssprekendes met Nederlands het: die feit dat hulle ietwat belaglik voel wanneer hulle probeer om Nederlands verstaanbaar vir Nederlanders uit te spreek – byna asof hulle oordrewe moet praat, asof hulle ’n grap probeer maak. Het sommige Nederlandstaliges dalk dieselfde gevoel teenoor die “kindertaaltje” Afrikaans (soos sommiges dit ervaar) – dat dit simpel voel om só te praat? Nou ja, soos die Suid-Afrikaanse teoloog Douglas Lawrie ’n keer op ’n kongres oor menswaardigheid (“human dignity”) gesê het: om daarna te streef om “undignified” te wees is ’n “waardiger” doelwit as om vir “dignity” te mik.
Trots speel op nog ’n manier ’n rol. In ’n wêreld waar Engels oorheersend is, is daar ’n sekere status aan verbonde om dit goed te kan praat. In SA is dit beslis so. Die vrees dat iemand kan dink, omdat jy jou moedertaal gebruik, dat jy nie Engels kán praat nie is vir baie van my landgenote omtrent net so erg soos (of kom dalk op dieselfde neer as) om van domheid verdink te word. Let maar op: Afrikaanssprekendes en sprekers van die ander Afrikatale lyk meestal sommer ekstra selfingenome wanneer hulle besig is om hul Engels ten toon te stel. Hulle dryf dan ook graag self die spot met “agterlikes” uit hul eie taalgroep wat nie die Rooitaal met grasie kan gebruik nie. Die feit dat hulle dikwels in die proses die vermoë verloor om hul eie taal keurig en kragtig te gebruik, kan hulle nie skeel nie. Inteendeel, selfs dít dien vir sommiges as ’n statussimbool.
Iets soortgelyks het ek ook wel onder Nederlanders teëgekom: dat baie van hulle dit darem net té lekker vind om te wys hoe goed hulle Engels kan praat. Om in SA te wees, waar Engels as lingua franca van die middelklas en boontoe funksioneer, is dan ’n uitstekende geleentheid om te pronk!
Een ding wat gedreig het om in die weg te staan van my en my vrou se poging om Nederlands te leer, was ook dat Nederlanders veels te gretig is om na Engels oor te slaan wanneer hulle agterkom Nederlands is nie jou moedertaal nie. Ons het aanvanklik maar Afrikaans gebruik en mettertyd het ons die Afrikaans wat ons met Nederlanders gepraat het so omgebuig dat dit uiteindelik meer soos Nederlands as soos Afrikaans geklink het. (Dit het meer as ’n jaar se uitspraakoefening gekos voordat Nederlanders die naam van die straat waar ons gewoon het, Keukenstraat, kon uitmaak wanneer ons dit gesê het!) Maar glo my, dit was ’n opdraande-stryd met die Nederlanders wat alewig wou Engels praat. Toegegee, die motivering by sulke Nederlanders was nie altyd om hul Engelsvaardigheid ten toon te stel nie, maar was dikwels ook gewoon ’n misplaaste poging om buigsaam en hulpvaardig te wees.
Omgekeerd merk ek dieselfde gewoonte in SA op: Afrikaanssprekendes wat outomaties begin Engels praat wanneer hulle met ’n Nederlandstalige of ander buitelander te doen het. Dis dalk ook ’n rede hoekom buitelanders soms sukkel om Afrikaans te leer. (Dis my indruk dat Vlaminge oor die algemeen minder huiwerig as Nederlanders en Afrikaanses is om hul moedertaal teenoor anderstaliges te praat – en mens ook minder vreemd aankyk wanneer jy as anderstalige hul taal probeer praat.)
Wat die saak vererger, is dat by sommige mense ’n sekere stigma aan Afrikaans kleef. Was Afrikaans dan nie die taal van apartheid, die onderdrukkerstaal, nie? Is Afrikaans nie in anderstaliges se keel afgedruk nie? Logies en feitelik is hierdie gedagte – wat meer onder middelklas-Suid-Afrikaners as onder die meerderheid nie-Afrikaanssprekendes voorkom – natuurlik onsin. Dit misken die feit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie en slagoffers, eerder as toepassers, van apartheid was, asook die feit dat Engels in die SA geskiedenis ewe veel, selfs meer, as Afrikaans bevoordeel en op mense (ook Afrikaanse mense) afgeforseer is – en steeds word. Hoe kan ’n taal (in teenstelling tot sommige mense wat dit praat) in elk geval sleg of skuldig wees? Dis tog onsin!
Wanneer dit by taalhoudings kom, weeg persepsies en aannames, hoe absurd dan ook, egter swaarder as feite, en in die geval van Afrikaans word sulke vooroordele dikwels aan besoekende buitelanders oorgedra – soms meer, en soms minder, subtiel. Die persentasie mense van enige land of taal wat selfstandig en teen die stroom in kan dink en handel, is nou maar eenmaal klein.
En dan is daar natuurlik doodgewone slegtigheid. Ek self het in Pretoria grootgeword, maar nooit Noord-Sotho behoorlik geleer nie …
Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
3 Kommnetaar vir So min tale as jy kan? | 3 Responses to So min tale as jy kan?
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
Dankie vir ‘n baie insiggewende artikel! Ek dink ‘n mens moet trots wees op jou moedertaal – ongelukkig/gelukkig is Engels die taal waarin die meeste mense met mekaar kommunikeer. Ek sal graag Duits wil leer, omdat daar soveel goeie teologiese boeke in Duits geskryf is, veral van die Duitse teoloë en dis net nie dieselfde om dit in Engels te lees nie. Dit is asof daar iets van die oorspronklikheid en essensie van dit wat die skrywer bedoel het, die oomblik wanneer dit vertaal word, verlore gaan.
Inderdaad! Maar dit gaan nie net oor die fyner nuanses en meer presiese uitdrukking nie (hoewel dit beslis daaroor gaan). Dit gaan ook oor die eenvoudige feit dat soveel goeie boeke gewoon nie in Engels beskikbaar is nie. Ek sit byvoorbeeld met twee uitstekende Duitse boeke, een oor Christologie en een oor eskatologie, wat ek bitter graag as handboeke sou wil gebruik, maar nie kan nie. Daar is natuurlik ook baie goeie Afrikaanse boeke, soos Willie Jonker en Jaap Durand se dogmatiekreeks, wat nie vir anderstaliges toeganklik is nie en daarom slegs in beperkte mate as handboeke gebruik kan word.
Almal kan nie alle tale lees nie, maar ons kan dalk meer doen om groter meertaligheid onder mekaar te vestig. Dr. Clint le Bruyns het byvoorbeeld op ‘n stadium ‘n Duits-leesgroep begin, waar mense wat Duits wil leer lees saam met ander wat wel Duits kan lees, tekste deurkyk. ‘n Mens kan dit verbasend vinnig leer. Hoekom nie so iets met Afrikaans ook doen nie? En met Xhosa.
Hoe lekker het ek nou gelag oor die Nederlander wat gedink het julle is verstandelik gestrem!