Wie is nie siek van al die geweld nie?

Sy is al so skoon siek van al die geweld, sê iemand verlede Vrydag, sy lees skaars nog koerant. Waarop ek haar moes waarsku om tog nie die volgende môre dié rubriek te lees nie, omdat dit haar net sieker sou maak, dié stories oor wanhoop. Maar wie voel nie óók so nie – siek, sat, móég vir berigte oor misdaad, aanranding, moord?

Vir seker, ons lewe in ’n kultuur vól geweld. Dis onnodig om dié stories nog te vertel. Direkte geweld. Fisieke geweld. Erge geweld. Dis net politici wat dit nog kan wil ontken, g’n enkele ander is nié siek en sat van dié alledaagse geweld oraloor en rondom nie. Dis g’n normale samelewing in enige sin van die woord nie. Só tree mense met selfrespek en respek vir ander tog nie op nie? Só hoef mense beslis nie in tronke opgesluit te leef in ’n normale gemeenskap nie – sowel régte tronke as huise, buurte en strate wat vóél soos tronke? Daar is eenvoudig te veel van ons in tronke. Dis om van siek te wees.

Maar dis nóg erger. Want ónder ons kultuur vol geweld skuil ’n kultuur ván geweld, sê geleerdes. Onder die direkte skuil indirekte geweld – strukture, sisteme – wat mense op hul plek hou, hul lewe verswaar en almal bedreig wat dit waag om uit te breek. Sonder dat iemand ’n hand teen hulle oplig, het talle byna geen kans op geluk, toekoms, lewe nie – dink maar in dié dae aan vele vroue. Van die wieg af bestem vir swaarkry. Slagoffers van benadeling waarin hulle gebore word, sonder wil of vra. Vir vele is die lewe sélf ’n tronk.

Maar dis nóg erger. Want onder ons kulture ván geweld, sê die konflikkenner Johan Galtung, skuil kulturéle geweld. Ingegrein in ons oortuigings, maniere van dink, praat, gló. Ons word so grootgemaak, dink dis reg, hóórt so, kan nie anders nie, móénie anders nie. Ons oortuigings, idees, menings regvérdig die ongelykhede – sodat ons die sistemiese geweld nie eens kan sien nie! Nooit dáároor skrik of (wil) praat nie. Alles normaal en reg vind. Selfs ons gode help dié wêreld goedpraat. Sommige is glo bestem vir onderdanigheid, swaarkry pas hulle. Waarvoor ons nooit sou kans sien nie, is vir hulle glo normaal. Nee, ons kulturele tradisies sélf kan gewelddadig wees, trónke.

Kultuur is g’n verskoning nie. Kultuur kort ook kritiek. Ons kla aldag oor die kultuur vól geweld, maar herken beswaarlik die kultuur ván geweld. Hoekom? Dalk omdat kulturele geweld dit in ons oë regverdig? Ja, ons is siek van geweld. Dalk selfs sieker as wat ons mag dink.

Lees meer | Read more

avatar

Oor | About Dirkie Smit

D. J. (Dirkie) Smit doseer sedert 2000 Christelike dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Voorheen was hy predikant en daarna vir bykans twintig jaar dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy was en bly steeds op verskeie maniere kerklik betrokke, ook in ekumeniese verband. Hy word dikwels genooi vir openbare optredes en skryf gereeld, sowel akademiese as populêre werk. Vyf en dertig doktorale studente het by hom gepromoveer en van sy nagraadse studente sou ongeveer dertig reeds self dosente word in talle lande, insluitende Namibië, Malawi, Zambië, Kenia, Ghana, Nigerië, Nederland, Korea en die VSA, in verskeie akademiese dissiplines. Hy is lid van nasionale en internasionale liggame, waar onder Navorsingsgenoot van die Humboldt Stigting, Navorsingsgenoot van die Center of Theological Inquiry in Princeton en Navorsingsgenoot van die Wissenschaftskolleg in Berlyn, inisieer ‘n navorsingsprojek aan STIAS, was assessor van evalueringspanele van die NNS, beoordelaar van die Templeton Prize for Theological Promise en tans die Manfred Lautenschlaeger Award for Theological Promise en dien op adviesrade en redaksies. Hy werk saam aan verskeie internasionale en inter-dissiplinêre navorsingsprojekte en konferensies en doseer tydens twee semesters as volle besoekende professor in sosiale etiek (Marburg 1992-1993; Heidelberg 2010-2011). Hy ontvang meerdere toekennings en pryse, asook twee huldigingsbundels van studente en kollegas (op 55 en 60 jaar). In 2008 ontvang hy die D.Phil (h.c) van Umea, Swed
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article

  • Print
  • Digg
  • del.icio.us
  • Facebook
  • Google Bookmarks
  • Add to favorites
  • LinkedIn
  • MySpace
  • NewsVine
  • PDF
  • Reddit
  • StumbleUpon
  • Technorati
  • Twitter

Soortgelyke Artikels | Related Posts

  • Geen Soortgelyke Artikels Gevind Nie | No Related Posts Found

2 Kommnetaar vir Wie is nie siek van al die geweld nie? | 2 Responses to Wie is nie siek van al die geweld nie?

  1. avatar Louis Jonker says:

    Wonderlike aanloop en konklusie! Dankie daarvoor. Die kerk, oftewel Christene, kan baie uit hierdie soort analise leer. Ja, geweld is boos en verwerplik, maar ons is self ook, hoe subtiel ook al, aandadig.

  2. avatar Jurgens Hendriks says:

    Ek dink Dirkie Smit se gedagtes oor geweld se vir ons dat ons dit nie kan ontvlug nie. Jy is nie in Nieu Seeland, Australie of Kanada in ‘n ander wereld nie. Die geweld sit in die DNA van die kultuur van ons wereld, in duisend en een variasies, dis geglobaliseer, dis ge-ekonomiseer … dis in alles. Jy is net op party plekke tydelik op ‘n sekere manier veiliger.
    Ek dink as ons Jesus wil volg, sal ons dit van voor af moet leer doen. Hy het die geweld opgesoek, hy is daarin gebore en het daarin gesterwe. Dit het bloedsweet gekos net om te volhard op die via Dolorosa. Maar Hy het dit nie vermy nie. Ons moet seker meer hieroor praat, of dalk meer luister, maar vrede op aarde is net moontlik as ons Hom volg. Volslae paradoks!

Lewer Kommentaar | Leave a Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>