Sy is al so skoon siek van al die geweld, sê iemand verlede Vrydag, sy lees skaars nog koerant. Waarop ek haar moes waarsku om tog nie die volgende môre dié rubriek te lees nie, omdat dit haar net sieker sou maak, dié stories oor wanhoop. Maar wie voel nie óók so nie – siek, sat, móég vir berigte oor misdaad, aanranding, moord?
Vir seker, ons lewe in ’n kultuur vól geweld. Dis onnodig om dié stories nog te vertel. Direkte geweld. Fisieke geweld. Erge geweld. Dis net politici wat dit nog kan wil ontken, g’n enkele ander is nié siek en sat van dié alledaagse geweld oraloor en rondom nie. Dis g’n normale samelewing in enige sin van die woord nie. Só tree mense met selfrespek en respek vir ander tog nie op nie? Só hoef mense beslis nie in tronke opgesluit te leef in ’n normale gemeenskap nie – sowel régte tronke as huise, buurte en strate wat vóél soos tronke? Daar is eenvoudig te veel van ons in tronke. Dis om van siek te wees.
Maar dis nóg erger. Want ónder ons kultuur vol geweld skuil ’n kultuur ván geweld, sê geleerdes. Onder die direkte skuil indirekte geweld – strukture, sisteme – wat mense op hul plek hou, hul lewe verswaar en almal bedreig wat dit waag om uit te breek. Sonder dat iemand ’n hand teen hulle oplig, het talle byna geen kans op geluk, toekoms, lewe nie – dink maar in dié dae aan vele vroue. Van die wieg af bestem vir swaarkry. Slagoffers van benadeling waarin hulle gebore word, sonder wil of vra. Vir vele is die lewe sélf ’n tronk.
Maar dis nóg erger. Want onder ons kulture ván geweld, sê die konflikkenner Johan Galtung, skuil kulturéle geweld. Ingegrein in ons oortuigings, maniere van dink, praat, gló. Ons word so grootgemaak, dink dis reg, hóórt so, kan nie anders nie, móénie anders nie. Ons oortuigings, idees, menings regvérdig die ongelykhede – sodat ons die sistemiese geweld nie eens kan sien nie! Nooit dáároor skrik of (wil) praat nie. Alles normaal en reg vind. Selfs ons gode help dié wêreld goedpraat. Sommige is glo bestem vir onderdanigheid, swaarkry pas hulle. Waarvoor ons nooit sou kans sien nie, is vir hulle glo normaal. Nee, ons kulturele tradisies sélf kan gewelddadig wees, trónke.
Kultuur is g’n verskoning nie. Kultuur kort ook kritiek. Ons kla aldag oor die kultuur vól geweld, maar herken beswaarlik die kultuur ván geweld. Hoekom? Dalk omdat kulturele geweld dit in ons oë regverdig? Ja, ons is siek van geweld. Dalk selfs sieker as wat ons mag dink.

Deel Ons Artikel | Share Our Article













Soortgelyke Artikels | Related Posts
2 Kommnetaar vir Wie is nie siek van al die geweld nie? | 2 Responses to Wie is nie siek van al die geweld nie?
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
Wonderlike aanloop en konklusie! Dankie daarvoor. Die kerk, oftewel Christene, kan baie uit hierdie soort analise leer. Ja, geweld is boos en verwerplik, maar ons is self ook, hoe subtiel ook al, aandadig.
Ek dink Dirkie Smit se gedagtes oor geweld se vir ons dat ons dit nie kan ontvlug nie. Jy is nie in Nieu Seeland, Australie of Kanada in ‘n ander wereld nie. Die geweld sit in die DNA van die kultuur van ons wereld, in duisend en een variasies, dis geglobaliseer, dis ge-ekonomiseer … dis in alles. Jy is net op party plekke tydelik op ‘n sekere manier veiliger.
Ek dink as ons Jesus wil volg, sal ons dit van voor af moet leer doen. Hy het die geweld opgesoek, hy is daarin gebore en het daarin gesterwe. Dit het bloedsweet gekos net om te volhard op die via Dolorosa. Maar Hy het dit nie vermy nie. Ons moet seker meer hieroor praat, of dalk meer luister, maar vrede op aarde is net moontlik as ons Hom volg. Volslae paradoks!